Adette het in 2017 die skaal op 132 kg laat kreun. Toe hulle in daardie tyd by die werk ’n gewigsverlieskompetisie aanbied waar die wenner ’n kontantprys kan wen, het sy onmiddellik besluit sy gáán dit wen.

Vandag het sy ’n volle 54 kg verloor en weeg 78 kg.

“Ek het altyd geweet ek wil gewig verloor, maar ek het gesukkel om aan die gang te kom,” vertel Adette, wat ’n produksiekoördineerder op die stel van Binnelanders is.

Sy het by 7de Laan gewerk toe die personeel besluit om hul eie Biggest Loser te begin.

“Ek is baie kompeterend en Andre Lotter (Rikus Welman in 7de Laan) het my genooi om saam met hom te begin Crossfit doen.

“Aan die begin was dit baie uitdagend en kon ek skaars ’n squad doen.”

Sy het begin om twee keer ’n week Crossfit te doen en haar dieet drasties aan te pas.

“Ek het dadelik suiker en stysel uitgesny. Ek het 20 maande laas ’n sjokolade of ’n roomys gehad en dit is my twee gunstelinggoed in die wêreld,” lag sy.

Volgens Adette is dit baie belangrik om nie net te oefen nie, maar ook te kyk wat jy eet.

“Ek volg nie noodwendig ’n streng dieet nie, maar ek hou dit gebalanseerd. As jy oefen, moet jy steeds op ’n manier jou bron van stysel inkry en met iets soos pampoen kan jy dit regkry. Ek probeer om al my groente, proteïene en vette met my dieet in te kry.”

Deesdae doen Adette ses keer ’n week Crossfit.   

“Dit het vir my soos ’n leefstyl geword en dis ook lekker om oor ’n naweek saam met vriende te gaan oefen.”

Adette vertel toe sy so 'n paar weke terug Tafelberg gaan uitklim het, het sy werklik besef hoe ver sy gekom het.

“Toe ek bo kom, het ek skielik agtergekom ek is nie moeg nie, ek is nie uitasem nie en dit was nie vir my ’n straf nie. Dit is toe dat ek werklik besef wat ek bereik het.”

Haar eindelike doelwit is in sig: Sy wil nog agt kg afskud sodat sy op 70 kg staan. Dan wil sy haarself beloon vir haar harde werk.

“As dit gebeur, wil ek gaan skydive en Italië besoek om dit te vier.”

Watter raad kan sy vir ander mense gee wat ook gewig wil verloor?

“Jy moet dit vir niemand anders as jouself doen nie,” sê Adette.

“Dit gaan nie oor die beeld wat jy wil uitstraal nie. Dit moet ’n persoonlike reis vir jouself wees.

“In die eerste maand gaan jy nie regtig resultate sien nie. Dit gaan nie oor hoe lank die pad is nie, maar oor elke treetjie wat jy gee om by jou bestemming uit te kom.”