Louis Hough (47), ouer broer van Sharnelle, oftewel Lallie, se pa, Ronnie, het die kort video op die Facebook-groep Geregtigheid vir Sharnelle & Marna, gedeel.

“My beste maats, ek mis julle,” het die gebroke Louis daarby geskryf.

Lallie was soos ’n eie dogter vir hom en Marna ook soos ’n kind in die huis.

Lallie en Marna, albei gr.11-leerders aan die Hoërskool Stella op Stella, is op Saterdag 26 Mei in die meisiesafdeling van die skool se koshuis verwurg. 

Xander Bylsma (19), Sharnelle se eks, sal weer op 6 Augustus in die landdroshof in Vryburg verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy die meisies in die koshuis oorval, verwurg en daarna die toneel soos ’n dubbele selfdood laat lyk het.

Sharnelle het aan ’n tou aan die trapreling gehang en Marna was in ’n sittende posisie teen die bad met ’n handsakband om haar nek.

Xander is sedert sy inhegtenisneming op dieselfde dag agter tralies. Hy het na bewering uit vrees vir sy lewe nooit om borgtog aansoek gedoen nie.

Louis het vroeër in ’n onderhoud aan Huisgenoot gesê as Xander werklik die een was wat dit aan sy Lallie gedoen het, wil hy hom nie dood hê nie. “Hy moet elke dag doodgaan. Hy moet lank suffer,” het hy gesê.

Hy het dieselfde dag dié lawwe video waarin die twee vriendinne op ’n liedjie van die Amerikaanse sangeres, Taylor Swift, met ’n prettige selfoontoepassing maak asof hulle sing, aan Huisgenoot gewys en vertel hoe lief hulle was om altyd saam gek te skeer. 

Sharnelle sou dan die video’s vir hom stuur om hom te laat lag.

Die ander meisie in die video is Linmari Hough (19), Sharnelle se niggie en Louis se dogter. Sy was soos ’n sussie vir Sharnelle.

Vandag bring die video's eerder trane in die groot man se oë.