Sy bruid is al amper ’n halfuur laat, maar Barry Lubbe lyk koel en kalm waar hy uitgevat in ’n swart pak en wit das onder koeltebome by die boetiekhotel Kleinkaap in Centurion wag.

Wat is ’n paar minute ekstra nou vergeleke met die dekade wat hy al wag om die sangeres Lianie May sy vrou te maak? Op ’n sonnige lentedag kom sy eindelik as stralende bruid aan haar broer, Niccie Oosthuizen, se arm na hom aangestap op ’n voetpaadjie in ’n prentjiemooi tuin.

Die prentjiemooi tuin waar die paartjie getrou het. Foto: Martin de Kock

Met haar hare in ’n klassieke bolla en geklee in ’n Anél Botha-kantskepping vol kralewerk en blinkers, lyk Lianie soos ’n prinses. Aan haar bruidsruiker is ’n ovaalvormige silwerhangertjie met lint vasgebind.

Daarin is ’n foto van Barry aan die een kant en een van haar oorlede pa, Niccie sr., aan die ander kant. “Dit was asof my dads (soos sy haar pa noem) by my was, asof sy hand myne vasgehou het,” vertel Lianie (41) later oor die hangertjie, ’n geskenk van haar nuwe skoonsuster, Tersa Lubbe.

Omdat sy en Barry (41) albei hul pa aan die dood afgestaan het, het hulle besef die tyd staan nie stil nie en ná ’n 10 jaar lange verlowing besluit om eindelik af te haak. Barry het sy pa in ’n motorongeluk verloor toe hy 19 was en Lianie se pa is twee jaar gelede weens longkanker oorlede.

“Ons het albei nog ons ma en wou hê hulle moet die oomblik saam met ons geniet,” sê Lianie, wat vanjaar ’n dekade in die musiekbedryf vier.

Lianie May op haar mooiste dag. Foto: Martin de Kock

Met dié mylpaal in gedagte het sy en Barry besluit om hul mooiste dag met haar aanhangers te deel in haar werklikheidsreeks op VIA, Met My Hele Hart: Lianie May Se Sprokiesverhaal. Toe die troumars begin speel en sy bruid na hom toe aangestap kom, was hy verbaas hoe rustig hy was, het Barry later vertel.

“Ek is mos nie ’n ou wat van aandag hou nie. Maar ek dink met die kameras wat ons in die dae voor die troue gevolg het, was ek gewoond daaraan. Dit het gevoel of ons nog ’n episode verfilm.”

Al is sy as sangeres aan die kollig gewoond, erken Lianie sy was behoorlik op haar senuwees.

“Wanneer jy met die paadjie kansel toe stap, is dit ’n ander soort senuwees wat pla as wanneer jy voor ’n groot gehoor sing. Maar toe ek vir Barry sien, het ek dadelik kalm geword. Ek was verlig en verheug dat die oomblik eindelik aangebreek het.”

Lianie en Barry voor die kansel. Foto: Martin de Kock

"Welkom by ons troudag,” staan die woorde in sierskrif op ’n houtbord in die tuin wat getooi is met wit blomme wat aan die boomtakke hang.

Tussen twee pilare by ’n somerhuisie se ingang is ’n wit doek gedrapeer om ’n sierlike afdak te vorm vir die plegtigheid. Voor ds. Danie Jansen van Rensburg met sy preek begin, spot hy dat Barry reeds ’n getroude man se eerste waardevolle les geleer het: “Jy’t vandag vir haar gewag, en jy gaan nog baie vir haar wag.”

Nadat die bruidspaar hul troubeloftes afgelê en vir mekaar trouringe aangesteek het, sê die dominee Barry mag maar sy bruid soen.

‘As Lianie se pa vandag hier was, sou hy trots gewees het’

Hy maak so en die gaste – onder wie die sangers Theuns Jordaan, Jay du Plessis, Robbie Wessels en Bobby van Jaarsveld – bars los met applous. Die pasgetroudes glimlag breed terwyl hulle met die tuinpaadjie van die somerhuisie teruggestap kom en wit roosblare op hulle neerreën.

Buite die deur van die onthaalsaal sny hulle ’n laag witsjokoladekoek, een van vyf lae van hul troukoek wat ook lae wortelkoek en donkersjokoladekoek het. Terwyl die res van die troufoto’s geneem word, geniet die gaste skemerkelkies en lê weg aan vars plaasbrood, kase, verskeie patees en vrugte.

Die dekor op die onthaal was sprokiesagtig. Foto: Martin de Kock

Die onthaalsaal lyk soos iets uit ’n sprokie met feetjieliggies wat uit die dak hang en ’n kleurskema van goud, sjampanje, poeierpienk en wit. Op die tafels glim goue eetgerei. Kerse en rangskikkings wit rose rond die prentjie af.

“Ons wou hê alles moet eenvoudig en gemaklik wees,” sê Lianie later; “daar moes nie fieterjasies wees nie.” Die bruidspaar se ma’s het elkeen ’n kort brief geskryf en die seremoniemeester, die sanger Pieter Koen, lees dit voor.

Lianie is haar “omgeedogter”, skryf haar ma, Elma Oosthuizen. Vir Barry beskryf sy as ’n “besonderse skoonseun” en voeg by: “Ek glo as Lianie se pa vandag hier was, sou hy trots en gelukkig gewees het.”

Die paar by hul ma’s. By Barry staan Alta Lubbe, en by Lianie Elma Oosthuizen. Foto: Genevieve Fundaro Fine Art Photography
Die troukoek het vyf lae gehad. Foto: Martin de Kock
’n Silwerhangertjie met foto’s van Lianie se oorlede pa, Niccie sr., en Barry. Foto: Martin de Kock

Later open Lianie en Barry die dansbaan op die maat van haar nuwe album se titelsnit, Iemand om Lief te Hê: Soos een mens dans ons die aand en ure verby . . . Ons almal kort net iemand om lief te hê . . .

Die bruidspaar laat waai op die dansbaan. Foto: Martin de Kock
Lianie en die sanger Jay du Plessis het al groot sukses bereik met die twee duet­albums wat hulle uitgereik het. Hy het op die onthaal ’n heildronk op die paar ingestel en hulle eeue se geluk toegewens. Foto: Martin de Kock

Die twee se lewenspaaie het 12 jaar gelede gekruis toe Barry se ouer broer, Johann, en dié se vrou, Tersa, Barry en Lianie na ’n partytjie nooi. Hulle het gemeen hulle sou ’n oulike paartjie maak en gesorg hulle sit langs mekaar aan tafel. “Ons het dadelik gekliek en begin gesels,” onthou Lianie.

Hul romanse het kort daarna begin blom. Sowat ’n jaar later het hul liefdesverhouding ook ’n sakeverhouding geword. Toe sy begin naam maak in die musiekbedryf, het haar pa voorgestel Barry word haar bestuurder. Hy het sy werk by ’n IT-maatskappy in Bloemfontein bedank om voltyds saam met haar te werk.

Ná ’n romanse van sowat twee jaar het hy een aand ná ’n optrede op Hoedspruit gereël dat hulle alleen in ’n boma is. Toe die vuurtjie wat hy daar vir hulle gemaak het, begin knetter, het hy haar die jawoord gevra. Sedertdien het hulle elke jaar vir mekaar gesê: “Vanjaar is die jaar dat ons gaan trou.”

Maar met hul druk werkprogram het elke jaar verbygevlieg. Nie net hou haar musiekloopbaan hulle besig nie; hulle boer ook deeltyds met beeste op Lianie se grootwordplaas by Oranjeville in die Vrystaat.

Op haar 41ste verjaardag op 2 Augustus vanjaar het Barry besluit om ’n plan te maak. Hy het vir haar ’n verrassingspartytjie in Die Patriot, ’n teaterrestaurant in Pretoria, gereël waar die musikante Robbie Wessels, Roan van As en Appel (Christoph Kotzé) opgetree het.

Die troukar. Foto: Martin de Kock
Lianie se solitêrdiamantring is klassiek en tydloos. Foto: Martin de Kock

Toe Barry in ’n stadium op die verhoog verskyn en Lianie daarheen roep, het sy gedink hy wil ’n heildronk op haar instel. Maar hy het gesê: “Dis nou amptelik 10 jaar dat ons verloof is. Kom ons trou ’n slag vanjaar,’’ vertel Lianie.

Binne net agt weke maak hulle toe al die trouplanne wat 10 jaar gesloer het. Sedert September kon kykers hul troubeplanning volg. Met haar werklikheidsreeks wou sy wys hoe die lewe van ’n bekende agter die skerms lyk, sê Lianie.

“Ek glo die reeks het mense ’n kykie gegee daarop dat ek en Barry net gewone mense is wat in ’n gewone huis woon. Ons glo nie in luuksheid of daarin om hoog te leef nie.”

Haar Beer – soos sy Barry noem – het saam met haar in die musiekbedryf gegroei, in voor- en teëspoed. Hy was haar steunpilaar toe haar pa in September 2015 op sy sterfbed was.

“Ek sien baie van my pa se eienskappe in Barry: Hy is hardwerkend, hy volhard, sy woord is sy woord, hy het altyd goeie raad en ondersteun my,” sê Lianie. “Ons vul mekaar goed aan: Sy praat en ek luister,” sê Barry laggend.

Omdat haar sesde soloalbum in September, hul troumaand, uitgereik is, was daar nog nie tyd vir ’n wittebrood nie. “Ons het klaar besluit om in Januarie ’n bietjie weg te gaan. Ek het reeds op my kalender 10 dae uitgehou,” sê Lianie.

Hulle oorweeg Zanzibar, die Krugerwildtuin “of selfs net die plaas”, sê Barry. “Dit sal ons eerste vakansie in 10 jaar wees. Om vakansie te hou was vir ons dieselfde storie as met ons troue,” verduidelik hy.

’n Dag ná die troue het ’n paartjie van die behoeftige Elandspoort, in die weste van Pretoria, op dieselfde plek as Lianie en Barry getrou, met hul blomme en dekor.

As ’n bonus het sy die paartjie op hul spesiale dag verras en haar liedjie Pleister van My Hart vir hulle gesing.

  • Die laaste aflewering van Met My Hele Hart: Lianie May Se Sprokiesverhaal word op 5 Desember om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Bekende gaste deel hul wense

Die sanger Ricus Nel sê hy ken Lianie en Barry al sedert 2008. “Hulle het toe al begin dreig dat hulle sou trou; so ek is bly dat dit eindelik gebeur het.”

Die sangpaar Ricus Nel en Liza Brönner. Foto: Martin de Kock
Bobby van Jaarsveld sê die paartjie moet volhou met wat hulle reg doen. Sy vrou, Annatjie, wens hulle sal altyd die mooiste in mekaar uitbring. Foto: Martin de Kock
Jannie Moolman en Corlea. Foto: Martin de Kock

“Dis omtrent tyd!” voeg sy vrou, die sangeres Liza Brönner, by. Die seremoniemeester, Pieter Koen, se vrou, Lottie, se raad aan die paartjie is “om nooit op te hou bid vir mekaar nie, nooit op te hou praat met mekaar nie en om elke dag moeite te doen met hul huwelik”.

Die sanger Ampie du Preez sê: “Ek steek my hande op na die hemele en sê: ‘Amen!’ Ek het gedink dit gaan nooit gebeur nie en is so bly dat hulle die troue eindelik voltrek.”

Die sangeres Corlea sê Lianie en Barry is ’n voorbeeld vir ander. “Hoe hulle mekaar al soveel jare goed behandel, is vir soveel van ons die verwesenliking van die ideale paartjie. Dit maak my trots om te sien hoe hulle in dié warboelbedryf dit regkry om altyd so sterk te staan.”

Jay (links), sy vrou, Mia, en Theuns Jordaan. Foto: Martin de Kock
Die sanger Roan Ash het die gaste vermaak. Foto: Martin de Kock
Die sanger Robbie Wessels sê hy wens Barry en Lianie “net seën op hul huweliks­pad” toe. Robbie se meisie, Lenice Labuschagne, het hom vergesel. Foto: Martin de Kock

Jannie Moolman sê hy glo “hul pad vorentoe sal baie gelukkig wees en dat hul huwelik vol vrede en liefde sal wees”.

Die sanger Jay du Plessis en sy vrou, Mia, meen Barry en Lianie sal wonderlike ouers wees. “Ek wens hulle honderde jare van geluk en baie kinders en kleinkinders toe.”

Theuns Jordaan sê: “Barry is so ’n geduldige en rustige mens en Lianie ’n regte boeremeisie. Mag hulle net so bly. Ek dink dan sal hulle altyd baie gelukkig wees.”

Francois Jacobs wens die paartjie baie tyd toe om saam te ontspan.

Die bruidspaar bedank:

Kleinkaap-boetiekhotel (Trouplek en kos) 012-654-9878, Kleinkaap.co.za; Violets are blue (Blomme en dekor) 072-630-2719, violetsareblue.co.za; Anél Botha Couture (Trourok) 072-435-5351, anelbotha.com; Moi Noi Designs (Skryfbehoeftes) 072-377-9041, moinoidesigns.co.za; Genevieve Fundaro (Foto's) 076-596-9645, genevievefundaro.com; Doting Moms (Troukoek) 071-113-0789, dotingmoms.co.za; Coquis Mansuitrusters (Bruidegom en gevolg se pakke) 060-886-4043, coquis.co.za; House of superior clothing (strooimeisies en ma's se rokke) 012-362-1968, superclothing.co.za; The Gary rom hair salons (Bruid se hare) 012-991-2309, garyrom.co.za; Ronzar Design Studios (Uitnodigings) 082-697-7894, ronzarstudios.co.za; Profile Beauty (Lianie se stilering) 062-875-4717, wilmariduplessis@gmail.com; Lorean Jewellery (Juweliersware) 074-701-1985, lorean.co.za; Placecol Skin Care Olympus Village (Bruid en gevolg se gesigsbehandelings) 012-991-2941, olympus@placecol.com; Organzit (Lekkernytafel) 084-777-2865, organizit.co.za; Van Loveren Vineyards (wyn) 023-615-1505, vanloveren.co.za; Quentin Venter (platejoggie) 016-889-3488, qmusiek@gmail.com