Die wêreld het na haar die vinger gewys as die stiefma wat haar stiefdogter se dood veroorsaak het, en haar medegevangenes in ’n eilandtronk het haar as “ ’n moordenaar” uitgekryt.

Maar terwyl selfverwyt en verlange na haar seun in Suid-Afrika aan haar gevreet het, het Marietjie Vosloo 18 maande lank aan een sprankie hoop bly vasklou: om ten spyte van alles wat gebeur het met haar man versoen te raak.

Mike, haar eerste liefde, is die pa van haar enigste kind, maar ook die pa van die 17-jarige donkerkoptiener wat nie lewend van die gesin se eilandvakansie in Oktober 2016 teruggekeer het nie.

Mundolene, sy dogter uit sy eerste huwelik, het ineengestort en gesterf nadat Marietjie (34) haar in ’n oomblik van “hartseer en woede” deur die gesig geklap het.

'Ek is nog lief vir Mike'

Al het sy geliefde dogter se skielike dood hom swaar getref, het Mike (47) Marietjie bly steun terwyl sy haar verhoor in die gevangenis afgewag het.

Hy het vir haar boeke en blokraaisels Mauritius toe gestuur om die lang, leë ure te verwyl en geld waarmee sy by die tronk se kantien botter en grondboontjiebotter kon koop vir die broodrolletjies waarvan sy geleef het.

Maar ná 532 uitmergelende dae in die tronk was sy skaars terug op eie bodem toe haar hoop op ’n versoening verydel word. Minder as 24 uur nadat sy in Johannesburg geland het, het Mike haar uit sy huis op die kusdorpie Margate, KwaZulu-Natal, gebel en gesê hy wil skei.

Al het sy dit aan die een kant verwag, is dit tog ’n skok, sê Marietjie.

“Ek is nog lief vir Mike. Liefde is nie iets wat jy afskakel nie. Ons is immers deur baie saam.”

Al is dit moeilik, aanvaar sy hy wil nie meer in ’n huwelik met haar wees nie. Hulle was meer as 13 jaar saam en 10 daarvan getroud.

Sy besef Mundolene se dood sal altyd tussen hulle wees, al het sy nooit bedoel om haar om die lewe te bring nie, sê Marietjie.

Sy is op 2 April vanjaar skuldig bevind aan aanranding en tot 15 maande tronkstraf gevonnis. Omdat sy toe reeds amper 18 maande agter tralies was, is sy op dieselfde dag nog vrygelaat.

Vry om terug te kom huis toe, al is dit nie na die huis wat sy eens met Mike en hul seun, Morné* (nou 13), gedeel het en waar sy kinders uit sy eerste huwelik, Willie* (16) en wyle Mundolene, vakansies kom kuier het nie.

Sy het heelwat verloor. Die tyd saam met haar kind en haar man. En sy mis Mundolene.

“Ek mis haar grappies. Ek mis dit selfs om te sien hoe sy ure lank haar hare platstryk. Sy was vir my soos ’n dogter en ek het haar liefgehad.”

Dit was veronderstel om ’n droomvakansie in ’n eilandparadys te wees, maar toe verander dit in ’n nagmerrie sonder einde.

Vir die eerste keer sedert haar lewe soos handomkeer verander het, vertel Marietjie nou haar kant van die storie eksklusief aan Huisgenoot.

'Die tyd in die tronk was meer as ’n nagmerrie'

Hier in die sitkamer van haar broer Jan Jacobs (43) se huis op Springs, waar sy voorlopig ingetrek het, lyk sy uitgerus ná ’n nag in ’n gerieflike bed pleks van die dun matras waarop sy maande lank op ’n sementvloer in die tronk geslaap het.

“Die tyd in die tronk was meer as ’n nagmerrie,” vertel sy. “Dit voel asof jy in ’n donker tonnel vasgevang is, sonder ’n liggie aan die einde van die donker.”

Tydens haar verhoor in die streekhof in Port Louis, Mauritius, kon nie bewys word die klap wat Marietjie haar stiefdogter op 5 Oktober 2016 gegee het, het haar dood veroorsaak nie. Medisyne vir epilepsie is in haar liggaam gevind.

“Ek is nie ’n wrede mens nie,” sê Marietjie. “Mense is vinnig om te oordeel, maar hulle ken nie die volle storie nie. Ek is nie die monster waarvoor ek uitgekryt word nie.”

Dan ontvou die verhaal van ’n jong vrou wat ná moeilike jeugjare liefde en geluk by ’n ouer man, reeds die pa van twee kinders, gevind het.

Maar die eise van die gesinslewe sou hul huweliksbootjie in onstuimige waters laat beland lank voor hulle op ’n eiland teen die storms van die lewe sou gaan skuiling soek.

Marietjie, die jongste van vyf, het brandarm op Coligny in Noordwes grootgeword. Sy was twee toe haar pa, Bertus Jacobs, skielik aan sy hart dood is.

Haar ma, Maria, wat in 2007 aan maagkanker oorlede is, het toe ’n drankprobleem gehad; daarom is Marietjie op 14 in die sorg van haar suster, Marlyn Janse van Vuuren, op Springs geplaas. Ná matriek het sy by haar broer Jan gaan woon en as apteekassistent begin werk.

Sy was 21 toe sy en Mike, 12 jaar ouer as sy, mekaar in 2004 in ’n restaurant op Springs ontmoet. Mike was toe nege maande geskei; Mundolene was vier jaar oud en haar boetie ’n jaar en ’n paar maande.

Ek is nie die monster waarvoor ek uitgekryt word nie.
Dit was ’n blye weersiens toe Marietjie Vosloo, wat 18 maande lank ná die dood van haar stief­dogter, Mundo­lene, op Mau­ritius aan­gehou is, op 4 April met haar broer Jan Jacobs van Springs op die O.R. Tambo-­lug­hawe in Johannesburg herenig word.

“Hy het vir my gekyk en ek vir hom. Ek dink die spark was onmiddellik daar. Later het hy my nommer kom vra.”

Dit was die begin van ’n blitsromanse en drie maande later was sy swanger. Mike het haar tydens die swangerskap bygestaan, maar hulle is eers vier jaar later getroud.

Mundolene en haar boetie het naweke by hulle gekuier. Die kitsgesin was vir haar ’n “maklike aanpassing”, sê sy.

“Ek was nog altyd lief vir kinders. Ek het Mundolene help bad, saam met haar ingekleur, haar haartjies gekam. Sy was so lief daarvoor om op my skoot te sit.”

Aan die begin was Marietjie en Mike se verhouding “maanskyn en rose”, maar deur die jare het hulle ál meer baklei, veral oor die kinders.

“Ek glo kinders moet maniere leer. Ek was die strengste met ons jongste, en wanneer Mundolene en haar boetie kom kuier het, het dieselfde reëls vir hulle gegeld.”

Marietjie sê sy het nooit die kinders geslaan nie. “Hulle het die stouthoekie geken,” vertel sy met erns.

Mundolene was van kleins af “moeilik, ’n probleemkind”, beweer sy. “Ek dink sy kon dit nie verwerk om nie elke dag by haar pa te kan wees nie.”

En Mike wou op sy beurt altyd daarvoor vergoed.

In 2010 het hy in die buiteland in die mynwese begin werk en net skoolvakansies huis toe gekom na Margate, waar die gesin toe gewoon het. Dan het Mundolene en Willie, wat toe by hul ma op Springs gewoon het, ook kom kuier.

“Ons het nooit tyd gehad om net te gesels nie. Die kinders het altyd eerste gekom,” beweer Marietjie.

In 2013 het Mundolene (toe 12) ná ’n rusie met haar ma by hulle ingetrek. Mettertyd het sy en Marietjie ál meer vasgesit oor haar slordige kamer en huishoudelike take soos skottelgoed was.

In haar gr. 9-jaar het Mundolene met haar skoolwerk gesukkel. “Ek sou soms tot vieruur in die oggend haar take vir haar doen,” vertel Marietjie.

‘Sy was mislik met my. Ons was gedurig in mekaar se hare.’

Saam met die versorging van Morné het alles vir haar te veel begin word.

Nadat sy vergeefs by Mike gesoebat het om in te gryp, het sy terwyl hy in Oktober 2014 by die huis was haar tas gepak en by haar broer Jan op Springs ingetrek. Twee en ’n half maande later het Mike toe wel besluit om Mundolene na haar ma terug te stuur.

“Daarna, wanneer ons mekaar weer tydens vakansies gesien het, het Mundolene my vreeslik mislik behandel. Ons was gedurig in mekaar se hare.”

Hul verhouding het in Desember 2015 tydens ’n gesinsvakansie ’n laagtepunt bereik.

Toe sy Mundolene konfronteer nadat sy glo haar twee broers gevloek het, het die langbeentiener, wat toe op 1,72 m heelwat langer as haar stiefma was, glo haar arm van agter om Marietjie se nek geslaan en haar gewurg.

“Ek het met alle mag my naels in haar arm geslaan om haar van my af te kry.”

Maar hulle het “twee uur later weer vir mekaar se grappies gelag”.

Marietjie gaan voorlopig by haar broer op Springs aan die Oos-Rand bly. Hy het vir haar ’n kamer ingerig en sy vyf maande oue Deense hond, Max, “beskerm” haar snags.

Dit was haar idee om die volgende jaar Mauritius toe te gaan.

“Ek wou so graag net een vakansie hê met net my, Mike en Morné as gesin. Gehaltetyd.”

Maar ’n week voor hul vertrek het Mike haar ingelig: Mundolene en haar broer kom saam Mauritius toe.

“Dit was soos ’n ballon wat bars en al die lug binne is weg. Ek was daardie pap ballon,” sê Marietjie.

Op die vlug Mauritius toe was sy en Mundolene al “happerig” met mekaar, en wrywing het tussen Marietjie en Mike ontstaan.

In die Hotel Riu Creole het Mike en sy twee oudste kinders ’n slaapkamer gedeel en sy en Morné was in ’n ander kamer in dieselfde suite.

Die volgende oggend, 5 Oktober, het Mundolene nie saam met die res van die gesin gaan ontbyt eet nie, maar later saam met haar pa en broers met ’n waterpolobal in die swembad gespeel.

Toe Marietjie daarna vir Mundolene vra om met die nodige kaartjies vir haar broers handdoeke te gaan haal, het dié haar glo toegesnou: “Jy’s my nanny. My pa betaal jou. Doen dit self!”

Marietjie het so kwaad geword dat sy haar met die ys en suurlemoen in haar alkoholvrye mengeldrankie wou gooi. “Maar toe gly die glas uit my hand."

Die glas het Mundolene nie getref nie, maar langs haar geval. Sy en Morné is daarna terug kamer toe, waar sy ’n kalmeerpil gedrink het. Toe Mike instorm, het hulle ’n reuseuitval gehad omdat sy so ’n “scene in die openbaar” gemaak het.

‘Ek sê toe: “Mundolene, staan op! Dis nie meer ’n grap nie’.
Marietjie en haar broer Jan, een van die hand vol mense wat haar deur haar nagmerrie bygestaan het, sê sy.

Marietjie het daarna uit die kamer gestorm en Mundolene in die hotelgang op die onderste verdieping gekry.

“Ek het haar aan die arm gevat en gesê sy moet haar broer gaan roep en kamer toe kom. Ek wou net hê ons moet almal begin stort.”

“Los my f***** arm uit,” het Mundolene haar glo toegesnou. Toe het sy haar humeur verloor en haar geklap; net die een keer met die agterkant van haar hand teen haar stiefdogter se ken.

Mundolene het daarna omgedraai, haar sonbril in haar broeksak gesteek en weggestap. “Ek het dadelik gedink: ‘Wat de hel het ek nou gedoen?

"Ek kon dit nie glo nie. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek so iets gedoen het.”

Marietjie het in die kamer op die bed gaan lê en gevoel hoe die kalmeerpil begin inskop.

Sowat 20 minute later het Mike by die kamer ingekom met die tyding dat Mundolene dood is. Sy het sowat 8 m van waar Marietjie haar geklap het, ineengestort.

“Ek het vir hom gesê: ‘Dit kan nie wees nie. Jy jok vir my.’ ”

Sy is dadelik na die hoteldokter se spreekkamer, waar Mundolene op die bed gelê het.

“Ek sê toe nogal vir haar: ‘Mundolene, staan op! Dis nie meer ’n grap nie.’ ”

Sy het die hartmonitor aan Mundolene se vinger gesit. Daardie geluid sal sy nooit kan vergeet nie.

“Jy verwag soos in die flieks: biep, biep, biep. Maar dit was ’n lang en aanhoudende ‘bieeeep’. Mundolene was dood.”

Dit is toe dat sy geskok sê: “Mike, ek het nie bedoel om jou dogter dood te slaan nie. Op daardie oomblik het ek geglo dit was die klap. Ek sou eers heelwat later uitvind dit kon nie die oorsaak wees nie.”

Sy is in hegtenis geneem.

Mike Vosloo, Marietjie se vervreemde man, het haar minder as 24 uur ná haar terugkeer na Suid-Afrika ingelig hy wil van haar skei, al het hy haar heeltyd bygestaan. Hy aanvaar Marietjie het nie Mundolene, sy oudste kind en enigste dogter, doodgemaak nie. Foto: Lubabalo Lesolle

’n Plaaslike advokaat, Zaredhin Jaunbaccus, is aangewys om haar te verdedig.

Aanvanklik is sy aangekla van aanranding sonder die doel om ’n moord te pleeg, ’n soortgelyke klag as strafbare manslag in ons reg, maar dit is later op grond van die lykskouingsverslag na aanranding versag.

Sy sê die maande in die gevangenis voor haar verhoor eindelik verlede Desember begin het, was ’n oorlewingstryd.

“Jy is agter tralies vasgevang. Jy het niks om te doen nie en kan nêrens heen vlug nie.”

Hulle het geen ontbyt gekry nie en smiddae was dit rys, waarvoor Marietjie allergies is. Saans het sy net een broodrolletjie en die onsmaaklike eiers of ’n bietjie vis of hoender geëet. Die ander twee broodrolle het sy vir die volgende dag se ontbyt en middagete gebêre.

Marietjie moes daaraan gewoond raak om in koue water te stort. Al het haar medegevangenes haar veral aan die begin in gebroke Engels beledig, het hulle haar darem nie aangerand nie.

Sy kon een keer per week ’n sielkundige spreek en antidepressante is vir haar voorgeskryf. Die swak dieet en medisyne het Marietjie laat gewig aansit.

Sy het geleef vir die Saterdae, wanneer sy 15 minute lank deur Skype met haar seun kon gesels. Sy kon hom ook twee keer per week vir 10 minute bel. Met sy pa in die buiteland en sy ma agter tralies was hy in ’n au pair se sorg.

Waarna sy die meeste uitsien, is om Morné weer te sien en hom teen haar vas te druk .Dit sal gebeur wanneer sy hom in die week ná haar terugkeer na Suid-Afrika op Margate gaan besoek.

Mike Vosloo en Mundolene. Foto: Verskaf

Die grootste les wat haar nagmerrie-ondervinding haar geleer het, is: Plaas ’n wag voor jou mond wanneer jy in ’n rusie met iemand betrokke is.

“Al weet ek ek is nie skuldig nie, sal dit altyd in my agterkop bly,” sê Marietjie oor haar stiefdogter se dood.

“Ek glo almal verdien ’n kans. Ek het daarvoor gebid en glo ek verdien ’n tweede kans.”

* Skuilname is gebruik om die kinders se identiteit te beskerm.

  • Mike Vosloo het aan Huisgenoot gesê nie hy of Mundolene se ma was daarvan bewus dat hul dogter pille vir epilepsie gebruik het nie. Mundolene se ma, Mariska van Heerden, het nie self op Huisgenoot se navrae hieroor gereageer nie.
Waaraan is Mundolene dood?

Volgens die lykskouingsverslag wat in Huisgenoot se besit is, is Mundolene aan “massiewe subaragnoïdale bloeding” oor albei serebrale hemisfere en die basis van haar brein dood.

Medisyne teen epilepsie is ook in haar liggaam gevind, hoewel haar bloedstroom getoon het sy was nie ’n chroniese gebruiker daarvan nie. ’n Besering wat sy opgedoen het terwyl sy kort voor die voorval in die swembad gespeel het, kon die bloeding veroorsaak het, het die patoloog, dr. Sudesh Gungadin, getuig.

Maar dr. Leon Wagner, ’n onafhanklike forensiese patoloog van Bloemfontein aan wie Huisgenoot die lykskouingsverslag voorgelê het, sê geen teken is te sien dat sy ’n kopbesering opgedoen het nie.

Hy meen ’n “klap” op sigself sou ook nie die breinbloeding veroorsaak het wat Mundolene se lewe geëis het nie.

Hy glo ’n aneurisme kon moontlik haar dood veroorsaak het, maar dit is moeilik om op te spoor en is volgens die verslag ook nie by haar gevind nie.

Die hof het bevind die oorsaak van die breinbloeding kon nie vasgestel word nie, maar dat die klap waarskynlik nie daartoe bygedra het nie. Die moontlikheid van ’n epileptiese toeval kan ook nie uitgesluit word nie.