Skuins voor 10 op ’n Woensdagoggend wemel dit soos in ’n byekorf voor die hooggeregshof in Kaapstad. Advokate met swart mantels om die skouers stap tussen ander hofgangers, mediamense en nuuskieriges deur wat voor die ingang saamdrom.

Aan die oorkant van die straat staan Henri van Breda na die fotograwe en kyk wat daar met hul kameras regstaan.

Die joernaliste wat hom al weke lank stilletjies in hofsaal 1 dophou, is ook daar. Van hulle gaan later op die hof se vuil sementtrappies sit.

Almal wag net vir hom, selfoon in die hand en gereed om die enigste beskuldigde in die De Zalze-bylmoordsaak af te neem.

Henri van Breda in die getuiebank.

Plek-plek rook iemand gou ’n laaste sigaret voor hulle deur die hof se groot houtdeure na binne loop. Die reuk van sigaretrook . . .

Die vorige dag het Henri in die hof getuig hoe hy die oggend van 27 Januarie 2015 drie Camel-sigarette in sy ouerhuis se kombuis gerook het etlike ure nadat sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en broer, Rudi (22), met ’n byl doodgekap is.

Die moordwapens.

Oomblikke tevore het hy nog sy ouer broer hoor roggel, waarskynlik weens die bloed in sy keel, en het hy gesien hoe sy suster, Marli (toe 16), die enigste ander oorlewende gesinslid, een van haar bene en arms roer waar sy in ’n plas bloed lê.  

Dit was net te veel vir hom, het Henri aan regter Siraj Desai gesê. Hy wou die nooddienste bel, maar moes eers kalm raak.

Toe gaan haal hy sy pakkie Camels, gaan sit by die kombuistafel en steek die een sigaret ná die ander aan. Hy het die as op die vloer laat val en nog voor ’n sigaret behoorlik uitgebrand het die stompie op die vloer neergegooi en die volgende een uit die pakkie gehaal.

Vanoggend hou Henri sy e-sigaret in sy regterhand. Dan knoop hy sy donkerblou baadjie vas, pluk sy das reguit en begin stadig oor die straat stap, al nader aan daardie “korf”.

Die ingang tot die luukse De Zalze-gholflandgoed naby Stellenbosch.

Henri staan tereg op die driedubbele moord op sy ouers en broer en word ook aangekla van poging tot moord op Marli (nou 18) en van regsverydeling.

Die fotograwe sien hom en skielik hoor ’n mens kameras klik. Hy kyk net reguit voor hom uit terwyl hy aanstryk na die houtdeure toe.

“Gelukkige verjaardag, Henri,” skree ’n fotograaf. Klik-klik. Henri knik in die fotograaf se rigting. Dis 1 November, die dag dat sy ma 23 jaar gelede die lewe aan hom geskenk het. Dit is al Henri se derde verjaardag sonder sy gesinslede.

As kind het hy die dag waarskynlik saam met sy gesin deurgebring, dalk om ’n koek met kersies en gelukwense wat vir hom gesing word.

Maar vandag deel hy sy verjaardag met die mense in hofsaal 1. Ná byna 60 dae ken hy die mure en die mense van hierdie hof al goed.

Sy geliefde altyd net ’n hanetree ver

Al wys Henri feitlik geen emosie in die hof nie, lyk hy daarbuite gelukkig, byna sorgeloos. Net nadat die hof op sy verjaardag verdaag het, is hy sonder baadjie of das opgemerk waar hy en sy meisie van die afgelope byna twee jaar, Daniellé Janse van Rensburg (22), hand aan hand in Kaapstad se strate stap. 

Hy glimlag, maar tog was dit vir hom ’n besonder moeilike dag in die hof, die derde dag dat hy self getuig het. Daarby moes hy kort voor middagete demonstreer hoe hy ’n aanvaller sy broer en pa sien doodkap het. 

In die getuiebank het hy op aandrang van die aanklaer die houtreplika van die byl wat hy beweer sy aanvaller gebruik het in sy regterhand geneem en die houe in die lug geslaan. 

Met die middagpouse het hy soos gewoonlik vinnig uit die hof verdwyn. Dan gaan hy na die een plek waar hy waarskynlik veilig voel: sy advokaat se kantoor oorkant die hof­gebou, waar Daniellé vir hom wag.

’n Mens sou maklik kon dink dis net nog ’n verliefde paartjie op ’n Kaapse lentedag . . .

Op sy verjaardag het sy vir hulle ’n groot pizza bestel. Hulle het dit nie opgeëet nie, want toe die hof later die middag verdaag, het Henri met die boks by sy advokaat se kantoor uitgeloop.

Hy het kalm, gelukkig en ontspanne gelyk toe hy en Daniellé na sy motor loop. ’n Mens sou maklik kon dink dis net nog ’n verliefde paartjie op ’n Kaapse lentedag . . .

Henri lyk ontspanne en verlief toe hy op sy verjaardag saam met sy meisie in Kaapstad se strate loop.
Henri en Daniellé het op 1 November sy verjaardag onder meer met 'n groot pizza gevier.
Elke dag ná die hofverrigtinge trek Henri sy baadjie uit en loop saam met Daniellé na hul motor.

Al het Daniellé tot dusver in die hofsaal in haar afwesigheid geskitter, ry sy elke dag saam met Henri hof toe. Dan kyk sy in sy regspan se kantoor na die uitsending van die verhoor, vertel ’n bron. 

Henri verkies dit so, want hy wil haar teen die media-aandag beskerm, verduidelik die bron. Daniellé glo onwrikbaar in haar kêrel se onskuld, het sy tevore aan Huisgenoot gesê.

Die gesigte in die hof

André du Toit, Henri se oorlede ma se broer, is soms al familielid van hom wat die verhoor bywoon. Hy skuif elke keer alleen by dieselfde plek op die openbare galery in. Wanneer Henri die hof binnestap, kyk hy altyd op na sy oom en knik vir hom.

Soms tydens teepouse gesels hulle vinnig in die gang. André en sy vrou, Sonja, is as Henri en Marli se voogde aangewys. Marli woon by hulle en mag geen kontak met haar broer hê nie.

Teresa van Breda se broer, André du Toit, en sy vrou, Sonja.

Sy familie aan moederskant glo in Henri se onskuld, soos sy tante Leenta Nel, wyle Teresa se suster wat in Kanada woon, tevore aan Huisgenoot gesê het.

Lede van die Van Breda-familie, soos Bailey en André, Henri se oorlede pa se tweelingbroers, het ook al die verhoor bygewoon, maar het dan ver van André du Toit gesit.

Adv. Pieter Botha, Henri se regsverteenwoordiger, maak gereeld bril op die neus en met ’n bulderende stem beswaar teen die staat se vrae. Hy benadruk dit ook gereeld in die hof dat Henri onder finansiële druk is.

Adv. Pieter Botha by Henri.

Hy en Marli is die enigste erfgename van hul ouers se boedel van sowat R200 miljoen, maar sou hy skuldig bevind word, mag hy kragtens die regsbeginsel van “die bloedige hand’’ niks erf nie.

Tot die moordsaak afgehandel is, mag hy ook geen geld uit die boedel ontvang nie.

Die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, en haar assistent, adv. Megan Blows, sit elke dag agter die ondersoekbeampte, sers. Marlon Appollis.

Advv. Megan Blows en Susan Galloway.

Susan het Henri meer as vier dae ondervra oor die presiese gebeure op die moordnag.

Met die skud van haar kop of frases soos “wil jy regtig vir my sê . . . ” laat sy soms blyk sy stem nie saam met sy antwoorde nie. Tydens sy getuienis staan Henri dikwels in die getuiebank, want hy vind dit te klein om daarin te kan sit.

Desai vra gereeld of hy gemaklik is en vra ook sy assistent om vir Henri ’n glas water te bring. Die regter onderbreek die staatsaanklaer gereeld terwyl sy Henri kruisondervra om self vrae aan Henri te stel, soos waarom hy nie tydens die aanval sy pa en broer probeer help het nie.

Die man wat oor Henri se lot gaan bepaal, regter Siraj Desai.

Wanneer die spanning oplaai, maak die regter soms ’n grappie en lag dan saam met die hofgangers. Toe Henri verduidelik hul hond, Sasha, blaf nie vir vreemdelinge nie omdat sy nie gevaar ken nie, het die regter opgemerk sy is “ ’n hoërmiddelklashond”.

WAT SÊ 'N LYFTAALKENNER?

Al skep Henri in die hof die indruk van ’n intelligente jong man met ’n goeie woordeskat, is sy kommunikasiestyl in die hof een van veiligheid of neutraliteit, sê die lyftaalkenner dr. Denise Björkman.

Hy gebruik frases soos “ek onthou nie”, “ek is onseker” en “ek is so seker soos ek kan wees”.

Sy meen ook Henri se gesig en lyftaal verklap hy voel “bedreig” deur die staatsaanklaer.

Hy raak impulsief aan sy gesig, wat erg sweet, swaai sy lyf heen en weer om die spanning te verlig en vroetel met die dokumente voor hom.

Op sy derde dag in die getuiebank was Henri duidelik ongemaklik, sê Denise.

“Hy het dikwels gekriewel en sy selfbeheersing en fokus verloor. Hy sweet sigbaar; sy mond raak ál droër en hy moet gereelder water drink. Dis duidelik hy sukkel om dit te sluk.”

"Henri moet gereelder water drink. Dis duidelik hy sukkel om dit te sluk,” sê dr. Denise Björkman.
Hy raak impulsief aan sy gesig, wat erg sweet, swaai sy lyf heen en weer om die spanning te verlig, aldus die lyftaalkenner.
“Hy het dikwels gekriewel en sy selfbeheersing en fokus verloor," sê dr. Denise Björkman.

Spannende oomblikke in die spervuur: Henri getuig

In ’n ongewone stap doen die verdediging aansoek dat Henri laaste getuig, selfs al moet ’n beskuldige kragtens die Strafproseswet eerste getuig – voor kenners geroep word. Toe Desai die aansoek afkeur, sê Botha sy kliënt sal dan glad nie getuig nie.

Maar toe besluit Henri om wel te getuig – en dit nadat die kenners reeds getuig het. Maar hy wil nie voor die TV-kameras getuig nie omdat hy hakkel, voer Botha aan. Die regter weier die versoek.

Tog getuig Henri sonder om een keer te hakkel, soos die staatsaanklaer opmerk toe sy met haar kruisondervraging begin.

Dr. Antonel Olckers, die verdediging se DNS-kenner.

Henri laat ook wenkbroue lig toe hy sy advokaat opdrag gee om te vra dat die hof moet verdaag omdat hy nie hou van die regter se “houding” teenoor die verdediging se DNS-kenner, dr. Antonel Olckers, nie.

Desai beskou dit as “ongehoord”.

Tog staan hy die versoek toe en die hof verdaag.

Die 'aanval'

Nog ’n dramatiese oomblik is toe die staatsaanklaer vra dat sers. Clinton Malan voor Henri gaan staan met ’n replika van die byl wat in die aanval gebruik is.

Die sersant is volgens Henri op 1,86 m net so lank soos die gesin se aanvaller. Henri moes toe demonstreer hoe hy die byl afgevat het by die aanvaller en in die proses ligte snywonde met ’n mes opgedoen het.

Sers. Clinton Malan is ongeveer dieselfde lengte as Henri se aanvaller.
Houtreplika's van die mes en byl is vir die doel van die demonstrasie ingespan.
Henri moes demonstreer hoe hy die mes afgeweer en die byl teen die aanvaller ingespan het.

Wat sê regskenners?

Dit was ’n taktiese skuif van Henri se regspan om eers aan te voer hy gaan nie getuig nie en hom dan later wel na die getuiebank te roep, sê André Kirsten, ’n prokureur van Kaapstad met 22 jaar ondervinding van strafsake.

“Dit is ’n ou truuk in die strafregstelsel waar die beskuldigde sê hy gaan nie getuig nie sodat sy kenners eers getuig. Daarna getuig hy sodat sy storie kan ooreenstem met alles wat sy kenners gesê het,” verduidelik hy.

’n Pluspunt vir Henri is dat hy as’t ware die enigste ooggetuie van die bloedbad was.

Die Kaapse prokureur William Booth noem die moontlikheid dat Henri se verdediging dalk besluit het om hom te roep om te getuig omdat een van hul kenners onder kruisverhoor swak gevaar het. William dink dit kan teen Henri tel as sy latere getuienis te veel afwyk van sy aanvanklike verklaring aan die polisie net ná die moorde.

’n Pluspunt vir Henri is dat hy as’t ware die enigste ooggetuie van die bloedbad was, maar dit stel hom in ’n moeilike posisie dat hy niks gedoen het om sy gesin te beskerm nie, sê André.

“Henri het ook te lank gewag om die nooddienste te bel. Dit is nog ’n slaggat in sy saak. As hy onwaarskynlike gedrag toon, sal sy getuienis nie aanvaar word nie.”

Hy is ’n goeie getuie en lyk in die getuiebank asof hy in beheer is.

As die hof Henri se weergawe verwerp oor ’n indringer wat die gesin aangeval het, sal die hof se enigste moontlike afleiding wees om hom skuldig te bevind, sê William.

Sou die hof bevind hy het die moorde beplan, kan hy lewenslange tronkstraf kry. As dit onbepland was, kan hy tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word, maar dit hang van versagtende faktore af. Tog meen André Henri het ’n goeie kans om vrygespreek te word.

“Hy is ’n goeie getuie en lyk in die getuiebank asof hy in beheer is.”  

FOTO'S: PEET MOCKE, GALLO IMAGES/NETWERK24/JACO MARAIS, GALLO IMAGES/NETWERK24/LULAMA ZENZILE, GALLO IMAGES/RAPPORT/CONRAD BORNMAN, GALLO IMAGES/THE TIMES/RUVAN BOSHOFF, GALLO IMAGES/THE TIMES/ESA ALEXANDER