“Die departement het so pas laat weet hulle verwyder dr. Anton Prinsloo weer. Dit is nadat ons met litigasie gedreig het,” sê Daniël Eloff van die regsfirma Hunter en Spies. 

Huisgenoot het dié e-pos gesien waarin die departement aan die beheerliggaam bevestig dat Anton weer “voorlopig verskuif” word met “onmiddellike effek” tot dissiplinêre stappe deur die departement afgehandel is. 

Dr. Anton Prinsloo is sedert 2015 hoof by Hoërskoo
Dr. Anton Prinsloo is sedert 2015 hoof by die Hoërskool Eldoraigne in Centurion.

Dit kom nadat ’n ondersoek geloods is omdat Anton glo personeel “viktimiseer en boelie”.

Talle klagtes is by die departement ingedien.

Volgens verskeie berigte het meer as 130 onderwysers die skool verlaat terwyl dié hoof aan die stuur van die voormalige spogskool was. 

’n Bom het die afgelope week by dié skool gebars toe die departement laat weet die hoof word weer teruggeplaas in sy pos nadat hy sedert Mei uit dié pos verwyder is. 

Steve Mabona, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het vroeër die week aan Huisgenoot gesê Anton is weer in sy pos geplaas nadat net twee onderwysers teen hom wou getuig. 

Maar onderwysers, leerlinge en ouers het hul misnoeë uitgespreek. 

Leerlinge het petisies opgestel, meer as 50 ouers het ’n memorandum aan die beheerraad oorhandig wat eis dat Anton weer uit sy pos verwyder word en talle onderwysers het volgens bronne gedreig om te bedank. 

“Toe ek laas hoor hy is weer terug, het ek in trane uitgebars. 

“Ons is bitter bly die departement het weer die besluit geneem en ons hoop dat die dissiplinêr vinnig afgehandel sal wees. Dinge was soveel beter by die skool toe hy nie hier was nie,” het ’n onderwyser wat anoniem wil bly, aan Huisgenoot gesê. 

Die departement van onderwys is om kommentaar genader. Hul repliek sal hier bygevoeg word. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe