Die netjiese blondekopman met die bokbaard kan nie uitgepraat raak oor die vrou wat die afgelope jaar sy voete onder hom uitgeslaan het nie. Sy is in sy woorde talentvol, intelligent en mooi; alles waaroor hy gedroom het.

So kosbaar is sy vir hom dat hy op Vrydag 27 Julie douvoordag van Gauteng na KwaZulu-Natal gery het om haar te gaan vertel presies hoe hy oor haar voel.

Al kon hulle mekaar nog nooit vashou of soen nie, nog nooit eens ’n foto saam neem nie, moes hy bloot aan haar die vraag stel wat sy binneste so bly maak.

En dit moes amptelik wees.

Rian Nortjé (33), wat aan die Oos-Rand in die sekuriteitsbedryf werk, vertel hy kon net bid die vrou met die “engelstem” voel dieselfde oor hom.

Hy was ’n bol senuwees toe hy die Saterdagoggend klokslag om agtuur by die hek van die vroueafdeling van die Westville-gevangenis in Durban instap.

“Wat is fout?” het ’n middeljarige man hom bekommerd gepols. Hy was hier om vir sy dogter, een van die gevangenes, te kom kuier. Rian het sy kop geskud.

“Absoluut niks,” het hy geantwoord en gou seker gemaak die blink diamantring is nog veilig in sy sak. “Ek is hier om ’n spesiale vrou in my lewe die groot vraag te vra.” Toe sê die man: “O, dis wat fout is.”

Want Rian het nie gevoel asof hy by ’n gevonnisde moordenares kom kuier nie.

Hy was hier om Nicolette Lotter (36) te vra of sy met hom sal trou.

Dieselfde Nicolette wat haar ma in die kombuis van haar grootwordhuis in Julie 2008 met ’n mes doodgesteek het nadat sy destyds glo deur haar eertydse verloofde gebreinspoel is.

Die moorde

Vanjaar is Nicolette al ’n dekade agter tralies nadat sy en haar jonger broer, Hardus (30), skuldig bevind is aan die moord op hul ouers, Riekie (toe 52) en Johnnie (toe 53). Sy kom eers oor twee jaar in aanmerking vir parool. Sy is in 2012 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis.

Kleinboet Hardus, wat ’n ligter vonnis van 10 jaar opgelê is, is in Maart vanjaar onder streng voorwaardes uit die Sevontein-gevangenis in die KwaZulu-Natalse Middelland op parool vrygelaat nadat hy ses jaar van sy tronkstraf uitgedien het.

Haar broer, Hardus.
Mathew Naidoo, Nicolette se eertydse verloofde, wat ook tronkstraf uitdien.
Nicolette in die beskuldigdebank.

Mathew Naidoo, Nicolette se destydse verloofde, het hom aan die sibbes voorgehou as “die derde seun van God” en hulle gebreinspoel om hul ouers te vermoor. Hy dien 25 jaar tronkstraf in ’n gevangenis op Kokstad uit.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas

Rian erken hy het nie veel van die opspraakwekkende moorde geweet nie tot hy verlede jaar een aand sy televisie aangeskakel en toevallig ingeskakel het op die eerste seisoen van Huisgenoot se televisieprogram Huisgenoot: Ware Lewensdramas op die DStv-kanaal VIA.

In dié episode het verskeie mense met insae in die saak en die sibbes se lewe vertel hoe Mathew (toe 21) hulle oortuig het hul ouers is boos en hulle doen “die werk van God” deur hulle te vermoor.

Op daardie oomblik, toe Rian na die program kyk, het iets in sy hart geroer. Hy vertel hy het net geweet sy pad moet met dié van Nicolette kruis.

“Dit was asof die Here wou hê ek moes daardie program kyk,” sê hy.

Rian vertel hy het Nicolette “onvoorwaardelik” lief. Hul paaie het gekruis nadat hy ’n episode van Huisgenoot: Ware Lewensdramas op die DStv-kanaal VIA gekyk het.

Toe Huisgenoot Rian bel om oor sy verlowing die Saterdag te praat, was hy eers huiwerig, maar hy stem toe in om ons by sy huis te ontmoet.

Dit is reeds skemer toe ons hom ná werk, vier dae ná sy verlowing aan Nicolette, vir ’n eksklusiewe onderhoud ontmoet. Hy wil vertel hy is onvoorwaardelik lief vir Nicolette, ongeag wat gebeur het of wat sy in haar verlede gedoen het. Hy het haar aanvaar nes sy is, vertel hy.

“Sy is fantasties; kosbaar,” sê hy asof hy nie genoeg woorde kan vind om sy gevoelens uit te druk nie.

“My ouers is 100% positief. Hulle staan ons by.”

Hy was voorheen getroud en het ’n goeie verhouding met sy ouers, maar verkies om besonderhede oor hulle privaat te hou.

Die verlede

Rian benadruk hy stel nie belang in die verlede nie en het Nicolette nog nooit daaroor gepols nie.

“Ek hoef nie oor die feite van die saak uit te vra nie; ek sal haar nooit veroordeel nie. Ek stel haar behoeftes bo my eie. Ek is lief vir haar vir die mens wie sy is.”

Hy dink as sy ooit die begeerte het om enigiets met hom te deel, sal sy dit doen wanneer sy gereed is.

“Ek het myself belowe ek wil haar nie op die spot plaas nie. As sy die dag uit haar eie met my praat, sal ek daar wees om te luister.”

Dan sê hy ernstig: “Ek voel hulle het hul straf gehad. ’n Mens moet mos ’n tweede kans in die lewe kan kry. Ek wil dit vir haar gee. Ek het haar uit my hart uit lief. Ek sal enigiets vir haar doen.”

Johnnie en Riekie Lotter, wat deur hul kinders vermoor is.

Rian was so ontroer toe hy die Lotters se verhaal in Oktober verlede jaar op TV sien dat hy daarna met moeite met die afgetrede maatskaplike werker Mollie Kemp van Westville kontak gemaak het. Sy het in die program verskyn.

Nicolette en Hardus het as kinders voor dié predikantsvrou en haar man, Gerhard, grootgeword en hulle het mekaar gereeld in die NG kerk Westville gesien. Mollie het hul ouers geken.

Nou vertel Rian van daardie eerste gesprek met Mollie: “Ek het vir haar gesê ek het die program gekyk en my hart voel oop vir Nicolette en haar broer, maar veral vir Nicolette.”

Hy sê hy het insig gehad in wat met hulle gebeur het en hoe hulle gebreinspoel is.

“Ek glo dit wat gebeur het, was glad nie hul bedoeling nie. Ek kon dit sien. Ek sê nie ek is alwetend nie, maar uit my siening het ek geweet. Hulle het so ’n groot straf gekry vir iemand anders se slegheid.”

Toe hy na Mathew verwys, klink hy woedend.

Rian het vir Mollie gevra of hy iets kan doen om te help. By navraag bevestig Mollie, een van ’n hand vol mense wat die sibbes ten spyte van hul gruweldade bly steun, die versoek van Rian.

“Ek het vir hom gesê dis Nicolette en Hardus se besluit of hulle met hom wil kontak maak of nie.”

Mollie vertel Rian het haar sowat ’n week ná die eerste uitsending van die program op 12 Oktober 2017 gekontak.

In die weke wat gevolg het, het sy die boodskap aan Nicolette en Hardus oorgedra.

Hardus het nie belanggestel in Rian se toenadering nie, sê sy, maar Nicolette het Rian nog voor die einde van die jaar uit die bloute gebel.

Rian kan nie presies onthou wanneer dit was nie, maar vertel: “Ek was verras toe sy bel. Sy het gesê dankie dat ek so goedgesind is teenoor haar en haar boetie en dat ek na haar uitgereik het.”

En dit was toe dat hul vriendskap, oor kilometers heen en deur die tralies van die tronk, met die een foongesprek ná die ander ontwikkel het.

Nicolette Lotter is in die vroueafdeling van die Westville-gevangenis in Durban.

Teen April vanjaar het Nicolette Rian elke Vrydag, Saterdag en Sondag van die tronk se telefoonhokkie gebel met die foonkaarte wat hy en ’n steungroepie vir haar koop. Hulle kon telkens net sowat 10 minute lank gesels.

“Sy het my gebel en gevra hoe my dag was en of ek ’n lekker week gehad het. Dan het sy my van haar dag vertel en ons het grappies gemaak,” vertel Rian.

“Sy het ook van Hardus vertel; dat dit goed gaan met hom en dat hy vir haar kom kuier.”

Rian sê Nicolette, wat ’n tronksel met iemand deel, klink altyd positief en praat weinig oor die ontberings van die tronklewe.

“Dit is juis wat my na haar aanlok. Sjoe, die dinge wat ek dink haar kan onderkry,” sê hy en raak emosioneel.

'n Nuwe wending

Hul gesprekke was altyd “oop en eerlik”, maar in April het dit ’n romantiese wending geneem. Hy het besef sy stel werklik in hom belang. Hul gesprekke oor geloof het ook verdiep, sê hy.

“Sy sal sê sy bid elke dag vir my en dat ek moet veilig wees in my werksituasie.”

Begin Julie het Rian van Johannesburg na Durban gevlieg en die eerste keer in die tronk vir Nicolette gaan kuier.

Mollie vertel sy het Rian met sy eerste besoek by die gastehuis daar naby ontmoet. Hy het haar opgeval as ’n “eerlike en opregte Afrikaanse boerseun”.

Sy het hom gemaan om Nicolette op te pas.

“Ek het vir hom gesê hy moet dink oor waarmee hy besig is; dat hy haar nie moet ontstel nie.”

Maar vir Rian was die koeël deur die kerk. Oor sy eerste ontmoeting met die tenger vrou vertel hy: “Ek was stomgeslaan. Sy was so vol smiles. So opgewonde.”

Hy sê hy het met die eerste oogopslag geweet sy is “die een”.

Nicolette het anders gelyk as op die foto’s wat ná die moorde en tydens die hofsaak gepubliseer is. Haar lang blonde hare van die dae in die beskuldigdebank in die hof is vir ’n kort kapsel met ligte strepe verruil.

“Dit lyk pragtig,” sê hy.

Hy is nie toegelaat om ’n selfoon in te neem om ’n foto van haar te neem nie, maar kon vir haar iets te ete neem. Wegneemhoender.

“Sy het skaars geëet. Ek het so sleg gevoel. Ek het nog vir haar gevra: ‘Is jy nie honger nie?’ ”

Die twee het land en sand gesels, soos mense wat mekaar al jare ken. Rian raak weer meegevoer toe hy van dié gesprek vertel.

“Net die diepte waarmee sy praat. Dit het my finaal laat besef; dit is nou so.”

Skaam-skaam haal hy uit sy broeksak ’n effens verweerde A4-papier.

Rian en Nicolette se verhouding het ná maande van telefoonoproepe in April “romanties” geraak.
Hy het begin Julie die eerste keer vir haar gaan kuier. Sy het toe vir hom die lirieke gegee van ’n liedjie wat sy vir hom geskryf het.

Dis al vodde gevat omdat hy dit permanent in sy broeksak dra en so dikwels lees. Nicolette het dié papier daar in die tronk vir hom gegee met die lirieke van ’n liedjie wat sy spesiaal vir hom geskryf het.

Die lirieke lui:
You’re one in a million –
my friend. You’re my sweet angel –
without wings. You’ve touched my heart so
much ’cause you care. Throughout the
hard times you were there.

Net ’n week later het Rian die ring van diamante en silwer in ’n brosjure gesien. Hy was eers onseker of dit die regte ring is, want hy wou hê die ring vir sy droomvrou moet volmaak wees.

Hy het daaroor gebid, sê hy, en toe hy die ring kort daarna ook op televisie sien, was dit vir hom soos ’n bevestiging dat hy reg gekies het.

’n Week voor hy weer Durban toe is, het hy dit bestel en toe gaan haal.

Dié keer het hy nie gevlieg nie; hy het gery. Kilometer ná kilometer ná kilometer na sy trouvrou toe.

Toe hy by die gevangenis aankom – dit was sy tweede besoek – het hy senuagtig met die ring in sy sak na binne gestap. Die ring, vertel hy, was in ’n klein boksie, met die liedjie se papier bedek, in sy hempsak.

Die ring van diamante en silwer.

Daar, in die raserige, vaal besoekersaal, het Nicolette vir hom sit en wag. Hulle sou net twee uur hê om tydens besoektyd
te gesels.

Die man wat buite die tronk vir hom gevra het wat fout is, het opgewonde nader gestaan en voor Nicolette gevra: “So, het sy al ja gesê?”

Nou vertel Rian hy wou sy kop onder die tafel indruk, maar hy dink nie Nicolette het dadelik iets vermoed nie.

Tog het sy geterg: “Ja, ek sal.”

Hulle het ’n rukkie gesels en toe het Rian die moed bymekaargeskraap en vir haar vertel hy is “ernstig” oor haar.

“Sy het vir my gesê: ‘Ek voel 100% dieselfde.’ ”

En toe Nicolette vir Rian vertel hy hoef nooit oor haar gevoelens te twyfel nie, het hy geweet dit is die regte tyd.

“Ek moet dit nóú doen. Maar toe is net 15 minute oor voor die einde van die besoek.”

Rian Nortjé, wat aan die Oos-Rand in die sekuriteitsbedryf werk, het onlangs die moordenares Nicolette Lotter die jawoord gevra. Sy het ja gesê.

Rian wou op sy knie neersak, maar wou nie voor die bewaarders ’n bohaai maak nie. Hy het Nicolette se hand gevat en gesê: “Nicolette Lotter, sal jy my die gelukkigste man ter wêreld maak en my vrou wees, asseblief?”

Hy straal toe hy vertel: “Sy het ’n oomblik stilgebly en haar oë het geblink. Toe sê sy: ‘Ek sal; ek sal.’ ”

Rian se oë skiet vol trane toe hy vertel Nicolette was in die wolke.

“Sy was in ekstase. Die ene vrolikheid.”

Hy was daarna so vol vreugde, so vol adrenalien, dat hy “sommer iets simpels gaan doen het”, sê Rian. By uShaka Marine World het hy in ’n hok tussen haaie gaan duik.

Later vertel Mollie aan Huisgenoot sy het Nicolette in die week ná haar verlowing aan Rian gesien en dat sy opgewonde is oor die vooruitsig van ’n toekoms saam met hom.

Ten spyte van alles wat gebeur het, het sy iemand ontmoet wat vir haar lief is.

Rian vertel Nicolette het in die dae ná hul verlowing pal in sy gedagtes gebly. Hy kyk na sy pols en wys na die kleurryke armbandjies.

Sy het dit vir hom van papier gemaak en gegee, en ook ’n handgemaakte kaartjie waarin in sierskrif geskryf is: “Liewe Rian, baie dankie dat jy weer vir my kom kuier het. Dit beteken regtig baie!”

Toe hy einde Julie gaan kuier en haar vra om te trou, het sy vir hom ’n selfgemaakte kaartjie gegee.

Sy skryf verder: “Dit is so lekker om jou te sien en met jou te gesels en jou beter te leer ken. Jy is ’n pragtige mens met ’n baie goeie hart en ek waardeer jou ondersteuning. Ek geniet dit om met jou te gesels en in jou mooi groen oë te kyk. Dankie vir die mens wie jy is.”

Dit eindig: “Met baie seën. xx Groete Nicolette.”

Rian is trots op sy verloofde.

“Sy is besig met haar studie in teologie. Sy het die naweek haar punte vir my gewys; alles onderskeidings. Jy kan sien sy probeer werklik haar doel bereik en sy gaan volstoom daarvoor.”

Dan raak hy weer liries oor die vrou wat hom die jawoord gegee het.

“Ek is in die wolke. Sy is intelligent, kreatief en talentvol. En sy sing soos ’n engel.”

Voor hy ná sy laaste besoek by haar weg is, het hy haar belowe niks sal ooit tussen hulle verander nie.

Selfs al moet hy nog twee jaar wag voor sy op parool vrygelaat word. Tot dan sal hy soveel moontlik vir haar gaan kuier.

“Ons deal met die situasie soos dit nou is. Ek kan dit nie verander soos dit nou is nie. Ek sal heelpad daar wees vir haar. Ek gaan nêrens heen nie.

“Ek wil haar hand vat en haar steun die dag wanneer sy uitkom. Hoekom anders sou die Here haar op my pad gesit het as dit nie was dat ons gelukkig saam moet wees nie? Ek het haar belowe ek wag vir haar en niks kan dit verander nie.

“Ek weet die toekoms gaan vir ons twee net vreugde inhou.”  

Nicolette

Huisgenoot kon nie met Nicolette praat nie omdat sy in die gevangenis is.

Ds. Willem Lotter van Durbanville, wyle Johnnie se broer, het bevestig hy het van haar verlowing verneem.

“Ons het Sondagaand (29 Julie) vir die eerste keer van Rian en Nicolette se verlowing kennis geneem. Ons is bewus van die uitdagings wat die huidige opset vir hulle kan inhou, maar gun hulle geluk en ’n nuwe lewe.

“Ons ken nie vir Rian nie en weet te min van die verhouding om enigsins verder kommentaar daaroor te lewer.”

FOTO'S: GALLO IMAGES/FOTO24/BONGIWE GUMEDE, ONKGOPOTSE KOLOTI