Dit was ’n familiesage wat die oë laat rek het.

Die 58-jarige Chris van Oudtshoorn, ’n elektriese ingenieur van Brakpan aan die Oos-Rand en sy vrou, Jorina, het gesukkel om kinders te kry toe hulle klein Cathy as driejarige aanneem.

Op die oog af was hulle ’n doodnormale en gelukkige gesin. Kort voor lank het hulle selfs twee gesonde babadogtertjies van hul eie, Anita en Maryna, gehad.

Maar toe Chris en Jorina skei, trou hy met Cathy.

En in 2016 skiet sy hom dood.

'Rooftog'

Vir Anita Brits (28) is dié nare hoofstuk van hul lewe eindelik afgesluit toe Cathy (32) Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria tot 20 jaar gevonnis is vir die moord op hul pa. Hy is op 11 April 2016 in die kop geskiet. Cathy het beweer dit was ’n rooftog.

Vir lank het sy nie antwoorde gehad nie, tot Cathy, wat intussen weer swanger geraak het, wél eindelik met die sak patats vorendag gekom en skuld erken het.

“Sy het erken sy het hom vermoor omdat sy ’n buite-egtelike verhouding gehad het,” het Anita Woensdag aan Huisgenoot vertel.

“Ek is baie bly dis nou verby, maar die hele verhoor het net alles, al die ou wonde, weer van vooraf oopgekrap. Ek het haar kind jammer gekry, want sy het nog 'n kind se lewe opgemors.

“Maar ek het haar nie jammer gekry nie. Sy kon die doodstraf gekry het, maar dit sou nie my pa terugbring nie.”

Anita vertel sy en haar suster, Maryna Roets (27), was daar toe Cathy gevonnis is.

Beplande moord

Maryna sê Cathy, wat van verskeie oortredings aangekla is, waaronder die beplande moord van Chris en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, het 45 jaar gekry, maar sy sal net 20 jaar sit.

“Ek weet nie hoe ek moet voel nie. Dis nog ’n warboel van emosie.”

Huisgenoot het destyds berig Cathy was 18 jaar oud toe Chris en Jorina se paaie skei. Sy was 20 jaar oud toe sy die eerste keer swanger geword en by Chris, wat hom oor haar ontferm het, ingetrek het.

Jorina van Niekerk, Cathy se aanneemma, het ná haar eksman se skietdood tronkstraf gekry vir regs­very­deling.

Dit is hier waar hul verhouding ’n romantiese kinkel gekry het, want Cathy se kind was skaars een jaar oud toe hy met haar trou . . .

Toe skiet sy hom in 2016 dood en laat dit soos ’n rooftog lyk. Sy het selfs haar aanneemma, Jorina (nou 58), daarby ingesleep.

Mond gesnoer

Jorina was net meer as ’n jaar agter tralies vir regsverydeling voor sy onder huisarres geplaas is. Kragtens haar paroolvoorwaardes mag sy nie met die media praat nie.

Maryna vertel egter haar ma het getuig sy het Cathy gehelp om die moord soos roof te laat lyk omdat sy bang was sy maak haar ook dood.

Albei die susters vertel hulle het hul ma vir haar aandeel vergewe en het aanvaar Cathy het haar onskuldig by die hele gemors ingesleep.

“In die hof het Cathy nooit vir my jammer gelyk nie,” vertel Anita oor of sy dink Cathy berou het.

“Ek het eerlikwaar nooit gedink sy is tot so iets in staat nie.”

Anita is deur groot hel die laaste drie jaar, want nie net moes sy haar pa se dood verwerk nie, ook haar man, Armand, wat ’n sleutelgetuie in die saak was, is intussen in ’n motorongeluk dood. Sy en Armand was die eerste mense op die toneel.

Chris is waar hy voor die televisie in sy rusbank gesit het, in die kop geskiet. Jorina, wat by Cathy gekuier het, is glo ná die moord beveel om alles uit die kaste te gooi om dit soos ’n rooftog te laat lyk.

“Ek dink ek sal seker eendag vir Cathy kan vergewe, want dit is wat die Bybel sê, maar vergeet? Nooit nie. Ek sal nie weer met haar praat nie; ek sal nooit vir haar in die tronk gaan kuier nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en WhatsApp, en teken in op ons nuusbriewe.