Só het Marietjie Vosloo, wat in Mauritius van aanranding skuldig bevind is na die dood van haar stiefdogter, Mundolene (17), Woensdagaand by die OR Tambo-lughawe aan Huisgenoot.com gesê.

Haar seun was 11 tydens die voorval in Oktober 2016 en is nou reeds 13.

Sy kon hom nie dadelik Woensdag sien nie want hy was by sy pa in Margate, KwaZulu-Natal. Sy het Woensdag nog nie geweet wanneer sy hom weer gaan sien nie.

Waarna sy die meeste uitsien is 'n warm bad, 'n warm bed, 'n kussing en 'n tuisgemaakte bord kos.

"Ek is elke dag van my lewe jammer oor wat ek gedoen het. My knieë is deurgebid."

Marietjie (34) is deur haar ouer broer, Jan Jacobs (43) van Springs en 'n vriend van hom by die lughawe ontvang nadat sy op die eerste vlug geland het.

Foto: Jana van der Merwe

Hy het egter gedink sy is op die laaste vlug van Mauritius en moes eers vir hom wag. Sy het die vorige aand glo haar vlug gemis omdat sy nog nie magtiging gehad het om die eiland te verlaat nie.

Marietjie is op 5 Oktober 2016 by die luukse Hotel Riu op die eiland in hegtenis geneem ná sy Mundolene tydens wat die eerste dag van hul vakansie was, geslaan het.

Mundolene is in dié fratsvoorval kort daarna dood.

Marietjie het Maandag ’n vry vrou by die hof gestap nadat sy ’n vonnis van 15 maande vir aanranding opgelê is, waarvan die 532 oftewel 17 maande wat sy reeds agter tralies deurgebring het, daarby afgetrek is. 

“Ek is bly vir haar en die uiteinde van die saak,” het Zaredhin Jaunbacchus, haar prokureur, Maandag aan Huisgenoot na die afloop van die hofsaak in Port Louis, die hoofstad van Mauritius, per SMS gesê.