Dit is reeds laat op ’n Vrydagaand in die klein dorpie van Morayfield, Queensland in Australië. Die tydsverskil beteken Morayfield is agt ure voor Johannesburg.

Johan Porter (53) se diep stem klink hees wanneer hy sy selfoon antwoord. Hy stel hom as “Joe” voor. Daar is ’n effense twang van ’n Australiese aksent wanneer hy antwoord. Dan draai hy weg van die gehoorstuk en hoes. Wanneer hy praat, klink hy sielsmoeg.

“Die Aussies noem my 'Joe' hier,” sê hy, “Dis makliker op die tong, maar noem my maar nes julle wil.”

Johan en sy vrou, Carmen (40), woon reeds 15 jaar oorsee.

Dit is moeilik om vir iemand in Johan se situasie te moet vra hoe dit gaan. Hy en Carmen is deur diep waters. 

“God sal nie vir jou ’n kruis gee wat jy nie kan dra nie,” is Johan se moedige antwoord.

Dit is dae ná sy geliefde ma, Lenie (70) se dood. Sy was in Australië was om haar seun en skoondogter by te staan na ’n vreeslike tragedie die gesin getref het.

Net meer as ’n maand gelede het albei Johan en Carmen se kinders, Michael (2) en Joshua (16 maande) in hul swembad beland en weke gelede het Johan langs hul beddens in die Queensland-kinderhospitaal gestaan en die dokters toestemming gegee om die lewensondersteunende masjiene af te skakel.

Klein Michael en Joshua Porter het albei kort na mekaar weens verdrinking in Queensland, Australië gesterf. Foto: Verskaf
Michael en Joshua
Foto: Verskaf

Saam moes hy en Carmen toekyk hoe hul eens bedrywige en lewenslustige woelwaters sterf. In 2014 is ook hul dogtertjie, Hannah, dood na sy te vroeg gebore is en in 2017 het sy pa, Ernie sr. (74) ook gesterf.

Dit is die eerste keer sedert die tragedie dat Johan met die media praat. Dit is asof die woorde net makliker in Afrikaans kom wanneer hy oor sy en sy vrou se seer praat, wanneer hy moet vertel hoe stukkend hy is en hoe dit hom breek elke keer wat hy nog op hul speelgoed in en om die huis afkom.

Eers sy kinders – en toe sy ma.

“Ek bid net vir God dat die bittere weke verby moet kom,” sê hy. “Toe ek hoor my ma is dood het ek gesê: ‘God, net nie my ma ook nie.’”

Sy ma, Lenie, het op 5 April gevlieg om op 7 April die seuns se gesamentlike roudiens by te woon. Sy is op 30 April dood toe ’n bloedklont deur haar long en hart is.

Dit verg ’n ompad vir Johan om oor die tragiese gebeure oop te maak.

“Carmen, my wonderlike vrou van 19 jaar, het grootgeword in Pretoria en ek regoor Suid-Afrika, maar ons het op die rugbyveld in Bronkhorstspruit ontmoet. Ek het vir Bronkies rugby gespeel. Sy het onderwys by Tukkies geswot,” vertel Johan, ’n dieselwerktuigkundige, oor hul pad saam.

Dit was ’n lewensveranderende gebeurtenis in 2003 wat die saad geplant het; wat veroorsaak het dat hulle eerder uit die land wil padgee in die hoop op ’n beter toekoms elders.

Dit was die dag toe hy op pad werk toe gedink het hy kom op ’n ongelukstoneel af, maar eintlik was dit ’n transitorooftog wat skeefgeloop het.

Johan en Carmen Porter is gebroke na die dood van
Johan en Carmen Porter is gebroke ná die dood van hul kinders en nou ook Johan se ma. Foto: Facebook

“Die rowers het begin om op my te skiet. Daar het Uzi-masjiengewere gelê. Ek het ook ’n wapen opgetel en begin skiet... Van hulle was met AK47’s gewapen. Ek het eindelik my hande in die lug opgesteek. Ons is beveel om op die grond te lê. Die sekuriteitswag is net daar langs my doodgeskiet.”

Hy en Carmen, 'n onderwyseres, is in 2004 vort na Australië na hy op die radio gehoor het die land is opsoek na dieselwerktuigkundiges.

“Ek mis my kultuur, maar gelukkig hou die Aussies ook van potjiekos. En Australië is ’n vriendelike nasie, maar my bloed is nog groen as die Bokke speel en nog blou as dit kom by die Superrugby...”

Hoe hanteer hy die gebeurtenisse wat hulle so ver van hul familie in Suid-Afrika moes tref?

Hy herhaal weer: “God sal nie vir my ’n kruis gee as hy weet ek kan dit nie dra nie.”

Hy hoes weer, elke keer hewiger.

“Jammer. Ek is fisiek uitgeput. Ek is sielsmoeg. Ek wens niemand dit toe nie. Dit is hard. Dit is seer. Dit is rou. Ek mis al drie my kinders. Ek het vyf mense in vier jaar verloor. Eers Hannah, toe my pa, toe my twee kinders en nou my ma.”

En dan vertel hy van die tragedie van Maandag, 25 Maart.

“Carmen werk by ’n dagsorgsentrum. Sy werk Maandae net halfdag. As ek by die werk kom bel ek haar, as ek by die werk ry bel ek haar. Dis ’n gewoonte.”

Johan vertel toe hy en Carmen die middag voor sy tuiskoms praat, kon hy nog kinderstemme in die agtergrond hoor.

“Ek het vir Carmen gesê ek wil net graag voor ek kom vir die kinders elkeen ’n tjoklit koop. Joshie het nog geskree: ‘Dadda!’ Ek kon Michael hoor wat vra wanneer Dadda huis toe kom. In daardie twee minute wat ek en Carmen met mekaar gepraat het is hulle by die voordeur uit. In daardie twee minute het alles verander.”

Die kinders by hul ma, Carmen. Foto: Verskaf
Die kinders by hul ma, Carmen. Foto: Verskaf

Hy vertel toe Carmen aflui, het sy dadelik na die kinders gaan soek.

“Toe sy om die huis kom kon sy dadelik aanvoel daar is fout. Sy het toe sy nader kom eerste vir Michael in die swembad gesien.”

Johan bly vir ’n oomblik stil. Die stilte is byna tasbaar.

“Sy het in die swembad geduik. Sy het Michael uitgehaal en op die swembad se rand gesit. Toe sien sy vir Joshie. Haal Joshua uit. Die paramedici sê hulle weet nie hoe het sy dit reggekry om op albei CPR (noodredding) te doen nie. Dit was ’n onbegonne taak, maar sy het. Ek was toe nog heeltemal onbewus van sake...”

Carmen het hom gebel nadat die nooddienste opgedaag het. Wie hulle gebel het, weet hy nie.

“Sy het net uitgebars in trane. Ek het gevra: ‘Wat’s fout?’. Sy het net gesê: ‘Kom net huis toe.’ Ek het geweet daar is fout. Ek het nie geweet wat dit is en hoe erg nie... Toe ek in ons straat indraai, toe sien ek die ambulanse, toe weet ek: Hier is probleme. Ek het om die huis gestap. Ek het gesien hulle is besig met die kinders. Ek het gesien hoe hulle vir Carmen probeer kalmeer. Toe het ek net gecrack.”

Johan is saam met Michael na die Caboolture-hospitaal in die buurdorp, Caboolture. Carmen is saam met Joshua na die Lady Cilento-hospitaal.

Dié hospitaal in die suide van Brisbane, ook bekend as die Queensland-kindershospitaal, is meer as 50 km suid van Morayfield. Brisbane is Queensland se hoofstad.

Klein Michael Porter (2) en sy boetie, Joshua (16
Klein Michael Porter (2) en sy boetie, Joshua (16 maande), was onafskeidbaar. Foto: Verskaf

Hulle het Joshua later dieselfde dag ook per lug ambulans vanaf Caboolture na Queensland oorgeplaas toe hy meer stabiel was. Mense van hul kerk het ingegryp en hulle kom bystaan. Hulle het ook vir Johan na die hospitaal gevat sodat hy nie self hoef te ry nie.

“Michael is die Vrydag eerste breindood verklaar.”

Vir ’n oomblik klink hy desperaat.

“Ek wou dit nie aanvaar nie! Ek het daarop aangedring om die uitslag te sien.”

Hy vertel toe Michael heengaan het Joshua se toestand dadelik drasties agteruit begin gaan.

“Hy het intussen weer self begin asemhaal. Ek het vas geglo my kinders gaan huis toe kom.”

Die volgende dag moes hulle ook Joshua se masjiene laat afskakel.

Hulle het besluit om die kinders se organe te skenk. Tien kinders nood is so gehelp.

“Ons het met Hannah geweet hoe dit voel om langs ’n hospitaalbed te sit, om te bid en God te vra laat iets net gebeur en dit het nie... Geen b*****m sal weet hoe dit voel as jy nie jou eie kinders het en daardeur is nie... My seuns het lewens gered. Dalk sou ’n ander ouer nou langs hul kind se bed sit en bid en dan kom daar vir hulle ’n uitkoms. Dis nie vir my nou om te vra hoekom of waarom nie.

“Daai twee seuns het alles saam gedoen.”

Johan klink verlore in sy eie gedagtes terwyl hy laggend vertel hoe graag die kinders by hom en sy vrou ingekruip het.

“Joshie het nog by ons in die kamer geslaap. In die oggendure sou Michael ook by ons kom inkruip. Joshie tussen ons en Michael aan my regtersy. Hulle sou vroeg wakker wees en wil speel, dan vat ek hulle elders in die huis sodat ons nie vir Carmen pla nie. Sy was ‘n baie hands-on ma. Sy het geglo sy moet alles vir hulle doen.”

“Michael het eerste leer visvang soos sy pa en was mal daaroor. Ek het toe vir Joshie ook visstokke gekoop. Ek onthou daardie Saterdag, twee weke tevore. Joshie sou die heeltyd omval met die stok in die water! Ek het dit met ’n tou om sy lyf vasgebind. Hy wou ook lyne ingooi. Dit was sy eerste keer.”

“Michael was veral mal oor sy trokke. Hy het net belanggestel in visvang en sy tools. Ek het vir elkeen so kiddie set gekoop... Dit is wat my hart gebreek het. Om hul speelgoed weg te pak... Ek kom nou nog op hul tools af...”

Sy ma het kort voor haar dood op Dinsdag, 30 April lank by hul huis met Johan oor sy kinderdae gesels, voordat sy vertrek het om by haar suster, wat ook reeds jare in Australië woon, te gaan kuier.

“Terwyl ons so sit toe sê my ma vir my: ‘Seun, ek weet ek sê nie genoeg vir jou hoe lief ek is vir Carmen nie. Weet jy hoeveel het Carmen jou verander? Carmen het jou kalmer gemaak. Ek kan sien hoe lief is julle vir mekaar.’ Ek het vir haar gesê ons het dit by haar en my oorlede pa geleer. Dit was net so lekker om met my ma te gesels. Ek wou hê sy moes weer by ons kom bly.”

Lenie Porter (70) is oorlede minder as 'n maand na
Lenie Porter (70) is oorlede minder as 'n maand nadat sy Australië toe is om haar seun en skoondogter na die dood van hul kinders by te staan. Foto: Facebook

“Ons het haar lughawe toe gevat om by my tannie te gaan kuier. Sy en ‘n wildvreemde vrou het op die lughawe met mekaar gestaan en gesels. Die vrou het nog gesê: ‘Let me take a photo.’ Ek het gesê: ‘Nee, my ma kom terug.’ Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ek haar sien.”

Die Maandag het hy haar oproep gemis. “Sy het gevra hoekom wil ek nie met haar praat nie! Sy het gesê: ‘Sê vir Carmen, dankie vir alles!’”

Die Dinsdag het sy tante hom gebel en gesê dit gaan nie goed met sy ma nie. Haar bors het toegetrek en hulle is hospitaal toe.

“Ek het gesê: ‘God, laat dit net nie my ma ook wees nie.”

Sy is daarna dood.

“Ek bid net vir God dat die bittere weke verbygaan, dat ek alles sal kan aanvaar wat ek nie kan verander nie, dat Hy my as ’n instrument sal gebruik vir ander ouers.”