Om tydens die COVID-19-pandemie en landwye inperking ’n gesondheidspraktisyn te wees, is opsigself vreesaanjaend, maar om ná jou skof verby is, na jou kinders terug te gaan met die wete dat hulle moontlik kan siek word as jy die COVID-19-virus opgetel het, is nog erger.

Tsakani Ndlovu (29) vertel hoe sy haar kinders in dié moeilike tyd versorg.

Sy is ’n beroepsverpleegster en ma van vier – Nzdalama (6) en die 13 maande oue drieling Ntsakiso, Ntsako en Tiyiselani. Sy sê die pandemie het drastiese veranderinge in die huishouding meegebring en hulle nog meer versigtiger as voor die pandemie losgebreek het.

“Sielkundig is dit stresvol, veral die vrees om aan die virus blootgestel te word en die moontlikheid dat ek dit saam met my na my kinders kan huis toe neem.”

Sy sê hulle het strenger higiënemaatreëls ingestel om die kinders se veiligheid en gesondheid te verseker.

“Ons ontsmet die huis meer gereeld, die kinders se hande en voete word ook meer gereeld gewas. My kinders se speelgoed word ook deur die dag ontsmet.”

Tsakani is gelukkig genoeg om ’n inwonende oppasser en ’n ma te hê wat met die kleinspan help. Sy sê om hulle in die omtrek te hê, maak dinge veel makliker.

Al is dit skrikwekkend om daagliks te werk met mense wat aan die virus blootgestel is, sê Tsakani haar lewensmaat, familie en vriende is altyd beskikbaar en bereid om te luister wanneer sy moet praat of stoom afblaas.

Dit help ook dat haar drieling lighartige mensies is wat die hele tyd die huis op sy kop keer.

Dit laat die stres sommer smelt en laat haar lekker lag.

“Daar’s nooit ’n saai oomblik met dié drie nie. Hulle hou nooit op om my met hul drie verskillende persoonlikhede te verstom nie.”

Sy beveel ouers van meerlinge aan om te onthou om aan hulself ook aandag te gee.

“Jy maak saak. As jy siek is, kan jy nie jou kinders versorg nie. Dis help nie om jou kinders te versorg terwyl jy jou gesondheid afskeep nie.”

  • Tsakani Ndlovu se menings is haar eie en op geen wyse met dié van die departement van gesondheid verbind nie.