Hy is die man wat die mees omstrede sakemagnaat in die land deur die stormwaters van Suid-Afrika se grootste sakekrisis ooit moet stuur.

Die een wat sy nou berugte kliënt van regsadvies moet voorsien – of hy dan nou skeefgetrap het of nie . . .

Ontmoet Francois van Zyl SC – senior advokaat, legende in regskringe en ’n man met ’n moeilike taak op hande.

Dis immers nie aldag dat ’n mens aangewys word as die regsverteenwoordiger van ’n man wie se bedanking uit sy sakeryk veroorsaak het dat miljarde rande byna oornag van die aandelemark verdwyn het nie.

Maar nou is Francois die een wat die gevalle Steinhoff-grootbaas, Markus Jooste, moet verdedig terwyl bewerings oor finansiële ongerymdhede by dié kleinhandelsreus maar net nie wil wyk nie.

Francois saam met Mar­kus tydens dié se eerste verskyning in die parlement op 5 September. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met die intrapslag by sy kantoor in die Hugenote-advokatekamers digby die hooggeregshof in Kaapstad skep die foto’s van kinders en kleinkinders ’n gemoedelike atmosfeer.

Deur ’n groot glasvenster is die hange van Tafelberg sigbaar, groen ná die onlangse reën. Die man agter die lessenaar se blik is intimiderend, maar dan sprei ’n groot glimlag oor sy gesig.

“Sit, sit. Soek julle koffie?” vra hy en tel die telefoon op.

“Hallo, Dirkie, kry gou vir ons drie cappuccino’s, asseblief.”

Toe Markus op 5 September voor die parlementêre finansieskomitee verskyn ná nege maande uit die openbare oog sedert die Steinhoff-bom in Desember verlede jaar gebars het, het hy verbasend selfversekerd gelyk.

Die rede daarvoor?

Heel moontlik dié man wat langs die konferensietafel inskuif. Met verskeie hoëprofielsake en 46 jaar ervaring agter sy naam word Francois as ’n plaaslike regslegende beskou.

Shrien Dewani, Schabir Shaik en Adriaan Nieuwoudt is almal manne wat by dié vlymskerp regsbrein kom aanklop het.

By die vrygespreekte Shrien Dewani na afloop van dié se verhoor in 2014. Foto: Verskaf

En nou is Francois en die prokureur Callie Albertyn die mans in die hoek van Markus Jooste, wie se bloed gesoek word deur skatryk sakelui sowel as behoeftige pensioenfondslede wat geld verloor het toe die Steinhoff-aandelepryse tuimel.

Op die kantoorvloer is oral stapels papiere, boeke en bokse. Alles sake waaraan hy tans werk, beduie Francois.

“Dit is ’n georganiseerde gemors, maar ek weet darem presies waar alles is.”

Dis waar, kom jy gou agter wanneer jy hom oor sy loopbaan uitvra. Die 71-jarige regsveteraan onthou elke saak waaraan hy al gewerk het tot in die fynste besonderheid.

Elke hofdatum, elke betoog en regspunt. Vra jy hom oor sy grootwordjare, onthou hy dit net so skerp.

Francois is in 1947 gebore op die piepklein Noord-Kaapse dorpie Springbok as die middelkind van pa Fred en ma Beatra, albei onderwysers by Springbok se laerskool.

Sy hoërskooljare het hy as koshuiskind aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad voltooi.

Nee, hy was nie ’n akademiese ster of goeie rugbyman nie.

Ek hou daarvan om my eie ding te doen en is vol nonsens

“Ek was net ’n middel-van-die-pad- vaal seuntjie . . . met die bynaam Ballie omdat ek vet was,” sê hy en lag lekker.

“Ek trek nogal byname aan. Tydens my nege maande diensplig op Zeerust was my naam Sakkie, want ek was in ’n bungalow saam met Engelse ouens. En op universiteit was dit Jack. Sommige kollegas noem my vandag nog Jack.”

Nou hoe het die “middel-van-die-pad-seuntjie” dan op die regspad beland om een van die heel beste advokate in die land te word? Francois lag weer. 

“Ek kon ’n beurs daarvoor kry; so eenvoudig soos dit. Ek wou nie ’n onderwysbeurs hê nie omdat albei my ouers onderwysers was. En die regte het soos ’n goeie keuse gelyk.”

Hy was ’n voorbeeldige regstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ja, ek het ’n lekker studentelewe gehad. Maar sien, omdat ek uit ’n konserwatiewe huis gekom het en tydens vakansies by Justisie gewerk het, was ek gou bewus van die moeilikheid waarin ’n mens kon beland.

“So, nee, ek het nooit op universiteit dagga gerook nie. Ek was doodbang daarvoor, want dan is dit neusie verby met jou.”

As beursstudent het hy dit nie breed gehad nie, maar sy lewe het ’n goeie wending geneem toe hy in 1967 ’n splinternuwe motor kry.

“Deur ’n Rice Krispies-kompetisie nogal, kan jy glo.” Sy ouers het destyds in die Strand gaan aftree.

“Sondae was Rice Krispies-oggende. Daar was ’n kompetisie vir ’n ligblou Fordmotortjie. Ek het my pa gehelp om die hele familie se name in te skryf, en toe wen my ma.”

Ma Beatra het die kar vir hom gegee sodat hy by hulle in die Strand kon woon en Stellenbosch toe ry vir klasse. Sou hy vandag weer die regte kies?

“O ja, ek het beslis die regte ding geswot. Dit pas my persoonlikheid, want ek is nie ’n goeie spanspeler nie. Ek hou daarvan om my eie ding te doen en is vol nonsens. Dinge moet reg wees.”

Dan loer hy rond na die stapels dokumente en bokse.

“Ja, goed, jy sal dit nie sê as jy na my kantoor kyk nie . . .”

Ingevolge sy beursooreenkoms moes hy ná sy studie vyf jaar lank as staatsaanklaer werk, maar hy het dié werk eindelik 15 jaar lank gedoen. Op 17 April 1972 is hy as staatsadvokaat toegelaat.

Ses maande lank het hy in die Kaapse laer howe aangekla. In hierdie tyd het hy ook sy toekomstige vrou, Elma, ontmoet.

Ek mag nie en sal nie oor my kliënt praat nie

Toe hy kort daarna verplaas word na die kantoor van die prokureur-generaal in Bloemfontein, het Elma, wat biblioteekwese studeer het, ook ’n werk in die Rosestad gekry.

“In daardie tyd kon ’n mens mos nie saamwoon nie; so toe trou ons. Op 16 Desember 1972 om elfuur die oggend.”

Francois was nog in sy 20’s toe hy na Windhoek oorgeplaas is as senior staatsadvokaat in die hooggeregshof. 

“Ons oudste kind is in 1977 in Windhoek gebore toe ek 30 was,” onthou hy.

In 1983 het hy prokureur-generaal van die voormalige Transkei geword.

“Ek het dit drie jaar gedoen voor ek terug is Kaap toe. In Julie 1988 het ek bedank en einde van daardie jaar my balie-eksamen geskryf. In Januarie 1989 het ek begin praktiseer,” ryg hy die datums uit.

In Augustus 2000 het hy ’n senior advokaat geword. Die vriendelike Francois se gesig word strak en hy vou sy arms toe ons hom oor Markus vra.

“Ek mag nie en sal nie oor my kliënt praat nie. Nie ’n woord nie.”

Hy wil nie vertel waar hy Markus ontmoet het of hoe dit met Markus se vrou, Ingrid, of hul kinders gaan nie.

“In opdrag van sy prokureur verteenwoordig ek Markus. Dit is al wat ek gaan sê.”

Hy is eintlik ’n groter familieman as regsman, vertel Francois.

Twee dogters, vier kleinkinders. Hy beduie na die foto’s.

“Jy kan mos sien, ek het die twee blondies, en ’n klein seuntjie daar by die kameelperd, en dan het ek die bekkige dogtertjie wat daar regs by haar ma sit.”

Oupa se trots, verklap sy glimlag. Die familie kuier graag saam by die vakansiehuis op Onrus of reis op die platteland. Bederf hy en Elma mekaar nog ná 46 jaar saam?

“Vir my 70ste verjaardag het my vrou my laat oplaai in dít,” sê hy en wys ’n foto op sy selfoon van hom by ’n rooi Ferrari.

“Die kar het my toe gevat na ’n helikopter waarmee ons oor die hele Kaap gevlieg het. Die helikopter is toe met my na Stellenbosch, waar my beeldskone vrou vir my by ’n restaurant gewag het.”

Dan probeer ons weer: Hoe lank gaan Markus Jooste nog in die spervuur wees?

En dadelik word die vriendelike familieman weer die onversteurbare regsman. En hy sê niks . . . 

Drie groot sake

Adriaan Nieuwoudt (1984-’86)

Francois was die aanklaer in hierdie berugte diamantsaak. Nieuwoudt is verhoor en skuldig bevind weens die diefstal van 25 vuurhoutjieboksies vol ongeslypte diamante. Hy het 11 jaar tronkstraf gekry, wat later tot agt jaar verminder is.

Schabir Shaik (2005)

Met Francois aan sy kant is Shaik skuldig bevind aan klagte van bedrog en korrupsie. Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, maar is in Maart 2009 op mediese parool vrygelaat ná net meer as twee jaar agter tralies.

Shrien Dewani (2010-’14)

Shrien is aangekla van die ontvoering van en huurmoord op sy vrou, Anni, op hul wittebrood in Kaapstad. Francois en die advokaat Pieter Botha (wat onlangs die bylmoordenaar Henri van Breda verdedig het) het die hooggeregshof oortuig die biseksuele Shrien het geen moordmotief gehad nie. Shrien is in 2014 vrygelaat.