“Ek lees verslae en met groot verbasing die plasings in die sosiale media van mense wat hulle deur sensasie en impulsiewe emosies laat lei ná die ontvoering en veilige terugkeer van my kleinkind Amy’Leigh de Jager.

My boodskap aan julle is dat Wynand en Angeline ewig dankbaar is teenoor God die Vader en elke Suid Afrikaner, Amerikaner, Pool, Ukrainian, Deen, Brit, en soveel meer vir die onvoorwaardelike gebed aan God die Almagtige Vader.

Hulle is ewig dankbaar dat Amy’Leigh aan hulle terugbesorg is en vra dat almal wat onvoorwaardelik aan God bid sal aanhou bid vir die totale genesing van Amy'Leigh en ook van hulself.

In ’n breukdeel van ’n sekonde is ons lewens onherroeplik verander deur gebeure wat ons ewig sal bybly.
Wynand en Angeline de Jager tydens die beskuldigde
Wynand en Angeline de Jager tydens die beskuldigdes se verskyning in die hof, 9 September 2019. Foto: Felix Dlangamandla/Foto24/Gallo Images via Getty Images

My boodskap aan julle is dat die antwoorde wat julle soek, nie by Wynand en Angeline of by my is nie, maar wel by die aangeklaagdes in die saak.

Voor die voorval was ons gesin ’n gewone gesin wat soos ’n menigte ander Suid-Afrikaners ook maar deur die gebeure in die land beïnvloed word. Ook maar ons brood in die sweet van ons aangesigte verdien.

Ons gesin was en is niks spesiaal nie. Ons is wat ons is, gewone mense.

Die verdagte, Tharina Human, het in die Vanderbilj
Tharina Human, een van drie verdagtes, het in die Vanderbiljparkse landdroshof verskyn in verband met die ontvoering van Amy'Leigh de Jager (6). Foto: Felix Dlangamandla/Foto24/Gallo Images via Getty Images

Maar in ’n breukdeel van ’n sekonde is ons lewens onherroeplik verander deur gebeure wat ons ewig sal bybly.  Gebeure wat ons graag sou wou vermy.

So, ek wil vir die giftonge en al die doemprofete sê julle sal jul antwoorde in die hof kry wanneer die waarheid blootgelê word; en slegs dan kan julle met lus verslag doen sonder om te vrees dat julle kraters van julself gaan maak.

Besef julle nie dat dit vir ons as familie ook nie duidelik is hoe drie mense waarvan sommige ook kinders het, na bewering so ’n onmenslike daad teenoor ’n klein mensie kan pleeg nie?

Soos julle, soek ons ook die antwoorde.
 
Groete,

Christo de Jager (maar net ’n pa en oupa)