Nou het die 41-jarige musiekonderwyser van Bela-Bela, met sy kenmerkende harderandhoed, sy eerste musiekvideo, Boom Baby, bekendgestel.

“Dis ’n lekker sokkienommertjie wat gaan oor date night,” sê hy.

“Ek en Mammie het die kinders by haar ma gelos en nou gaan ons uit om te dans en mekaar te geniet, want dit is belangrik om die spark in jou huwelik te behou.”

Fatman het vanjaar in The Voice SA se tweede seisoen in die topvyf geëindig en sedertdien nog nooit teruggekyk nie.

Hy sê hy voel bevoorreg en dankbaar vir die platform wat The Voice SA hom gebied het.

“Ek onderhou my familie nog altyd met musiek en glo dat wanneer jy doen waarvoor jy lief is, die geld vanself sal inkom,” vertel hy.

Die enkelsnit is digitaal beskikbaar by musiekdienste soos Apple Music en sal ook eersdaags oor die radio te hoor wees.

“Ek dink mense gaan Boom Baby geniet omdat dit hulle dag sal opkikker en hulle nooi om saam te sing en dans.”

KYK HIER NA FATMAN SE SPLINTERNUWE VIDEO