Amanda Knox het in 2007 opslae gemaak toe sy in he
Amanda Knox het in 2007 opslae gemaak toe sy in hegtenis geneem is vir die moord op haar Britse huismaat, Meredith Kercher, in Italië. Foto: Netflix

Dit was ’n flou einde van ’n tragiese verhaal. ’n Paar maande gelede – meer as 13 jaar nadat die moord op die Britse student Meredith Kercher in ’n Italiaanse stad wêreldwyd opslae gemaak het – is die enigste mens wat nog daaraan skuldig bevind is – Rudy Guede (34) – stil-stil uit die gevangenis vry­gelaat.

Sy oorspronklike vonnis is van 30 jaar tot 16 verminder, en nou, ná 13 jaar, is hy vry. Maar die reaksie op sy vrylating in Desember was verbasend. Trouens, weinig daarvan het enigsins op Guede gefokus.

“Moordenaar van Amanda Knox se kamermaat vry­gelaat vir gemeen­skapsdiens” het ’n opskrif in die New York Post gelui. Amanda, wat twee keer onskuldig bevind is aan die moord, was duidelik woedend.

“Sy naam is Rudy Guede. Haar naam is Meredith Kercher. Die een naam wat nie in die opskrif hoort nie, is myne,” het sy getwiet.

Ek was toe al ’n maand of twee met Amanda in verbinding terwyl ek navorsing gedoen het vir ’n misdaadreeks wat ek geskryf het. Die publiek se siening van haar het my ál meer verwar. Nie net omdat enige beriggewing oor die saak steeds op haar ge­fokus het nie; ook oor die mate waartoe sy steeds vir Meredith se moord blameer word.

Tipiese reaksies op haar twiets was “walglik” en “jy behoort jou te skaam”.

Ek het ’n bietjie van Amanda se saak geweet: dat dié Amerikaanse student en haar destydse Italiaanse kêrel, Raffaele Sollecito, in 2007 aan die moord op Meredith, haar Britse huismaat, in Perugia skuldig bevind is en onderskeidelik tot 26 en 25 tronkstraf gevonnis is.

Nadat hulle vier jaar agter tralies was, is hulle in 2011 ná ’n appèl vrygespreek. Sy is daarna terug Amerika toe, het ’n boek geskryf en in ’n Netflix-dokumentêr verskyn.

Amanda, wat 20 was en oorsee studeer het toe die moord gepleeg is, is nou 33. Sy het haar as ’n aktivis teen foutiewe skuldigbevinding herskep en bied ’n podsending oor misdaad aan.

’n Saak wat haar veral na aan die hart lê omdat dit oënskynlik ooreenkomste met haar eie toon, is dié van Jens Söring, wat sy meen verkeerdelik aan die moord in 1985 op Derek en Nancy Haysom in Virginië skuldig bevind is.

Maar anders as Amanda is Söring nooit onskuldig bevind nie. Baie mense meen geregtigheid het wel in dié saak geskied.

Vir die misdaadreeks waarmee ek besig was, het ek haar gevra om te skryf waarom sy anders daaroor dink, maar mense vir wie ek daarvan vertel het, se reaksie was dieselfde as dié op Twitter: skok, woede en afkeer.

Een het selfs laat hoor dit is soos om vir OJ Simpson vrye teuels te gee. Maar is dit regtig?

In Maart 2015, ná ’n rits geregtelike ommeswaaie, is Amanda en Raffaele eindelik deur Italië se hoogste hof van moord vrygespreek. In die uitspraak is die “verstommende foute” in die saak teen hulle beklemtoon, asook “ ’n volslae gebrek aan biologiese spore” wat hulle met die misdaad verbind. Maar as die howe dit erken, waarom is soveel mense onwillig om dit te doen?

Hoe meer ek met Amanda praat, hoe duideliker word dit dat die vraag haar ook baie pla.

“Ek dink baie daaroor,” skryf sy in ’n e-pos. “Mense glo skynbaar daar kan net een ware slagoffer wees. Daarom word my lyding gedurig met Meredith s’n vergelyk – deur ander, nie deur my nie. Ek hoor ek slaan munt uit Meredith se dood deur ’n loopbaan te hê wat enigsins met my ervarings verband hou. Dit is alles baie frustrerend.”

In ’n Zoom-oproep uit haar huis in Seattle sê sy vir my: “In ander se gedagtes bestaan ek net deur die lens van Meredith se moord. Hulle vergeet ek is ’n mens met my eie lewe en my eie ervarings, en ek het letterlik niks met Meredith se moord te doen gehad nie buiten dat ek toe haar kamermaat was.”

Dis veral kwetsend, sê sy, omdat haar berugtheid iemand anders toekom: Guede, ’n plaaslike swerwer wie se DNS en bloedige handafdruk op die moord­toneel gekry is. Hy is aan moord en seksuele aanranding skuldig bevind tydens ’n verhoor wat vinnig voor Amanda en Raffaele se hofsaak afgehandel is. Die probleem, sê Amanda, is die gebrek aan afsluiting oor die saak.

Ná 16 jaar agter tralies vir Meredith se moord is
Ná 16 jaar agter tralies vir Meredith se moord is Rudy Guede ver­lede Desember vrygelaat. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die finale regsoordeel in Meredith se saak is dat Rudy Guede, saam met ander steeds onbekendes aan die verkragting en moord skuldig was. Tot vandag wys mense daarop om Guede se skuld te versag en na my en Raffaele die vinger te wys.

“Hulle sê: ‘As dit nie Amanda en Raffaele was nie, wie was die ander medepligtiges dan? Wie het Meredith op die ou end vermoor?’ Terwyl al die ge­tuienis trouens daarop dui dat Guede die misdaad alleen gepleeg het.”

In sy boek Talking to Strangers van 2019 wy die skrywer Malcolm Gladwell ’n hoofstuk aan die saak.

“Meredith Kercher is deur Rudy Guede vermoor,” skryf hy. “Sy skuld is ’n uitgemaakte saak.”

Die rede waarom Amanda haar in die spervuur bevind het, voer Malcolm aan, is omdat die ondersoekers haar optrede voortdurend verkeerd vertolk het: “As jy glo ’n vreemdeling se voorkoms en manier van optrede is ’n betroubare aanduiding van hoe hulle voel, sal jy foute maak. Amanda Knox was een van daardie foute.”

Vir Malcolm is sy “die onskuldige mens wat skuldig optree”.

Amanda verskil van hom. “Hy probeer uitpluis waarom ek verkeerdelik skuldig bevind is deur na my te kyk.”

Sy blameer hom nie; vir ’n lang ruk het sy dieselfde gedoen.

“Ek weet nie of dit ’n vroueding of net ’n menslike ding is nie, maar baie vroeg, selfs terwyl ek tydens my ondervraging verskree en geslaan is, het ek bly dink: Wat doen ek verkeerd? My instink was om myself te bevraagteken.”

Dit het in 2014 begin verander toe sy hangende nog ’n appèl weer in haar af­wesigheid in Italië skuldig bevind is.

Sy was in ’n baie donker gemoedstoestand toe iemand van die Idaho Innocence Project haar en haar ma na ’n byeenkoms in Portland nooi. Die organisasie voer ’n veldtog teen foutiewe skuldigbevindings.

Dit het haar oë laat oopgaan; vir die eerste keer kon sy haar ervaring nie as ’n nagmerrieagtige ongerymdheid sien nie, maar as iets taamlik tipies. Dit is byvoorbeeld algemeen dat die slagoffer van ’n foutiewe skuldigbevinding blameer word vir wat met hulle gebeur het.

“Ons is so goed daarmee om ons eie impuls te regverdig om te veroordeel dat ons nie gaan stilstaan en vra nie: Wag, ’n bietjie, waarom het ek in die eerste plek in daardie rigting gekyk?”

Toe sy van ander sake hoor, het dit haar gehelp om sin te maak van hoe haar eie saak uitgebeeld is. Sy sê beeldmateriaal wat dikwels vertoon word van haar wat Raffaele buite die huis soen terwyl die polisie binne besig is, is verfilm nog voor sy van die moord op Meredith gehoor het.

Sy en haar eks Raffaele Sollecito is in 2009 skuld
Sy en haar eks Raffaele Sollecito is in 2009 skuldig bevind aan Meredith se moord. Twee jaar later is hulle vrygespreek. Amanda het vier jaar agter tralies deurgebring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die sogenaamde wawiele wat sy kort daarna in die polisiekantoor sou gedoen het, het nooit gebeur nie: Sy het ’n paar jogastrekke gedoen, want sy het ure lank gewag. In ’n stadium het ’n polisie­beampte haar gevra of sy die “split” kan doen, wat sy toe gedoen het.

Dit klink taamlik vreemd, sê ek vir haar.

“Daardie soort fiksasie op enkele oomblikke in die dae voor ek in hegtenis geneem is, is seleksie-vooroordeel. Jy onthou nie die kere dat ek gehuil het nie. Of die kere dat ek stil en nadenkend en hartseer was nie. Niemand berig oor daardie oomblikke nie. Hulle berig net oor die oomblikke wat hulle terug­skouend voel hul standpunt of oordeel oor my regverdig.”

Amanda word deur polisiebeamptes omring by ’n hofverskyning. Sy vertel haar “bekentenis” is deur polisiebeamptes geskryf en nie deur haar nie. Foto: AAI Fotostock
Amanda word deur polisiebeamptes omring by ’n hofverskyning. Sy vertel haar “bekentenis” is deur polisiebeamptes geskryf en nie deur haar nie. Foto: AAI Fotostock

Dalk, maar wat van haar “bekentenis”?

Amanda het aanvanklik ’n verklaring onderteken wat Patrick Lumumba, haar baas by ’n kroeg waar sy gewerk het, valslik by die moord betrek en haarself op die misdaadtoneel plaas. Sy is aan naam­skending en die aflê van ’n vals verklaring teen Patrick skuldig bevind – die een klag teen haar wat nie in Italië omgekeer is nie.

Ek het bang geword en ’n paar verklarings onderteken, wat ek dadelik teruggetrek het. Jy hoef nie met ’n porstok geskok te word om jou stapelgek te laat voel nie

Dit word steeds gebruik om haar geloofwaardigheid in twyfel te trek.

“Die verklarings wat ek onderteken het, het ek nie self geskryf nie; die polisie het dit geskryf,” verduidelik sy.

“Ek was uitgeput en bang en kon nie verstaan wat gebeur nie. Niemand het selfs vir my verduidelik dat ek ’n verdagte is nie. Daar is net op my geskree. Ek het bang geword en ’n paar verklarings onderteken, wat ek dadelik teruggetrek het. Jy hoef nie met ’n porstok geskok te word om jou stapelgek te laat voel nie.”

Amanda was 24 jaar oud toe sy eindelik uit die tronk vrygelaat is. Sy het na haar familie in Seattle teruggekeer en hoofsaaklik by haar ma en stiefpa gewoon (haar ouers is geskei). Sy het ’n kursus in kreatiewe skryfwerk gevolg en onder ’n skuilnaam vir ’n plaaslike koerant artikels oor kuns begin skryf.

“Ek het so onsigbaar moontlik probeer wees om in ’n baie traumatiese om­gewing te oorleef,” sê sy.

Sy is nie aan “die skeptici” blootgestel nie tot sy in 2013 haar memoires bemark het. Tydens onderhoude is sy gevra: “Het jy Meredith vermoor?” Toe het sy besef sy kon nie van die beeld ontsnap wat die Italiaanse aanklaers van haar voorgehou het nie. En wat ’n beeld was dit nie!

Agterna beskou is een van die kwellendste aspekte van die saak die obsessie met Amanda se sekslewe. Ten tye van die moord was sy al ’n maand in Italië en het sy Raffaela die vorige week by ’n konsert ontmoet. Sy het vir die polisie vertel sy het die nag by sy woonstel deurgebring en na haar huis teruggekeer om te stort. (Raffaela het ’n loodgieter, die verhuurder en sy pa daardie aand oor ’n lekplek in die kombuis gebel.)

’n Polisiebeampte op die toneel het beweer die stortstorie was onwaar, want Amanda het “na seks geruik”.

Toe kry hulle haar vibrator in die badkamer (’n vriend het dit as ’n grap vir haar gegee).

“Die hele saak het vreemd genoeg om hierdie werklik oeroue reinheids­kompleks gedraai met die aanklaer wat op die idee gefikseer het dat Meredith soos ’n Madonna was, ’n maagdelike figuur wat my owerspelige gewoontes afgekeur het, en dat ek haar daarom vermoor het. Dit was net so bisar,” sê Amanda.

Toe ek sê Meredith se status as ’n ou­like middelklasmeisie het dalk die venynigheid teenoor Amanda aangevuur, kap sy terug. “Hoekom het dit nie die oortuiging dat Rudy Guede skuldig is, aangevuur nie? Dit het wel woede en gevoelens van vergelding aangevuur dat iemand hiervoor moes boet. Die storie wat die aanklaers en skindermedia voorgehou het, is dat ek daardie iemand was.”

Die polisie het tot uiterstes gegaan om hul storie te steun.

In haar eerste paar weke in die tronk, lank voor die verhoor, is sy vir MIV getoets, en valslik ingelig die uitslag was positief. Sy is toe aangeraai om uit te pluis by wie sy dit aangesteek het. Sy het ’n lys van haar seksmaats neergeskryf – sewe – wat dadelik aan die aanklaers oorhandig en aan die ­media uitgelek is.

Die sosiale media was toe nog in sy kinderskoene en joernaliste het op haar profiele toegesak op soek na besonderhede. Haar skoolbynaam, Foxy Knoxy, wat sy danksy haar vaart op die voetbalveld gekry het, is tot ’n sek­suele skeldnaam verdraai.

Die besef dat haar ervarings nie uniek is nie – en ook haar onskuldigbevinding in 2015 – het haar die vertroue gegee om oor onreg te begin praat. Kort daarna het sy haar man, Chris Robinson, ontmoet, ’n digter met wie sy vir die plaaslike koerant ’n onderhoud gevoer het.

Amanda en Christopher. Foto: Instagram/@emcee_carb
Amanda en Christopher. Foto: Instagram/@emcee_carbon

“Hy het gesê: ‘Haai, ons moet vriende wees,’ en ek het gedink: Goeie hemel, ek kan weer vriende maak; ek hoef nie meer weg te kruip en net met mense te meng wat ek al my lewe lank ken nie.’ ”

Chris het vaagweg geweet sy was by die een of ander saak betrokke, maar het besluit om haar nie te google terwyl hulle mekaar beter leer ken het nie.

Hulle het kritiek ontlok toe hulle skare­finansiering vir hul troue in 2020 probeer kry het. Dit sou ’n “interaktiewe teater” en “vreemde kosse uit die boonste rakke” behels, het hulle gesê.

Sy het ver­lede jaar afgehaak met Christopher Robi
Sy het ver­lede jaar afgehaak met Christopher Robinson, ’n digter. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle het geldelike hulp daarvoor benodig omdat hulle al hul geld vir Amanda se eerste reis na Italië sedert haar onskuldigbevinding gebruik het. Sy het in 2019 tydens ’n opspraakwekkende besoek ’n praatjie oor regsdwalings vir die Innocence Project daar gaan ­lewer.

Hul versoek vir finansiële bystand om “die beste partytjie ooit vir ons vriende en familie” te help reël, het talle gebruikers van die sosiale media dwars in die krop gesteek. Nes Amanda se besluit om ’n foto van haar in haar ou Italiaanse tronkuniform op Instagram te plaas.

“Veertig dae oor tot die troue en 267 take oor op die doenlys,” het sy geskryf. “Ek het my in die handwerkkamer toegesluit en ek dra my ou tronkuniform – letterlik dieselfde sweetpaktop en broek waarin ek in Casa Circondariale Capanne, Perugia, geleef het.”

“Ek het my in die handwerkkamer toegesluit en ek d
“Ek het my in die handwerkkamer toegesluit en ek dra my ou tronkuniform – letterlik dieselfde sweetpaktop en broek waarin ek in Casa Circondariale Capanne, Perugia, geleef het.” Foto: Instagram/@amamaknox

Sy het ook woede ontlok met ’n twiet voor die Amerikaanse verkiesing in 2020 waarin sy haar volgelinge daaraan her­inner dat wat ook al die uitslag is, dinge erger kon gewees het.

“Wat ook al gebeur, die volgende vier jaar kan nie so erg wees soos my vier jaar van oorsese studie in Italië nie, of hoe?” het sy geskryf.

Die Britse TV-aanbieder Piers Morgan het haar daarna van kwaai onsensitiwiteit beskuldig. “Ek kan aan ’n 21-jarige Britse meisie met die naam Meredith Kercher dink wat ’n veel erger tyd as jy in Italië gehad het. Onthou jy haar? Hoe durf jy daarvan ’n grap maak.”

Maar Amanda het geweier om stil­gemaak te word.

“Af en toe maak ek ’n grap oor my onregmatige skuldigbevinding en aan­houding in Italië. Ek mag oor my eie trauma grappies maak. Ek het nie oor die Kerchers ’n grap gemaak nie. Ek het Meredith nie vermoor nie. Rudy Guede het en jy weet dit.

Jong Meredith Kirchner. Foto: Gallo Images/Getty I
Jong Meredith Kirchner. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hou op om Meredith se naam te misbruik om my as slagoffer te blameer.”

Dit is grootliks oor die manier dat sy behandel is – deur die strafregstelsel sowel as die media – dat sy besluit het om haar hand aan die misdaadgenre te waag wat sy sê “oor die algemeen baie sleg hanteer word”.

“Dis baie gewaagd, dit put genot uit tragedie en trauma en afgryse. Ek wou die teenoorgestelde doen, want ek was ’n karakter in ’n moraliteitspel.”

Sy sê die werklikheid is dikwels veel ingewikkelder. “Dis nie dat mense donker wesens is nie; ons is net onvolmaakte skepsels.”

THE SUNDAY TIMES MAGAZINE/NEWS LICENSING
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe