Teen die muur van sy kantoor hang ’n foto van die wit “tentedorp” waar die leerders van sy skool drie maande lank op die sportterrein moes klasloop toe hy sy tande hier as skoolhoof moes slyt.

Daar, tussen die wapperende tente, moes hy die geskokte onderwysers op koers hou en die getraumatiseerde tieners wys jy kán en moet selfs anderkant die grootste seer weer opstaan.

Ricardo Erasmus (56) was toe al 23 jaar lank ’n “Hoekie”, ’n onderwyser by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, en adjunkhoof van die skool wat hy oor die dekades heen so liefgekry het. Streng; lief vir sport; toegewyd aan sy gemeenskap.

Ricardo Erasmus. Foto: ER Lombard
Ricardo Erasmus. Foto: ER Lombard

Maar toe stort ’n loopbrug tussen klaskamers op 1 Februarie verlede jaar net ná die oggendbyeenkoms op die skoolterrein ineen – vier leerders is dood; meer as 20 beseer. En ses weke later moet die skoolhoof, Hein Knoetzé (60), aftree.

Dit was toe dat Ricardo as waarnemende skoolhoof by sy geliefde, maar nou gebroke, skoolgemeenskap moes aanmeld.

“Dit was ’n baie deurmekaar tyd,” onthou Ricardo presies ’n jaar ná die dag toe leerders hul maats uit die puin moes red en desperate ouers met hul aankoms by die skool by onderwysers moes pleit: “Leef my kind?”

'Dit was ’n baie deurmekaar tyd,'onthou Ricardo. F
'Dit was ’n baie deurmekaar tyd,'onthou Ricardo. Foto: ER Lombard

Die weke daarna was ’n warboel. Eers was die skool twee weke lank gesluit, en toe moes klasse weer voortgaan, al was die wonde nog rou. Omdat die brug herstel moes word en die skoolgebou eers ondersoek moes word vir moontlike ander swakplekke, is tente op die sportterrein opgeslaan waar die leerders sou klas loop.

“Die onderwysers kon net een keer ná die ongeluk weer in hul klaskamers gaan om hul goed te gaan haal. Terwyl ons in die tentdorp skoolgehou het, kon niemand in hul klaskamers ingaan nie,” onthou Ricardo.

Jy weet alles voel nie reg nie, maar ons moes probeer om aan te gaan, net sodat dinge weer kan normaliseer.

Die somerreën het die hoëveld soms gelooi, en ouers was nog verward en beangs ná die skok van die ongeluk.

“Ek onthou veral daardie een dag toe die reën die water by die tente ingeslaan het. Verstaan, ons het nou net ’n maand terug ’n brug gehad wat val, dan reën dit en die kinders gly op die gras en die ouers bel beangs skool toe: ‘My kind, my kind!’

“Talle kinders moes berading kry, hier was elke dag inwoners en mense van kerke wat uitgereik het, maar vir ons as bestuur het dit soos ’n drukkoker gevoel,” onthou Ricardo. “Jy weet alles voel nie reg nie, maar ons moes probeer om aan te gaan, net sodat dinge weer kan normaliseer.

“Dit was veral moeilik vir die onderwysers. As bestuur het ons net gevoel ons kan nie slack nie, die kinders moes inhaal, dit was die hele tyd: Is jy op datum? Hoe ver is jy agter? Ons het saalperiodes begin afstaan, net om werk in te haal.”

Die brug is herstel en op 23 April veilig verklaar, maar voor dit gebeur het, is ouers genooi om hand aan hand met hul kinders daaroor te stap om self te sien dat dit veilig is; dat hulle met gemoedsrus daaroor kan loop.

Die amptelike opening van die nuwe brug. Foto: ER
Die amptelike opening van die nuwe brug. Foto: ER Lombard

Vandag, met die herdenking van die tragedie wat die skoolgemeenskap tot in sy fondamente geruk het, loop leerders weer elke skooldag oor die brug. Maar al gesels hulle vrolik oor skoolsake en tipiese tienerdinge, sit die onthou steeds vlak.

Die herstelde brug. Foto: ER Lombard

Die foon lui kort-kort terwyl Ricardo in sy ruim kantoor terugdink aan sy eerste jaar as hoof van die skool. Af en toe klop iemand aan sy deur.

Hy is in September permanent as skoolhoof aangestel en die kantoor wat eens Hein s’n was, is nou volledig syne. Benewens die foto van die tentedorp, hang daar teen die muur ook foto’s van hom en sy vrou, Elbé (56), en hul seuns, Ricardo jr. (30) en Marco (28).

Sy eerste jaar in die tuig was nie maklik nie. Benewens die brugramp, het afleggings by die staalmaatskappy ArcelorMittal in die Vaaldriehoek einde verlede jaar talle ouers geraak.

Tog het die skool verlede jaar beter as die vorige jaar met ’n matriekslaagsyfer van 98% presteer.

“Hier is 1 050 kinders; ek sal nie weet wat presies in elkeen van hulle se kop aangaan nie. Maar dit lyk asof die skool weer is waar ons was; daar is nie meer kinders wat angsbevange raak nie.

'Jy weet alles voel nie reg nie, maar ons moes pro
'Jy weet alles voel nie reg nie, maar ons moes probeer om aan te gaan, net sodat dinge weer kan normaliseer.' Foto: ER Lombard

“Einde verlede jaar kon ek nog sien een laaitie kry swaar. Maar dit is normaal, hy het immers sy beste maat verloor, dis nie dat jy net vergeet nie.”

Ricardo het op die oggend van die ongeluk die saalbyeenkoms behartig. Hy was daarna op pad terug na sy kantoor toe die brug wat die saal met die klaskamers op die eerste vloer verbind, voor sy oë in duie stort.

Ons was daar, ja, maar ek dink dit was erger vir ’n pa of ’n ma wat nie geweet het wat aangaan nie.

Hy onthou hoe van die onderwysers en ouer seuns die brug wou oplig; hoe hy die sportterrein se hekke gaan oopmaak en in die pad vir die ambulanse gaan wag het; hoe hy ’n luidspreker gaan haal het om sy woorde oor die angskrete te laat opklink; hoe hy terug is veld toe om ’n nooddienshelikopter in te wag.

“Dit was ’n hectic storie – van die oomblik toe daardie ding val tot ek eindelik hier buite in die ligte reën staan en wonder: Hoekom het dit nou eintlik hier gebeur?”

Dan onthou hy die Sondag ná die ongeluk toe hy en drie lede van die beheerliggaam gegaan het vir ’n beradingsessie by ’n kerk.

“Ek het die drie manne om my so gekyk en vir hulle gesê: Ons was daar, ja, maar ek dink dit was erger vir ’n pa of ’n ma wat nie geweet het wat aangaan nie.”

Hy bly ’n oomblik stil, dan stoei hy teen die trane. Want hy dink aan die ouers van die kinders wat dood is: Roydon Olckers (17), Marli Currie (14), Jandré Steyn (13), en Marnus Nagel (16).

Niemand hoef hom daaraan te herinner dat dit ’n jaar is sedert daardie vreeslike dag nie.

Ricardo voor die herstelde brug. Foto: ER Lombard
Ricardo voor die herstelde brug. Foto: ER Lombard

“Jy wéét dit, dit is heeltyd daar. Berading het die meeste van ons gehelp, maar nie almal nie. Tog weet ek jy kan nie net bly stilstaan nie, jy moet vorentoe kyk en met jou lewe aangaan.”

Daarom weet hy reeds wat sy boodskap met die herdenking van die gebeure sal wees wanneer die gedenkdiens Vrydag 31 Januarie by die skool gehou word: “Om vir mekaar om te gee en te onthou, maar ook om aan te gaan met ons lewe.”

En wanneer die kunswerk deur die beeldhouer Jacques van der Westhuizen hier op die dag onthul word, hoop hy dit sal ’n plek wees waar die Hoekies in die toekoms saam of soms net op hul eie sal kan stil word en ’n krans kan neerlê.

Ricardo weet hy sal altyd onthou hoe die Here die Hoekie-gemeenskap vasgehou het.

“Hy het ons die krag en insig gegee. Deur Hom sou ons niks reggekry het nie.”

Die afgetrede hoof
Hein Knoetze. Foto: Papi Morake
Hein Knoetze. Foto: Papi Morake

Hein Knoetze (60) moes op 15 Maart verlede jaar as skoolhoof van die Hoërskool Driehoek aftree – ses weke nadat die brug op die skoolgronde ineengestort en vier lewens geëis het.

Hy en sy vrou, Ina, het intussen uit die Vaaldriehoek getrek en woon nou op Tergniet, ’n kusdorpie naby Mosselbaai.

Maar hy vertel hy reis die land plat en hou by skole en kerke praatjies oor hoe mense te midde van tragedie hoop kan vind.

“So ’n ding verander jou; dit verdiep jou,” verduidelik hy.

“Elke keer as ek met mense daaroor praat, is ek weer intens bewus van wat gebeur het. Dit word deel van jou, dit is iets waarmee jy moet saamleef. Nee, eerder meeleef.”

Hy herinner nou mense wat hy toespreek “om elke dag voluit te leef, want nie een van ons weet wat hou die dag van môre in nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.