Die dag nadat hy die tou van sy broerskind se nek met sy knipmes afgesny het, daar waar sy aan die trapreling van die meisieskoshuis op Stella in Noordwes gehang het, het sy “varke met hom weggehardloop”.

Louis Hough (47) weet nie hoe dit gekom het dat hy, gewoonlik ’n sterk en beheersde man, daarna al in die rondte met ’n bakkie in die veld langs die pad in Noordwes gejaag het nie. Verward. Waansinnig. Wraaksugtig. Hy het dieselfde knipmes gevat en sy regtervoorarm gesny.

Die bloed het gevloei. Dit het gevoel of iets in hom breek. Die vorige dag het Louis die lewelose liggaam van Sharnelle Hough (17) gesien en haar pa, Ronnie (46), laat weet sy is dood, soos die koshuisvader wel vroeër aan hom gesê het.

Enkele ure later is haar ekskêrel Xander Bylsma (19) aangekeer op sy pa, Monte, se plaas buite Vryburg.

Sharnelle en Xander Bylsma, haar vermeende moordenaar. Sy het twee maande voor haar dood met hom uitgemaak. Vir Louis was sy soos sy eie dogter. Foto: Facebook

Dié jong man met die blou oë en oënskynlik onskuldige seuntjiegesig word daarvan aangekla dat hy Sharnelle, oftewel Lallie, en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) op Saterdag 26 Mei verwurg het.

Hy het toe na bewering die toneel in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella soos selfdood laat lyk.

Die koshuis se matrone het op Sharnelle se lyk afgekom waar dit aan die trapreling hang, en die polisie het Marna, Xander se kleinniggie, se lyk daarna in die badkamer van die koshuis aangetref.

Op dieselfde dag nog het ’n privaat speurder, Chris Saunders, Xander op sy pa se plaas ondervra, en hy het kort daarna ’n bekentenis aan die polisie afgelê.

Louis is woedend waar hy vertel van die trauma waardeur sommige mense in die klein boeregemeenskap die laaste tyd gaan.

Die knipmes waarmee hy haar liggaam van die trapreling moes lossny. Foto: Martin De Kock

“Hulle sê maak die bliksem dood. Maar as dit hy was, soek ek hom nie dood nie. Hy moet elke dag doodgaan. Hy moet lank suffer,” skel die bebaarde man.

Lallie, sy kleinboet Ronnie se dogter, was soos sy eie kind, sê Louis. Hy en Marna se pa, Stefaans Engelbrecht, het ook saam grootgeword.

Die kostuumring wat Louis vir haar gekoop het. Foto: Martin De Kock

Dié ding, hierdie verskriklike ding, het hom getref waar dit die heel seerste maak. Dit is ysig koud waar ons naby Potchefstroom onder ’n staalstruktuur op wit verfblikke sit.

Dit is die fors man in sy kakiehemp en veldhoed se werk om staalstrukture soos store en afdakke op plase te bou.

Toe Ronnie die oproep kry wat sê sy dogter is dood, het hy Louis gevra om te gaan kyk wat by die koshuis aangaan. Louis was immers daar naby op die pad en sou vinnig daar kon omry. Want sekerlik sou die nuus nie waar wees nie . . .

Maar toe moet Louis sy broer bel en sê: Dit is waar; jy moet kom.

“Ek moes my broer keer om nie die polisie te lyf te gaan nie omdat hulle sy dogter daar gelos het, haar laat bly hang het. Toe sê ek, vat jy haar; ek sny die tou bo.”

Louis het die tou geknip en Lallie se lyk in haar pa se arms laat sak.

“Ek weet nie hoe lank nie, maar daar het Ronnie met haar kop in sy skoot sit en wieg en haar ruggie gevryf, haar voetjies gevryf en net met Liewe Jesus gepraat,” vertel die groot man en begin huil.

“Ja, dan vryf hy weer haar beentjies en haar handjies. Daai goed kry ek nie uit my kop nie. Ek is nie iemand wat huil nie, maar nou huil ek elke f***** vyf minute.”

Hy bly ’n oomblik stil voor hy verder vertel. “Dan sê ek vir hom: ‘Broer, sy is weg. Jy moet nou ophou. Dan gryp hy my hand en sê vir my: ‘Voel hierso, boetie, sy is nog warm. J*****, help my net.’ ”

Louis vertel Stefaans, Marna se pa, het op die toneel nie ’n woord gesê nie. Hulle het gesukkel om hom in die hande te kry, en sy vrou, Rianet, was voor hom daar.

‘Daar het Ronnie met haar kop in sy skoot sit en wieg en haar ruggie gevryf’

“Hy het stilgehou, sy vrou gegroet, na binne gestap. Daar het hy sy dogter gesoen, uitgestap, in sy bakkie geklim, ontsettend gehuil en gery.”

Vir Louis wil die legkaartstukke van daardie verskriklike gebeure nog nie inmekaarpas nie. Hy was die eerste naasbestaande van die moordslagoffers op die toneel, en toe hy daar aankom, was Marna se lyk op die badkamervloer reeds styf, yskoud, haar vel ligblou.

Maar nie Sharnelle nie, vertel hy. Sy was nog warm. Slap. Dit laat Louis glo Marna is eerste vermoor en die moordenaar het daarna eers ’n geruime tyd saam met Sharnelle in haar koshuiskamer deurgebring voor sy doodgemaak is.

Lt.kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, wou nie op dié bewerings reageer voor die hofsaak begin nie en het net bevestig twee aanklagte van moord word ondersoek.

Louis vertel hoe die moorde hom, hul familie en die gemeenskap geruk het. Hy sê sy “varke het met hom weggehardloop” nadat hy Sharnelle se liggaam moes lossny. Foto: Martin De Kock

Louis, sy vrou, Antoinette (42), en hul kinders bly byna 2 km van Ronnie af en sowat 48 km buite Stella. Sy dogters, Linmari (19) en Linette (21), het Sharnelle leer kos maak, brei, hekel en houtwerk doen.

“Die drietjies het so saam tussen my en Ronnie soos sussies grootgeword. Ronnie weet meer van my twee dogters as ek. En ek weet meer van Lallie as hy.” Hul hegte familie is uitmekaargeruk.

“My ma lê al van Sondagaand af in die hospitaal op Vryburg en gooi op. Sy het alzheimersiekte. Ek dink sy beleef die tragedie elke vyf minute wanneer sy bykom,” vertel hy oor sy ma, Linta (77). “My pa is ’n man wat glo ’n man huil nie. Hy huil nou al ’n week lank aanmekaar,” sê hy oor pa Giel (81) en raak self emosioneel.

“Dit is wat vir my erg is. Wat hier gebeur het, was geen ongeluk nie. Dit was blatante roof. Diefstal van baie mense se leefwyse en die lewe van twee pragtige kinders.”

Marna se liggaam was reeds yskoud toe hy haar op die koshuis se badkamervloer aantref. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Deon Raath

Louis het Marna goed geken. “Marna was nes Lallie. Sy het nooit in iets of iemand kwaad gesien nie. Daarom glo ek nie eens dat hulle gedink het die moordenaar sou hulle leed aandoen nie. Hulle het albei gedink die lewe is ’n lied,” vertel hy.

’n Vriend van hom, Deon Erasmus, het destyds in ’n brandongeluk ernstig seergekry.

“Ek het altyd vir hulle sy woorde aan my, in sy ergste pyn, gesê: ‘Al is jy te hartseer om te sing, neurie net ten minste die deuntjie, maar moenie die deuntjie verloor nie.’ ” Hy vertel Marna was “die sagte enetjie” in die Engelbrechts se gesin. “Nes Lallie. Hulle was soos ’n tweeling.”

Marna (links) en Sharnelle. Foto: Facebook

Hy sê hy het op die moordtoneel tyd gehad om heen en weer tussen Sharnelle en Marna se liggame te loop. “Ek moes seker maak dit is waar. Ek het geklou aan hoop,” onthou hy.

Verskeie dinge het hom opgeval. Hy het dadelik geweet dis nie selfdood nie.

“Lallie was pynlik netjies. Tot wanneer sy gaan slaap, moes haar hare reg wees.” Maar haar hare was erg deurmekaar.

“Ek het vir myself gesê Lallie sou nie so doodgaan met hare wat so lyk nie. Sy en Marnatjie albei. Ek dink hulle staan tot in die nag op en kam hul hare,” sê hy en lag wrang te midde van die pynlike opmerking.

Hy het reeds daardie oggend vir die polisie gesê wie hy vermoed die moordenaar is en dat hy alleen was. Hy glo nie die mens het genoeg krag gehad om Marna alleen op te tel en die bande om haar nek om die krane te bind nie.

Sy is in ’n sittende posisie teen die bad aangetref, haar liggaam vorentoe gebuig, haar gesig teen die grond. Hy glo sy is daar naby oorval. Waar Sharnelle op daardie oomblik was, is vir hom ’n raaisel.

Volgens die polisie is die meisies vermoedelik tussen twee- en drieuur vermoor, maar hy glo daar het baie meer tyd tussen die moorde verloop en dat Marna veel vroeër en Sharnelle heelwat later doodgemaak is.

Hy glo ook nie dit maak saak of die koshuis daardie aand gesluit was of nie, want hy glo die moordenaar was vasbeslote en het gegaan met die doel om dood te maak.

Die rooi-en-blou tou om Sharnelle se nek was splinternuut, sê hy. Hy kry die matrone jammer wat op die kinders afgekom het. En hy wens hulle het geweet Xander is ’n probleemkind, soos die gerugte nou loop.

“Ons Houghs is ’n familie wat opbou. Ons sou hom gevat en opgetel het, nie weggegooi het nie.”

Die dag ná die moorde het hy kop verloor. Dis nie hoe hy gewoonlik is nie, sê hy. Gewoonlik hou hy koers wanneer dinge skeefloop. Maar dié Sondag kon Louis nie kophou nie.

Hy het die oggend toe hy opstaan, oorweeg om die bottel whisky in die kas te gaan haal en te drink, maar het weens die donkerte in hom daarteen besluit.

Hy het omstreeks negeuur met ’n vriend se bakkie gery om op die plaas te kom werk waar ons vandag sit, maar het net die buurdorp Sannieshof gehaal.

Sy vriende het hom ná sesuur die aand gekry waar hy buite dié dorp in die veld ry. Die bakkie was vol droë bloed. “Ek het glo my arm begin sny en gesê: ‘Ek sny die klein etter 365 keer,’ maar ek wil die bliksem nie dood hê nie.

Ek weet nie hoekom 365 keer nie. Ek weet nie hoe ek daar gekom het nie. En dit helder oordag. Doodnugter.” Louis sê Sharnelle het hom dikwels eerste gebel wanneer sy ’n krisis beleef.

Vier maande voor haar dood het sy en Xander die eerste keer uitgemaak. “Sy was down in the dumps. Ek het met haar in dié rooi Ford-bakkie na Delareyville gery en by ’n straatsmous langs die pad vir haar dié goue kostuumring gekoop.”

Hy wys na sy bakkie agter hom en die goue ring wat nou om sy nek hang.

Louis moes toekyk hoe sy broer Ronnie met sy dogter se liggaam in sy arms sit. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Deon Raath

“Ek het op my knieë gegaan en vir haar gevra: ‘Kys met my.’ Sy het geglimlag en verleë uitgeroep: ‘Oh, my word!’ Sy het my vasgedruk en gesê: ‘Ek is lief vir oom! Ek sal die kys aanvaar.’ Ek het haar beloof: ‘Ek sal vir jou lief wees, jou laat lag en jou elke dag soen en drukkies gee.’ En sy het uit haar maag gelag en was gelukkig.”

Louis wou haar net weer sien lag ná die hartseer van die beëindiging van die verhouding, sê hy.

‘Toe Ronnie vir my die ring gee, het hy gesê: ‘Boetie, jou kys is gebreek’

Sharnelle het vir haar pa van haar oom se gebaar vertel. Die Saterdag ná die vermoorde meisies se roudiens het Ronnie “die wind uit sy seile gehaal”, sê Louis.

Sy kleinboet het by Louis op die plaas kom eet en met die ring te voorskyn gekom. “Toe Ronnie vir my die ring teruggee, het hy gesê: ‘Boetie, jou kys is gebreek.’ ” Louis begin snik.

Die leerders van die Hoërskool Stella en die meisies se families het op 7 Junie van hulle afskeid geneem. Foto: Facebook/Hoërskool Stella
Foto: Facebook/Hoërskool Stella

“En daar voel ek toe soos ’n 10-jarige seuntjie wie se kys gebreek is. Ek het daar agter die huis gaan sit en ruk soos ek huil.”

Hy onthou Sharnelle het weer die verhouding met Xander kans gegee. Sy het met hom daaroor gepraat.

“Ek het vir haar gesê: ‘Dit bly jou hartjie. Ek kan jou nie keer nie.’ Ek het my kinders daarmee grootgemaak dat jy moet foute maak; jy moet eers val om te weet hoe om op te staan. Het ons maar net beter geweet!”

Louis sê hy sal daar wees wanneer Xander op 20 Junie in die landdroshof op Vryburg om borgtog aansoek doen.

Tot dan worstel hy met die woede. Sal hy dit oorweeg om professionele hulp ná die trauma te kry?

“Ek glo nie enigiets wat enigiemand vir my gaan sê, gaan my help nie. Ek moet net in die Kalahari kom. In die veld kry ’n mens weer kop. Ek praat elke dag met die Here en leef nou saam met Hom. Al wat my nou kan help, is om saam met Hom in die Kalahari om ’n kampvuur te sit.”