Natie Botha het 23 jaar gelede die land aangegryp en sy ouers rasend van kommer gehad.

Gelukkig is hy ongedeerd opgespoor en vandag is klein Natie 25 jaar oud, werk hy in die finansiële wêreld en lei hy ’n gelukkige lewe in Port Elizabeth.

“Vir my is dit eintlik ’n baie goeie storie,” vertel Natie vandag. “Die hele gemeenskap het saamgespan om my te kry. Almal, oor kultuur en klas heen, het na my help soek."

Die storie oor sy verdwyning het destyds in koerante geboer en dag vir dag is daar berig oor sy ouers en familie se nagmerrie.

Natie Botha
Natie se verdwyning is deur verskeie koerante gedra. Foto: Verskaf
Natie Botha
Natie se verdwyning is deur verskeie koerante gedra. Foto: Verskaf
Natie Botha
Natie se verdwyning wat destyds groot nuus. Foto: Verskaf

Natie, wat op daardie stadium ’n enigste kind was, vertel dat hy een naweek saam met sy oupa en ouma, Louis en Johanna Meaker, op ’n vriend van hulle se plaas buite Somerset-Oos gekuier het. Hy en sy ouers het op daardie stadium in die Oos-Kaapse dorpie Somerset-Oos gewoon.

Sy ouers, Erika en Mike Botha, was besig om te skei en hy was daardie naweek in sy ma se sorg.

“Ek onthou net klein deeltjies,” vertel Natie. “My ouma en oupa het gou êrens heen gegaan en ek het met my nefie gespeel. 

“Ek het net begin loop. Ek weet regtig nie hoekom nie.”

Hy was destyds geklee in ’n vlootblou kortbroek, turkoois en rooi hempie en swart tekkies met breë wit sole. ’n Soekgeselskap van ongeveer 300 mense is van oral ingeroep om na Natie te soek, van spoorsnyers, polisie, plaaslike inwoners tot helikopters.

Daar was selfs sieners wat insae gegee het oor waar die klein seuntjie hom bevind en ’n beloning van R50 000 is uitgeloof vir die een wat hom opspoor.

Natie Botha
Daar is destyds R50 000 uitgeloof vir die persoon wat Natie kan vind. Foto: Verskaf

“Ek weet nie of ek sommige goed gedroom het nie, maar ek dink ek het een dag water uit ’n aalwyn se blaar gedrink en het een aand onder ’n bos geslaap. Ek kan ook onthou dat ek een dag opgekyk het en ’n helikopter in die lug gesien het, maar ek het net daarna gestaan en kyk en het niks gedoen nie. 

“Wat ek wel onthou is dat ek nooit bang was nie.” 

Hy het op ’n stadium sy skoene uitgetrek en verder kaalvoet gestap. Die soektog na klein Natie was veral moeilik, aangesien dit ’n baie bosagtige omgewing is en boonop was die plantegroei besonder ruig omdat dit somer was.

Natie Botha
Meer as 300 mense het na Natie help soek. Foto: Verskaf

Natie sê sy ouers was uiteraard oorstelp van vreugde toe hulle hom ná drie dae, vyftien kilometer verder op ’n plaas in die omgewing kry.

’n Plaaswerker Anthony (Mannetjie) Jansen het hom onder ’n bos gekry. "My pa was so bly hy het die man amper gesoen.”

Natie Botha
Daar is destyds wyd berig oor Natie se verdwyning. Foto: Verskaf

Natie sê hy weet nie of hy bewusteloos was en of hy geslaap het toe Mannetjie hom kry nie. Sy eerste woorde was dat hy “nie water nie, maar ’n Coca-Cola wil hê”.

Hy sê die hele ervaring was al die jare ’n baie sensitiewe onderwerp vir sy ouers en sy ma sal bitter min daaroor praat. Sy pa sal soms weer na daardie vreesaanjaende tyd terug verwys.

“Ek sien die hele storie as baie positief,” sê Natie. “Ek weet ook as ek deesdae iets moeilik moet oorkom, kan ek vir myself sê dat ek al in moeiliker omstandighede was.”

Natie Botha
Koerantberigte oor Natie se verdwyning. Foto: Verskaf

Natie het ná skool aan die Hoër Landbouskool Marlow buite Cradock, ’n B.Com-graad in finansiële beplanning aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth studeer. Hy is baie gefokus op sy loopbaan en hou daarvan om aktief te wees.

Hy is graag in die natuur en hou natuurlik ook daarvan om tyd saam met sy meisie, Donell Grobler, deur te bring.

Natie Botha
Natie en sy meisie, Donell Grobler. Foto: Facebook

“Dalk gaan ek eendag terug en stap op my spore,” sê Natie. “Dalk onthou ek dan bietjie meer van daardie ‘avontuur’.”