KORT voor haar jongste se verjaardag bestel Verna Mulder vir haar ’n koek, kompleet met kersies om die syfer een te vorm.

Toe tref dit haar: Klein Mienke sal hulle nie kan doodblaas nie; nog minder sal sy teen haar eerste verjaardag haar eerste treetjies gee. Die pragtige donkerkopdogtertjie lyk soos ’n poppie waar sy vandag langs Verna (26) op ’n pienk kombers lê. Haar ogies staar stip voor haar uit. Sy kan net naby voorwerpe sien, verduidelik haar pa, Ryno (31).

“Sy is nie gestrem nie; sy het net ander uitdagings”

“Sy is nie gestrem nie; sy het net ander uitdagings,” sê Verna en vee liefdevol oor haar dogtertjie se wang. Mienke word op 31 Januarie een jaar oud, maar haar nekkie is so slap soos ’n pasgeborene s’n.

Tog kon sy op ses maande al regop sit, self haar melkbottel vashou, lag en brabbelgeluidjies maak. Dit alles het plotseling verander die dag in Augustus verlede jaar toe sy in ’n dagsorgsentrum in Mbombela aan melk stik en ernstige breinskade opdoen.

Haar verhaal het derduisende Suid-Afrikaners aangegryp toe ’n vriendin van die gesin op Facebook daarvan vertel en ’n aanlyn groep, Please Pray for Mienke, begin. Dit het reeds meer as 40 000 volgelinge.

Pa Ryno met Zamoné, Leané en ma Verna met Mienke.

Al het dokters die ouerpaar daarop voorberei dat Mienke nooit sou praat of loop nie, weier hulle om te aanvaar sy sal lewenslank gestrem wees. Hulle vier liewer die tekens van beterskap.

“Haar handjies trek nie meer so styf nie, en wanneer jy haar op haar sy neersit, sal sy ná so 10 minute op haar ruggie gaan lê, maar sy kan nog nie omrol nie,” sê Verna en kyk na Mienke.

Soms volg sy voorwerpe met haar oë, maar sy glimlag of lag nie meer soos vroeër nie en toon net emosie wanneer sy huil.

Glo hulle steeds Mienke sal volkome herstel? Verna aarsel, maar Ryno antwoord dadelik: “Ja.”

“Ons is positief sy sal normaal wees,” sê hy. “Dis waarvoor ons bid.”

Dis naweek met Huisgenoot se besoek en die hele gesin is ná die lang werkweek eindelik weer saam in die huis in Benoni wat hulle twee maande gelede betrek het. Amper sewe jaar gelede het Verna en Ryno mekaar in dié Oos-Randse stad ontmoet en verlief geraak.

Mienke is tevrede in haar sussies se geselskap, al is sy self doodstil.

Verlede Mei het hulle saam met hul drie dogters, Leané (nou 4), Zamoné (byna 2) en klein Mienke, na Mbombela verhuis, waar Ryno steeds as gebiedsbestuurder vir ’n glashandelaar werk.

Toe Mienke drie maande later by die dood omdraai nadat sy gestik het, is sy eers in ’n hospitaal in Midrand behandel, waarna sy rehabilitasie in ’n ander Gautengse hospitaal ondergaan het.

Verna en die kinders het toe by haar ouers op Delmas gaan woon om nader aan Mienke te wees. Nou het die ouerpaar besluit om te kom nesskop in Benoni, waar Mienke naby haar terapeute is.

'Sy was twee maande lank in rehab en daarna het sy verskriklik gehuil. Alle klanke het haar ongelukkig gemaak, maar ons kan nie aanhoudend ons ander twee stilmaak nie. '

Ryno woon in die week by vriende in Mbombela en kom naweke huis toe.

Hy is moedig oor dié reëling, maar dit bly ’n uitdaging. “Dis moeilik. Ek loop baie mis. As ek weer sien, sê Zamoné nog ’n hand vol woorde, het Leané en Mienke gegroei en het my vrou nog mooier geword,” sê hy.

Dis Mienke se voedingstyd. Sy moet elke drie uur – dag en nag – melk deur ’n voedingsbuis in haar maag kry. Die kleinding lê in ’n wiegie in ’n effense regop posisie terwyl Verna die melk sorgvuldig afmeet en stadig by haar magie laat inloop.

“Ons moet dit stadig gee, anders gooi sy op,” verduidelik Ryno. Die blonde Zamoné, of Zami, soos haar ouers haar noem, kom met ’n bakkie kos nader.

Weens omstandighede sien Ryno sy gesin net naweke.

“Mamma, voer,” sê sy en gaan sit op die mat voor haar ma. Met die een hand voer Verna haar en met die ander hou sy Mienke se voedingsbuis vas. Verna het haar hande vol: Snags moet sy elke drie uur opstaan om Mienke te voed; bedags werk sy voltyds as verkoopsklerk vanuit Benoni vir dieselfde glashandelaar as haar man.

Soggens is sy net voor vyfuur op en net ná ses ry sy om Leané kleuterskool toe te neem. Zamoné en Mienke gaan na ’n dagmoeder wat al “nes ’n ouma vir hulle is”.

Mienke se voltydse versorger gaan ook saam.

Dit is ’n balanseertoertjie om die huis skoon te hou, klere te was, die kinders aandag en liefde te gee en op hul huwelik te fokus, erken Ryno. Verna beaam dit: “ ’n Mens voel soms skuldig teenoor die ander twee. Dit voel asof ons Zamoné se peuterstadium heeltemal misgeloop het. Dis ’n blur.”

Twee blonde dogtertjies kom in hul feetjierokkies verbygefladder. ’n Laggie borrel uit Zami se maag terwyl haar ousus haar jaag, maar klein Mienke maak nie ’n geluid nie.

Sy het trouens nog nie ’n geluid gemaak sedert ons aankoms nie. “Sy was twee maande lank in rehab en daarna het sy verskriklik gehuil. Alle klanke het haar ongelukkig gemaak, maar ons kan nie aanhoudend ons ander twee stilmaak nie. Hulle moet speel,” sê Verna.

Nou, ná twee maande by die huis, meen haar ma Mienke is op haar gelukkigste met haar sussies se gebabbel om haar. “Sy het nou mooi aangepas en ons probeer haar so normaal moontlik hanteer,” sê sy.

“Sien, ons is net ’n normale gesin,” sê Ryno met ’n laggie. Hy weet party mense is skepties oor sy optimisme, maar hy sê wonderwerke het al gebeur, soos toe Mienke asof uit die dood na hulle teruggekom het. Dit sal weer gebeur, glo hy.

Verna en Ryno het ’n trustfonds vir Mienke geopen wat deur onafhanklike prokureurs bestuur word.

“Ons het nog nooit geld gevra nie. Ons stuur die mediese rekeninge na die prokureurs en hulle betaal dit. Ons weet nie eens hoeveel in die rekening is nie,” sê Ryno.

Hulle besef hef aan lê nog voor. 

“Op Kersdag het Mienke klein stuiptrekkings begin kry,” vertel Verna. “Haar oë rol so om en haar bene raak styf. Ons weet nog nie hoekom dit gebeur nie.”

Verna (met Mienke) by Zamoné. Dit verg fyn beplanning om haar gesin te versorg.

’n Breinskandering sal nog vandeesmaand uitgevoer word. Dan sal hulle hoor watter terapie sy volgende moet ondergaan. Tot dusver het sy arbeids-, hidro-, fisio- en spraakterapie gekry; hulle oorweeg ook suurstofterapie en selfs ’n stamseloorplanting.

Wat mis hulle die meeste van hul lewe voor die tragedie hulle getref het?

“Haar lag. Sy’t so ’n hees stem, en wanneer sy lag, skud sy,” vertel Verna oor haar dogtertjie. Ryno se oë word rooi en hy kyk af. “Ja, sy’t so ’n husky stem,” beaam hy en staan op om te gaan kyk hoekom die ander twee kinders so stil is in hul kamers.

Op die boonste verdieping is Mienke se kamer net soos haar sussies s’n in pienk getooi. ’n Onlangse foto van haar staan op die bedkassie met die woorde “A miracle was born”. In die hoek staan ’n skopfietsie en ’n hobbelperdjie en wag op die blye dag dat sy daarop sal kan ry.

Haar twee susters baklei oor wie haar sal vashou toe ons foto’s begin neem. Dis eers Leané se beurt, maar Mienke se koppie val slap vooroor tot op haar bors. Verna skuif haar vinnig in haar ousus se arms reg.

“Sê cheese, Mienkies!” sê Leané en druk haar styf vas. Kort daarna trek Gerhard Steyn op die TV los met sy liedjie Afrikaanse Meisies, en sing die twee oudste sussies saam en dans op maat van die musiek. Later sit Verna met Mienke op die stoep en kyk hoe haar twee ouer susters en hul pa op die grasperk stoei.

“Dis lekker buite, nè, my lief?” sê Verna en vryf oor Mienke se wang. Sy glo die volgende teken van beterskap is net om die draai. “En ek hoop dis ’n glimlag . . .”