’n Mens sien die intense konsentrasie op die gesig van die man agter die stuurwiel. Hy lyk strak maar kalm. Dan, voor jy sien hoe die gepantserde ruitglas langs sy gesig bars, hoor jy die geluid van outomatiese geweervuur: Bap-bap-bap-bap . . .

“F*k jou,” swets die bestuurder op die skieter, terwyl die oë van sy gewapende passasier ál groter rek.

So begin die ysingwekkende video van ’n mislukte transitorooftog op die N4-snelweg in Pretoria wat die wêreld aan die gons het oor Leo Prinsloo (52), ’n voormalige lid van die polisie se taakmag.

Vir die volgende paar minute wys die transitovoertuig se kajuitkamera hoe Leo sy gepantserde Land Cruiser-bakkie gebruik om die aanvallers se voertuie van die pad te probeer dwing. Die rowers trek hul dubbelkajuitbakkie dwars oor die pad.

Een klim uit met ’n AK-47-aanvalsgeweer, maar dan skarrel hy weg wanneer Leo op hom afjaag.

'n Skermgreep uit die nou beroemde video, toe Leo
'n Skermgreep uit die nou beroemde video, toe Leo Prinsloo saam met sy kollega, Lloyd Mtombeni daarin geslaag het om kalm en strategies vermeende rowers met Ak47’s, af te weer.

Langs Leo sit Lloyd Mtombeni (35) ewe kalm, al verklap sy groot gerekte oë hier’s moeilikheid. Dis maar sy vierde dag by die nuwe werk as sekuriteitswag . . .

Ontelbare kyke in die sosiale media later word Leo “Suid-Afrika se Chuck Norris” gedoop, en hy moet sedertdien koes vir al die aandag wat hy kry.

Hier in sy tuin is hy vandag verleë oor sy kitsroem en die memes wat hom as die uitdrukkinglose Hollywood-aksieheld uitbeeld.

“Ek moes tog lag vir ’n paar van hulle,” grinnik hy. Maar transitorooftoge in Suid-Afrika is geen grap nie. Die swaargewapende bendes skroom nie om sekuritetswagte te vermoor nie en buit jaarliks dermiljoene rande.

“Dis oorlog. Daardie rower kom jou nie waarsku of afskrik nie; hy kom om jou dood te maak,” beklemtoon Leo in sy eerste onderhoud sedert die gebeure.

Leo Prinsloo vertel hoe sy ervaring as wapeninstru
Leo Prinsloo vertel hoe sy ervaring as wapeninstrukteur en oud-taakmaglid ingeskop het. Foto: Gallo/Sharon Seretlo

Hy en Lloyd was daardie dag die span wat die transitovragmotor moes begelei. “Ons het eers besef daar’s moeillikheid toe die skote klap.”

Toe neem sy opleiding en oorlewingsdrang oor.

“Jy weet wat met jou lyf gebeur. Jy ken elke fisiologiese verandering. Dis jou veg-of-vlug refleks. Tyd gaan stadiger verby. Jou brein gee jou tyd om jou muscle memory te laat inskop. Anders gebeur alles te vinnig . . .”

Hy is verstom oor die reaksie op die video. “Dit was f****n mal, soos ’n tsoenami,” sê hy, weer verleë. “Jy weet, baie van ons in dié bedryf hou nie van die aandag nie. Ons wil net die job gedoen kry en aangaan.” 

Waarskuwing: Kru taal mag sensitiewe lesers ontstel.

Dis allermins die eerste keer dat Leo in gevaarlike omstandighede moes werk. As polisiebeampte het hy rowers getakel, as taakmaglid was hy by gyselaarsituasies betrokke, as lyfwag het hy oudpres. Nelson Mandela, koningin Elizabeth, George Bush en selfs die Kardashians, help beskerm. 

Deesdae leer hy privaat sekuriteitswagte sy mantra van oorlewing: Neem waar. Koördineer. Besluit. Reageer. Maar hier in sy huis wat hy met sy vriendin, wie se identiteit hy beskerm, en hul hond, Roxy, deel, is Leo plat op die aarde.

In die leefvertrek is daar oefengewigte, ’n rak vol goeie rooiwyn en ’n muur vol Comrades-foto’s. 

Hy het die Comrades al 22 keer gehardloop. Dan vertel hy hoe hy juis in 2016, ter noue nood aan die dood ontkom het. Twee dae ná sy 20ste Comrades, het hy weens nierversaking in die hospitaal beland.

Leo het al 22 keer die Comrades gehardloop. Foto:
Leo het al 22 keer die Comrades gehardloop. Foto: Gallo/Sharon Seretlo

“Darem nie weens drank alleen nie!” spot hy. Dan ernstig: “Daar was maar ’n lang aanloop . . . Ek sou hard gaan oefen en bedags gaan werk met net koffie in my liggaam. Ek het nie genoeg water gedrink nie. Dit bekruip jou soos ’n skurk in die nag. Dis net Godsgenade dat ek hier sit.”

Hy het daarna sy lewenstyl drasties aangepas om gesonder te lewe.

Leo het sowat 30 jaar gelede, ná matriek aan die Hoërskool Eldoraigne, by die polisie aangesluit.

“Vir my was daar net drie opsies vir die ou wat nie wou gaan studeer het nie: die polisie, weermag of brandweer.”

Leo bly topfiks deur elke dag te oefen en ’n geson
Leo bly topfiks deur elke dag te oefen en ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Foto: Gallo/Sharon Seretlo

Sy eerste plasing was by Pretoria se Wierdabrug-polisiekantoor, maar alledaagse misdaadbestryding was vir hom te mak. In 1992 het hy keuring vir die polisie se taakmag geslaag.

“Ons is vir twee jaar opgelei in alles van valskermspring tot springstof. Enige hoërisiko-situasies waarvoor gewone polisiebeamptes nie opgelei of toegerus is nie.” 

Daar is “baie op my geskiet” tydens sy 12 jaar in die taakmag, vertel hy droogweg.

“Dit was die beste tyd van my lewe.” Benewens die beskerming van hooggeplaastes het hy opleiding ondergaan en aangebied in Frankryk en Italië.

In 2001 het hy die hoof van die polisie se skerpskuttereenheid geword, maar drie jaar later het hy bedank en sy eie elite taktiese opleidingsinstelling, The Edge Shooting Academy, in Centurion begin.

Hier bied hy onder meer opleiding in vuurwapens (en wapenbevoegdheid), gevorderde bestuurstegnieke, asook selfverdedings- en noodhulp-kursusse, aan.

Suid-Afrika se eie Chuck Norris, Leo Prinsloo. Fot
Suid-Afrika se eie Chuck Norris, Leo Prinsloo. Foto: Gallo/Sharon Seretlo

“Ek doen van tyd tot tyd ook self die operasionele werk. Dit hou my vinger op die pols met die toerusting daar buite en die voertuie, en dit laat my toe om te practice what you preach.”

Dis weens sy werk met transitowagte dat hy weet watter fel oorlog op ons paaie woed.

“Die ouens veg vir hul lewe uit daai voertuie. Baie word doodgeskiet.”

Hy vertel hy sien elke dag hoe sekuriteitsmaatskappye hul mense in hoë risiko omstandighede met die minimum opleiding laat werk.

Skielik is die rustige Leo briesend.

“Die sekuriteitsbedryf is baie brutal met hul mense. Jy kan nie 'n ou wat opgelei is om op ’n alarm te reageer in ’n cash-in-transit-trok sit en dink hy moet ’n f****n oorlog gaan fight nie.”

En ’n oorlog is presies waarin Leo en Lloyd hulle daardie Donderdag, 22 April, eensklaps bevind het. 

Leo vertel hy het net drie dae tevore vir die betrokke sekuriteistmaatskappy begin werk.

“Die Dinsdag en Woensdag het alles goed gegaan. Die Donderdag toe knock hulle ons.”

Leo het met sy Land Cruiser agter ’n koeriertrok gery wat ’n waardevolle vrag selfone vervoer het.

“Ons het pas op die N4 na die stad (Pretoria) geklim. Die koeriertrokkie was so 150 m voor ons.

“Jy probeer soveel moontlik waarneem. Dit is al wat jy het. As jy dit nie doen nie, word jy met jou broek op jou knieë gevang. Ons probeer dit vir ons studente leer: Waarneming is al wat jy het; van daar af kan jy jou plannetjies en opleiding probeer inspan.”

In die oomblikke voor die aanval sien jy in die video hoe Leo gedurig in sy truspieëltjies kyk – en dan klap die skote. Die rowers het ’n wit bakkie en silwer Audi gebruik. Weens sy Land Cruiser se pantserglasvensters kon Leo en Lloyd nie terugskiet sonder om die deure oop te maak nie.

“Ek het Lloyd voor die tyd gewaarsku as iets gebeur gaan ek die voertuig as wapen gebruik.”

Dertien skote het die voertuig getref. “Maar ek het nie getel nie; daar is moer baie geskiet.”

Hy het heen en weer geswenk om die Audi agter hom probeer hou, maar die wit bakkie het reeds die koerier van die pad gedruk. Drie mans met AK-47’s het uitgespring, en die koeriermense het weggehardloop. Leo het die wit bakkie gestamp, maar die bestuurder kon wegjaag. Toe soek Leo die Audi, “want so maklik wou ek hom nie laat wegkom nie.”

Dis toe dat hy, ook hoorbaar in die video, nog ’n kragwoord laat val.

Eensklaps is Leo weer verleë. “Jy dink nie op daardie oomblik wat jy sê nie, jy dink ook nie die video gaan uitlek nie.”

Oor Lloyd sê hy: “Lloyd kon niks meer doen nie. Hy het sy bestuurders probeer bel, maar daar was (sein)jammers. Hy het kalm gebly. Wat moes hy meer doen?

“Wanneer so iets gebeur is alle rasionele denke by die venster uit. Ons praat van muscle memory. Jou eerste optrede is absoluut instinktief danksy ondervinding en opleiding, want as daai skote klap is dit te laat om te dink.”

Ná al die aksie en adrenalien was daar net verligting, vertel Leo. 

“Lloyd was ’n bietjie shell shocked, maar hy was orraait. Hy het nie soos ’n afkophoender rondgehardloop nie. Hy was great.”

Al wat hom pla is dat die rowers kon wegkom.

“Daai ouens is vry om nóg ’n rooftog uit te voer. Ek het moontlik die kans verspeel om te verhoed dat nog ’n sekuriteitswag sy lewe verloor. Dit het my laat wakker lê. Nie omdat daar op my geskiet is nie, dit was die minste van my worries.”

Sal hy sy stresvolle werk laat vaar; of selfs oorsee gaan werk waar die skote dalk minder klap?

“Nee, f*k, ek gaan nie weg nie. Hierdie fight sal ons fight.

  • Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, kon teen druktyd nie enige arrestasies bevestig nie. Hy het benadruk die saak word steeds deur die Valke ondersoek.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe