Die draaiboekskrywer en regisseur van die nuwe prent, Etienne Fourie, het sy debuut in 2013 gemaak met die bekroonde rolprent Die Windpomp. 

Liewe Kersfeesvader gaan oor verlies en wys dat daar niks meer doeltreffend as tragedie is om ’n gebroke familie weer saam te bind nie, sê Etienne.

Hy verduidelik: “Liewe Kersfeesvader is ‘n storie oor die besluit om vir jou familie lief te wees en om hulle te aanvaar, nie ten spyte van hul tekortkominge nie, maar as gevolg daarvan. Die storie is ‘n blik op ‘n gewone en skynbaar onmerkwaardige gesin wat ongewone uitdagings teëkom.”

In ’n neutedop gaan die rolprent oor ’n skoonheidskoningin wat gedwing word om vroeg volwasse te raak wanneer haar pa ‘n nuwe identiteit aanneem – dié van Kersfeesvader. 

Terwyl sy ‘n kranksinnige pa, ‘n liggeraakte boetie en ‘n ontwikkelende romanse balanseer, moet Nonnie, vertolk deur Mila Guy, haar eie betekenis van gesin herdefinieer. 

Talent is duidelik te bespeur in die komedie-drama en met die rolverdeling van onderskeidelik June van Merch, Terence Bridget, Milan Murray, Dean Smith, Mila Guy, Morne Visser, Melt Sieberhagen en Eloff Snyman kan ’n mens niks minder verwag nie!

Dié rolprent begin op 17 November 2017 landwyd draai.