Dis soos om van buite na diep, diep binne te probeer kyk – en steeds deur ’n spieël in ’n raaisel in te kyk: Op die rak van die raadsaal, langs sy deurmekaar kantoor op die eerste verdieping van die balie se kamers skuins oorkant die hooggeregshof in Kaapstad, staan 15 lêers.

Dit bevat die verhaal van sy bekendste kliënt – die bewerings, die bewyse, die rekord van die opspraakwekkende moordverhoor waarin Henri van Breda (23) pas skuldig bevind is.

Iewers tussen al daardie bladsye der bladsye lê die waarheid oor wat gebeur het op daardie verskriklike aand in Januarie 2015.

Dit is hier, in hierdie kantoor, dat adv. Pieter Botha (56) en Henri mekaar soggens ontmoet het voor Henri in die beskuldigdebank moes verskyn.

Hier het hulle saam met die res van Henri se regspan voorberei op die getuienis wat die staat opgestapel het om te bewys Henri het sy ouers, Martin en Teresa, en broer, Rudi, op 27 Januarie 2015 met ’n byl in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor.

“Daardie hele ry lêers is deel van ons getuienis,” sê Pieter nou en wys na die boekrak links. Dis eintlik net ’n stukkie van die saak wat sy lewe die afgelope 13 maande oorgeneem het.

“Ek het al twee bokse verwyder.” Dit is enkele dae voor die uitspraak in Henri se moordverhoor dat Huisgenoot die regsman ontmoet.

Die vorige dag is Henri (23) op die lughawe afgeneem toe hy saam met sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg (22), van Kaapstad na Johannesburg gevlieg het om by sy bejaarde ouma, Rika du Toit, te gaan kuier.

Dit was die laaste keer dat hy haar as vry man kon sien. Van Henri weet almal wat die hofsaak gevolg het teen dié tyd byna alles: dat hy ’n aspirantsjef is, soms ’n vliegtuigborsspeldjie op sy baadjie se lapel dra, gereeld van haarstyl verander en graag roomys saam met Daniellé eet.

Elke beweging wat hy gemaak het sedert hy hom op 13 Junie 2016 aan die polisie oorhandig het en van die moord op sy gesin aangekla is, is dopgehou.

Maar die man wat hom uit die tronk moes probeer hou, weet goed hoe om persoonlike vrae te systap.

Vriendelik, maar ’n geslote boek nes dié op sy rak. Hy lyk vandag anders as met sy toga en diep frons in die hof – byna gewoon in sy byderwetse hemp en vlootblou baadjie.

Maar durf jy ’n vraag oor Henri vra, keep die bekende frons weer diep tussen sy oë in.

Dan kom die advokaat te voorskyn: “Die saak is nog hangende en ek kan nie oor my kliënt praat nie,” sê hy ferm. Selfs al bevind regter Siraj Desai sy kliënt skuldig en trek sy borgtog terug, lê die vonnisverrigtinge nog voor.

Kort voor druktyd, op Maandag 21 Mei, is Henri toe ook skuldig bevind aan die moord op sy ouers en broer, en aan poging tot moord op sy suster, Marli (19), die enigste oorlewende van die gruaanval.

Die saak was harde werk, vertel Pieter toe ons hom die Donderdag voor die uitspraak ontmoet.

Soggens vroeg, snags laat, naweke, vakansiedae – 13 maande lank het dit sy lewe gerig. Ja, erken hy, dit het hom ’n bietjie ouer gemaak.

“Dit vat maar aan ’n mens. Maar ek is mal oor my werk en wil niks anders doen nie. As jy nie bereid is om hard te werk nie, moet jy nie hier wees nie.”

En tog, al lê die uitspraak eindelik voor, lyk hy allermins gespanne. Vir hom was dit nie ’n emosionele wipplank nie – dis sy werk.

Die regsman is in Grootfontein, Namibië, gebore en getoë, maar het sy skoolloopbaan in Nelspruit voltooi. Ná sy militêre diensplig is hy met die trein Stellenbosch toe om in die regte te gaan studeer.

Hy het as aanklaer en as landdros in Kaapstad gewerk voor hy in die destydse prokureur-generaal se kantoor aangestel is.

In die vroeë 1990’s het hy in die Nel-kommissie gedien wat die Masterbond-skandaal ondersoek het waarin duisende beleggers in dié groep wat in eiendom en sindikasieskemas belê het hul geld verloor het.

Nadat hy in 1995 by die balie aangesluit en as advokaat begin praktiseer het, moes hy omstrede kliënte verteenwoordig: Shrien Dewani, wat aangekla is van die moord op sy vrou, Anni, tydens hul wittebrood in Kaapstad en later onskuldig bevind is.

Pieter in gesprek met sy regspan terwyl Henri van Breda in die beskuldigdebank sit. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Ook Wilhelm “Dozi” Treurnicht, die plaasbestuurder wat jong Flippie Engelbrecht na bewering op ’n plaas buite Robertson saam met die eienaar, Johnny Burger, aangerand het.

Die staat het later vir Wilhelm ontslag van die saak gegee en hy is vrygespreek, en Johnny is oorlede voor die saak sou voorkom.

Flippie is sedertdien dood. Maar dit was die saak teen Henri wat Pieter veral in die kollig geplaas het.

Hier waar die winterson deur die venster val, sak hy terug in sy swart kantoorstoel toe hy terugdink aan daardie eerste oproep van die prokureursfirma wat hom gebel het sowat ’n week ná die moorde op die Van Breda-gesin en gevra het: Sal hy Henri verteenwoordig?

Wat het toe deur sy kop gegaan?

“Die moorde was skokkend, maar ek is toe al deur Dewani en Flippie Engelbrecht. Ek het ook geweet dis gevaarlik om ’n oordeel te vel voor jy al die feite het.”

Almal, skuldig of onskuldig, is geregtig op ’n regverdige verhoor, glo hy.

In sy jare as advokaat moes hy dieselfde vraag al oor en oor hoor: Hoe kan jy iemand verdedig as jy weet hulle is skuldig of nie seker is dat hulle onskuldig is nie?

“Jy kan nie weier om ’n mens te verdedig op grond van wat die aanklag teen hom is nie, want dan sal ’n klomp mense nie regsverteenwoordiging kry nie,’’ sê hy ferm.

“Ek het net ’n werk. My kliënt het ’n weergawe en ek moet daardie weergawe na die beste van my vermoë in ’n hof gaan voorhou en hom daaroor raad gee. Dit is deel van alle beskaafde lande se regstelsels.”

Hy verwys na ’n ander saak waar hy iemand moes verteenwoordig wat van vreeslike dinge aangekla is.

Hy is skuldig bevind, maar die skuldigbevinding is in die appèlhof tersyde gestel.

“Vra jy my vandag of ek nagte wakker lê daaroor? Nee. Ek het my werk gedoen en die stelsel het gewerk.

"Dit is nie ’n foutlose stelsel nie, want jy werk met mense, maar dit is die beste stelsel wat ons het.”

Pieter sê dié saak het ontsettend baie navorsing voor kruisondervraging geverg. Foto: Misha Jordaan

En is hy teleurgesteld as ’n saak nie in sy guns beslis word nie?

“Natuurlik,’’ antwoord Pieter. “’n Mens is mos maar mededingend, en dis nie lekker om te verloor nie. Dan kyk jy maar na die uitspraak en besluit of jy dit op appèl kan vat.

“Daar is ’n verskil wanneer jy weet jou kliënt se kant van die saak is reg. Maar dit help ook nie jy gooi ’n vloermoer daaroor nie.

"Ek glo nie ek is iemand wat lank vasklou aan negatiewe emosies nie. Ek probeer met my lewe aangaan.”

Dit het hom nie tydens Henri se verhoor omgekrap dat elke Jan Rap en sy maat ’n mening oor die saak het en dit sommerso openlik in die sosiale media gedeel het nie, maar dit het sy ma vreeslik ontstel.

“Arme ouma Pop,” sê hy. Hy verwys na sy ma, Pop Botha (78), wat in Kroonstad woon.

“Sy was so ontsteld toe sy op Facebook lees iemand skryf: ‘Pieter Botha is van die duiwel af.’

“Sy het ’n tablet en het die verhoor vreeslik noukeurig gevolg en dopgehou. Sy het haar menings, maar is lojaal tot die dood toe.”

Hy lag toe hy gevra word wat hom deur die saak gedra het. “Jy bedoel soos ’n kruk?” vra hy. Dan skud hy kop.

Nee, daar was nie so iets nie. Hy het jare gelede ophou rook en nie eens een keer geswig nie.

Die een keer toe dinge byna te veel geraak het, was toe sy seun, André (27), in Junie verlede jaar oënskynlik ’n hartaanval gehad het.

Henri en sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg, kom op die Kaapstadse lughawe aan nadat hulle twee dae in Gauteng by Henri se ouma Rika du Toit gekuier het. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Jaco Marais

Die saak is vir twee dae uitgestel sodat Pieter aan sy kind se sy kon waak. Dit was toe die hele tyd ’n virale infeksie, en toetse het gewys geen blywende skade is aan sy hart aangerig nie.

Maar ’n oomblik lank lyk Pieter na ’n gewone besorgde pa: “Dit was nou vir my ’n skok. ’n Mens verwag nie so iets nie.”

Hy is die pa van vier volwasse kinders en woon alleen op ’n plaas wat hy buite Stellenbosch huur. ’n Vrou in sy lewe?

Daaroor praat hy nie.

Langs die lessenaar waarop verslae en dokumente rondlê, teenaan sy gimnasiumsak, staan die groot leertas wat Pieter altyd saam met hom hof toe neem.

‘Jou leefstyl kan gou daaronder ly wanneer ’n saak so lank aanhou’

Hy en sy medeadvokaat in die saak, Matthys Combrink, gaan soms saam gim toe, maar hulle was lank laas daar, erken hy verleë. “Ná ’n dag in die hof neem jy ’n bietjie van ’n blaaskans, en dan begin jy weer vir die volgende dag voorberei,” vertel hy.

“Ons eet meestal hier, hoofsaaklik wegneemetes. ’n Mens moet versigtig wees, want jou gesonde leefstyl kan gou daaronder ly wanneer ’n saak so lank aanhou.

“’n Mens moet nogal hoffiks raak. Aan die begin is jy baie moeg, maar wanneer jy eers ’n ruk aan die gang is, raak dit beter.”

Voor hy sy motorfiets verkoop het, het hy naweke darem daarmee op die plaas rondgejaag – dit het ’n bietjie ontspanning ver weg van die hofbanke gebring.

En as dít nie die regsargumente en drama van die week uit sy kop gevee het nie, het hy dít gedoen wat altyd werk om sy kop skoon te kry: Hy het saam met sy twee weimaraners, Jessie en Luca, op die plaas gaan draf.

Daar, oor kilometers heen, kon hy sy weg vind tussendeur die vrae in die grootste verhoor van die jaar.