Die evangelis en boer klink opgeruimd: “Hallo! Dis Uncle Angus!”

Dit is net 10 dae sedert die alombekende evangelis past. Angus Buchan (72) van Greytown in KwaZulu-Natal en sy vrou, Jill (70), hulself vir die coronavirussiekte COVID-19 laat toets het.

Die afgelope Donderdag het hulle die tyding gekry: Hulle is albei positief.

Angus Buchan en sy vrou, Jill. Foto: Facebook
Angus Buchan en sy vrou, Jill. Foto: Facebook

“Alles gaan goed! Ek sien hierdie as ’n tyd vir introspeksie,” sê hy eerste toe Huisgenoot Dinsdagoggend telefonies met hom praat.

“Soos ek nou hier met jou praat, sit ek juis in my gebedskamer.”

Angus praat in Engels. Hy maak verskoning: “My Afrikaans is nie so goed nie,” sê die evangelis wat veral bekend geword het ná sy biografiese drama, Faith Like Potatoes, van 2006.

Hy haal Romeine 8 aan: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

“Ken jy die vers? Ek glo dat God alles wat sleg is, in goed verander.”

“Jy weet ek het nooit besef hoe geliefd ek is nie... Ek het geweet ek is geliefd, en ek sê dit nederig, maar ek het nog nooit so 'n oorweldigende oorvloed van liefde ervaar nie. Van mense reg oor die wêreld. Mense wat sê: “Uncle Angus, moet nie nou doodgaan nie, ons het jou nog nodig!”

Dit is asof Angus die vraag sien kom – die vraag wat baie oor wonder: Hoekom sal God juis ’n man van God soos hy, toelaat om dié dodelike virus te kry?

Hy lag. “Ek het geweet jy gaan my dit vra...”

***

Angus vertel hy was die hoofspreker by die groot kerksaamtrek die Jerusalem Prayer Breakfast, wat op Dinsdag 10 en Woensdag 11 Maart by die Divine Restoration Ministeries-kerk in Bloemfontein aangebied is. Angus het die Dinsdagaand met die opening gepraat en weer die volgende oggend tydens die ontbyt.

“Ek het Jill dié keer saam met my gevat. Ek doen dit nie gewoonlik nie, maar die keer het ek,” vertel hy oor hoe dit gekom het dat Jill saam was. “Ons is ná die ontbyt huis toe. Alles was oukei. Ons het nooit enige simptome ervaar nie. Tot die oproep gekom het om ons in te lig.” Angus sou uitvind vyf van die buitelandse sprekers wat ook die ontbyt bygewoon het, het COVID-19 onder lede gehad.

“Almal weet ek is ’n evangelis, ’n pastoor. Ek bid vir dié wat siek is. Ek het al wonderwerke in my lewe gesien. Jy het mos my fliek gesien? Ek ken wonderwerke. Mense wil nou vir my vra hoekom dit met my gebeur het. Ek vra: Hoekom nie ek nie? Hoekom sal ek nou so bevoorreg wees om nie die virus te kry nie? Ken jy Jesus? Jesus het tussen die siek mense beweeg, waar sou hy nou wees?

"As hy vandag hier was? Hy sou met die melaatses, die weduwees, die weeskinders gewees het, die mense wat honger is.  Ek vertel vir mense ek is nie anders nie. Ja, ek en Jill het positief getoets, maar ek voel nou kan ek identifiseer met die mense om my.

"Ek is nie onaantasbaar nie. Ek is nie hierdie engel daar bo in die hemele nie. Wanneer jy in die loopgrawe is, moet jy voorbereid wees om vuil te word, as jy voor in die oorlog veg moet jy weet jy kan skote vat. Verstaan jy wat ek sê?”

Is hy bang hy het ná die Bloemfontein-saamtrek daardie naweek onwetend enigiemand by die Mighty Men-konferensie in die Oos-Kaap aangesteek? "Ek het nie daardie vrese nie. Ek weet nie eens wie het my aangesteek nie!"

Angus Buchan onlangs op die Mighty Men-konferensie
Angus Buchan onlangs op die Mighty Men-konferensie in die Oos-Kaap Foto: Facebook
Angus Buchan onlangs op die Mighty Men-konferensie
Angus Buchan onlangs op die Mighty Men-konferensie in die Oos-Kaap Foto: Facebook

In sy lewe het Angus al baie uitdagings ervaar. Destyds het sy vierjarige broerskind, Alistair, in ’n fratsongeluk gesterf toe hy van die trekker afval met Angus agter die stuur. Hulle moes al verwoed teen brande op die plaas baklei. Verlede jaar is Angus deur talle Suid-Afrikaners as ’n rassis uitgekryt toe ’n stemboodskap aan die lig kom waarin hy “die Afrikaners en die Jode” as die enigste twee nasies bestempel wat “’n verbond met God het”.

Angus, wat ná die voorval om vergifnis gevra het, gaan nie daarop in nie, maar vertel dat dit vir hom ’n “baie seer tydperk” was.
“Swart leiers het na my toe gekom om my te troos. Hulle het gesê hulle ken my; hulle weet ek is nie ’n rassis nie.”

***

“Ek is nie net ’n Christen wanneer dit goed gaan nie. Ek kan nie vir God sê moet my nie kies nie. Ek erken die erns van die siekte. Ek weet baie mense is dood. Kyk in Italië, Amerika, Spanje...”

Ons vra die pa van vyf en oupa van 11 kinders of hy bang was hy gaan dood?

“Nee, ek was nie bang toe die diagnose kom nie. Ek sal lieg as ek sê ek was, want om te lewe, is vir my Christus, om te sterf is vir my ’n wins, haal hy Fillippense aan.”

En as sy vrou sou sterf?

Angus raak stil.

“Jy weet my vrou is my beste vriend. Sy is my jeugliefde. Ons is al byna 50 jaar bymekaar... Gelukkig het ons nog mekaar.”

***

Angus Buchan Foto: Facebook
Angus Buchan Foto: Facebook
Angus Buchan Foto: Facebook
Angus Buchan Foto: Facebook

Terwyl hulle nou saam in selfisolasie is, hou hy hom besig met alles wat hy gewoonlik geniet om te doen.

“Ek hou myself besig in die tuin, ja, ek boer nou met bye! Ek ry perd, bergfiets. Ek doen ’n 100 opstote elke oggend. Ek erken die virus, maar ek dink dit is vir almal belangrik hoe ons daarop reageer. Ek kan in ’n hoek gaan sit ja, maar ek het ’n visie en ’n werk.”

Hy vertel dit is veral moeilik dat hy en sy vrou nou geen kontak met hul kinders of kleinkinders mag hê nie.

“Maar, weer die vraag. Hoekom nie ek nie? Ons lewe in ’n onvolmaakte wêreld.

“Ek dink vir elkeen met die virus, en vir elkeen in ons land wat nou in inperking is, is daar die kwessie van eensaamheid. Ek is gelukkig dat ek my vrou by my het, maar ek het ook vir God. Hy is ook my vriend.

"Ek dink deur hierdie tyd moet mense hulself dissiplineer. Ek is ’n vieruur die oggendman. Ek staan op, ek doen wat ek gewoonlik doen. Ek stort, ek hou stiltetyd, ek lees my Bybel, ek oefen, ek gaan aan... Voor ons almal weet is alles verby.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.