Terwyl hy vir sy fassinerende nuwe boek oor die mens se liggaam navorsing gedoen het, het Bill Bryson onderhoude met talle dokters en bioloë gevoer, ’n biblioteek vol boeke gelees en in die pro­ses hope pret gehad.


Lank gelede, toe ek in Amerika op skool was, het ’n bio­logieonderwyser my geleer jy kan al die chemiese stowwe wat in die menslike liggaam voorkom in ’n ysterwarewinkel vir iets soos $5 koop.

Ek onthou die gedagte het my verstom dat jy ’n ou soos ek byna kosteloos kon maak. Dié onthulling het my so nederig gestem dat dit my al die jare bygebly het. Die vraag is: Is dit waar? Is ons werklik so min werd?

Talle gesaghebbendes (waarskynlik voorgraadse wetenskapstudente wat nie ’n romantiese afspraak op ’n Vrydagaand het nie) het al verskeie kere, meestal vir die grap, probeer bereken hoeveel die materiaal sou kos waarmee jy ’n mens kan bou.

Die respektabelste en omvattendste poging die afgelope paar jaar was dalk dié van die Royal Society of Chemistry (RSC).

Koolstof, suurstof, waterstof, stikstof, kalsium en fosfor – maak 99,1% van ons samestelling uit.

Hulle het as deel van die 2013 Cambridge-wetenskapsfees in Engeland bereken hoeveel al die elemente sou kos wat nodig is om die Britse akteur Benedict Cumberbatch te bou. (Benedict was daardie jaar die gasdirekteur van die fees, en sy liggaam was heel gerieflik die grootte van ’n tipiese mens.)

Volgens die RSC se berekenings word altesaam 59 elemente benodig vir die bou van ’n mens. Ses daarvan – koolstof, suurstof, waterstof, stikstof, kalsium en fosfor – maak 99,1% van ons samestelling uit, maar die res was nogal ’n verrassing.

Wie sou kon dink dat ons onvoltooid sou wees sonder ’n bietjie molibdeen, of vanadium, mangaan, tin en koper? By­gesê, ons behoefte aan party van dié stowwe is buitengewoon beskeie en word in deeltjies per miljoen of selfs per miljard gemeet.

999 999 999½ atome

Ons het byvoorbeeld net 20 atoomdeeltjies kobalt en 30 atoomdeeltjies chroom vir elke 999 999 999½ atome van die res nodig.

Die grootste komponent in enige mens is suurstof – dit vul 61% van die beskikbare ruimte. Dit druis dalk teen ons intuïsie in dat byna twee derdes van ons uit ’n reuklose gas saamgestel is.

Die rede waarom ons nie so lig en bonsend soos ’n ballon is nie, is dat die suurstof meestal met waterstof (wat nog 10% van jou uitmaak) verbind is om water te maak – en water is verbasend swaar, soos jy sal weet as jy al ooit ’n opblaas-swembad probeer skuif of bloot in sopnat klere rondgeloop het.

Dit is ’n bietjie ironies dat suurstof en waterstof – twee van die ligste dinge in die natuur – een van die swaarste stowwe word wanneer dit verbind, maar dis maar hoe die natuur werk.

Die goedkoopste elemente

Suurstof en waterstof is ook twee van die goedkoopste elemente in jou. Ál jou suurstof sal jou sowat R158 kos en jou waterstof net ’n raps meer as R284 – dis nou as jy omtrent dieselfde grootte as Benedict Cumberbatch is. Maar daarna raak dit nogal ’n duur storie.

Jy het sowat 9 kg koolstof nodig, en dit sal jou volgens die RSC R788 540 kos. Al is kleiner hoeveelhede kalsium, fosfor en kalium nodig, sal dit jou nog R836 600 uit die sak jaag. Die res is nog duurder per eenheidsvolume, maar gelukkig word slegs mikroskopiese hoeveelhede daarvan benodig.

Neem byna enige sel uit jou lyf en dit sal ’n miljoen of meer seleenatome bevat; tog het niemand tot onlangs ’n benul gehad watter doel hulle dien nie.

Ons weet nou seleen vervaardig twee noodsaaklike ensieme. ’n Tekort daaraan is al verbind met hoë bloeddruk, artritis, bloedarmoede, sekere kankers en moontlik selfs ’n verlaagde spermtelling.

Die belangrikheid van seleen

Dit is daarom duidelik ’n goeie idee om seleen in te kry (dit word veral in neute, volkoringbrood en vis aangetref), maar terselfdertyd kan dit jou lewer onherstelbaar vergiftig as jy te veel daarvan inkry. Soos met baie dinge in die lewe kos dit fyn voetwerk om die balans reg te kry.

Volgens die RSC beloop die volle koste vir die bou van ’n nuwe mens, met die inskiklike Benedict Cumberbatch as templaat, ’n presiese R1 718 532,86.

Arbeid en BTW sal natuurlik die koste verder opstoot. Jy sou gelukkig wees om ’n Benedict Cumberbatch teen minder as R3,5 miljoen te kan huis toe neem – alles in ag genome geen reusefortuin nie, maar nie die paar karige dollars waarop my onderwyser gesinspeel het nie.

Al wat besonders is aan die elemente waarvan jy gemaak is, is dat jý daarvan gemaak is.

Maar natuurlik maak dit alles eintlik nie saak nie. Hoeveel jy ook al betaal, of hoe versigtig jy ook al met die materiaal te werk gaan, jy sal nie ’n mens kan skep nie.

Jy kan al die slimste mense wat leef of al ooit geleef het, bymekaarkry en hulle toerus met al die menslike kennis wat bestaan en hulle sal geen enkele lewende sel kan maak nie, wat nog te sê ’n replika van Benedict Cumberbatch.

Dit is ongetwyfeld die merkwaardigste ding omtrent ons – dat ons eintlik net ’n versameling komponente is, soos dié wat jy in ’n hopie grond sal vind. Al wat besonders is aan die elemente waarvan jy gemaak is, is dat jý daarvan gemaak is. Dit is die wonder van lewe.

Ons lei ons lewe in hierdie warm, drillerige stuk vleis en tog aanvaar ons dit meestal as vanselfsprekend. Hoeveel van ons weet selfs vaagweg waar die milt is of wat dit doen? Of wat die verskil tussen senings en ligamente is? Of waarmee ons limfkliere besig is?

Hoeveel keer per dag knip jy jou oë? Vyfhonderd? ’n Duisend? Jy het natuurlik geen benul nie. Wel, jy knip jou oë 14 000 keer per dag – so gereeld dat jou oë 23 minute van elke dag toe is.

Rooibloedselle

Tog hoef jy nooit daaraan te dink nie, want jou liggaam verrig elke sekonde ’n letterlik ontelbare aantal take sonder dat dit ’n oomblik van jou aandag verg.

Elke rooibloedsel sal sowat 150 000 keer in jou ro
Elke rooibloedsel sal sowat 150 000 keer in jou rondrits en herhaaldelik suurstof aan jou selle voorsien. Foto: Gallo Images/Getty Images

In die sekonde of twee vandat jy hierdie sin begin lees het, het jou liggaam 1 miljoen rooibloedselle gemaak. Dit jaag reeds in jou rond, vloei deur jou are, hou jou lewend.

Elkeen van daardie rooibloedselle sal sowat 150 000 keer in jou rondrits en herhaaldelik suurstof aan jou selle voorsien, en dan, gehawend en nutteloos, hulself aan ander selle oorgee om stilweg doodgemaak te word, alles om jou onthalwe.

Dit neem 7 miljard miljard miljard (of 7 000 000 000 000 000 000 000 000 000, oftewel 7 kwadriljoen) atome om jou te maak.

Daar is genoeg van jou om die sonnestelsel te verlaat. Jy is in die letterlikste sin kosmies.

Uitmekaargehaal is jy ontsaglik groot. As jou longe platgestryk word, kan dit ’n tennisbaan vol lê en al die lugweë in hulle sou van Londen tot Moskou strek. Die lengte van al jou bloedvate saam sal twee en ’n half keer om die aarde strek.

Die merkwaardigste deel van alles is jou DNS. ’n Meter daarvan is in elke sel verpak, en jy het soveel selle dat as jy uit al die DNS in jou lyf ’n enkele fyn stringetjie sou vorm dit 16 miljard km ver sou strek, tot verby Pluto. Dink daaraan: Daar is genoeg van jou om die sonnestelsel te verlaat. Jy is in die letterlikste sin kosmies.

Meer oor DNS en evolusie

Die rede dat soveel DNS in ’n selkern kan pas, is dat dit ragfyn is. Jy sou 20 miljard stringe DNS sy aan sy moet neerlê om die breedte van die fynste menslike haar te kry.

Elke sel in jou liggaam (streng ge­sproke, elke sel met ’n kern) het twee kopieë van jou DNS. Dis hoekom jy genoeg het om tot by Pluto en verder te strek.

DNS bestaan vir net een doel – om meer DNS te skep.

’n Stuk DNS is in segmente verdeel wat chromosome
’n Stuk DNS is in segmente verdeel wat chromosome genoem word. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jou DNS is bloot ’n handleiding oor hoe om jou te maak. ’n DNS-molekule, soos jy waarskynlik uit talle televisieprogramme of die biologieklas op skool sal onthou, bestaan uit twee stringe wat met sporte verbind is om die beroemde gedraaide leer te vorm, bekend as ’n dubbelheliks.

’n Stuk DNS is in segmente verdeel wat chromosome genoem word. Korter, individuele eenhede word gene genoem. Al jou gene saam is die genoom.

DNS is uiters stabiel. Dit kan tien­duisende jare hou. Deesdae stel dit weten­skaplikes in staat om die antropologie van die verre verlede uit te pluis. Niks wat jy nou besit – geen brief of juweliersware of kosbare erfstuk – sal waarskynlik oor ’n duisend jaar nog bestaan nie, maar jou DNS sal nog êrens draal en opspoorbaar wees.

DNS dra inligting met buitengewone getrouheid oor. Dit maak net sowat een fout per elke miljard letters wat geko­pieer word. Tog kom dit op sowat drie foute, of mutasies, per selverdeling neer. Die liggaam kan die meeste van daardie mutasies ignoreer, maar net af en toe het dit ’n blywende betekenis.

Dit is evolusie.

Genetiese materiaal

Al die komponente van die genoom het een doel – om jou geslagslyn voort te sit. Dis ’n gedagte wat ’n mens nogal nederig stem dat die gene wat jy dra ongelooflik oud en moontlik – tot dusver, in elk geval – ewigdurend is.

Jy sal sterf en wegkwyn, maar jou gene sal voortgaan solank as wat jy en jou afstammelinge aanhou om voort te plant. En dis beslis verstommend om te dink dat jou persoonlike geslagslyn nie een keer in die 3 miljard jaar sedert die ontstaan van lewe op aarde verbreek is nie.

Vir jou om nou hier te wees, moes elkeen van jou voorouers hul genetiese materiaal suksesvol na ’n ander generasie oordra voor hulle gesterf of om ander ­redes die voorplantingsproses laat vaar het. ’n Ketting van sukses.

Die paradoks van genetika is dat ons almal baie verskil en tog geneties feitlik identies is. Alle mense deel 99,9% van hul DNS en tog is geen twee mense presies dieselfde nie. My DNS en jou DNS sal op 3 tot 4 miljoen plekke verskil, wat ’n klein deeltjie van die totaal is, maar genoeg om ons baie te laat verskil.

In die sekonde of twee vandat jy hierdie sin begin
In die sekonde of twee vandat jy hierdie sin begin lees het, het jou liggaam 1 miljoen rooibloedselle gemaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy het ook sowat 100 persoonlike mutasies – stringe genetiese instruksies wat nie heeltemal ooreenstem met enige van die gene wat jy by enige van jou ouers gekry het nie, maar net joune is.

Die liggaam word dikwels met ’n masjien vergelyk, maar dit is soveel meer as dit. Dit werk dekades lank 24 uur per dag – meestal sonder dat dit gereeld versien word of nuwe onderdele moet kry.

Dit word deur water en ’n paar organiese verbindings aangedryf, dis sag en nogal mooi, is beweeglik en buigsaam, plant met geesdrif voort, maak grappe, ervaar liefde, waardeer ’n mooi sonsondergang en ’n verkwikkende briesie.

Van hoeveel masjiene weet jy wat enige van dié dinge kan doen? Daar is geen twyfel nie: Jy is waarlik ’n wonderwerk. Maar dit geld ook vir ’n erdwurm.

En hoe vier ons die glorie van ons ­bestaan? Wel,
En hoe vier ons die glorie van ons ­bestaan? Wel, in die meeste van ons se geval deur minimaal te oefen en maksimaal te eet. Foto: Gallo Images/Getty Images

En hoe vier ons die glorie van ons ­bestaan? Wel, in die meeste van ons se geval deur minimaal te oefen en maksimaal te eet. Dink net aan al die gemors wat jy in jou keel afgooi en watter deel van jou lewe jy in ’n vegetatiewe toestand voor ’n gloeiende skerm deurbring.

Jou liggaam sien om na jou

Tog sien ons liggaam op die een of ander wonderbaarlike manier om na ons. Dit haal voedingstowwe uit die kos wat ons verorber, en op ’n manier hou dit ons aan die gang – gewoonlik op ’n betreklik hoë vlak, dekades lank.

Selfs wanneer jy byna alles verkeerd doen, hou jou liggaam jou in stand. Die meeste van ons kan op die een of ander manier daarvan getuig. Vyf uit elke ses rokers sal nie longkanker kry nie. Die meeste mense wat kandidate vir hartaanvalle is, kry nie hartaanvalle nie.

Na raming word tussen een en vyf van jou selle elke dag kankeragtig, maar jou immuunstelsel vang hulle en maak hulle dood. Dink daaraan. ’n Paar dosyn keer per week, baie meer as 1 000 keer per jaar, kry jy die mees gevreesde siekte van ons tyd, en elke keer red jou liggaam jou.

Natuurlik ontwikkel ’n kanker soms tot iets ernstigers en kan dit moontlik jou dood veroorsaak, maar oor die algemeen is kankers seldsaam: Die meeste selle in die liggaam repliseer miljarde kere sonder dat iets skeef­loop. Kanker is dalk ’n ­algemene oorsaak van sterftes, maar dis nie ’n algemene gebeurtenis in die lewe nie.

Ons liggame is ’n heelal van 37,2 biljoen selle (volgens ’n berekening van ’n span Europese wetenskaplikes van die Universiteit van Bologna in Italië in 2013) wat min of meer heeltyd min of meer volmaak saamwerk. ’n Pyn, slegte spysvertering, ’n kneusplek of ’n puisie af en toe is omtrent al wat in die normale gang van sake wys ons is on­volmaak.

Duisende dinge kan ons doodmaak – ’n raps meer as 8 000, volgens die internasionale statistiese klassifikasie van siektes en verwante gesondheidsprobleme wat deur die Wêreld­gesondheidsorganisasie saamgestel is – en ons ontkom aan elkeen daarvan, behalwe aan een. Vir die meeste van ons is dit nie ’n slegte bedeling nie.

Nie volmaak nie

Ons is geensins volmaak nie, genade weet. Ons verstandtande pynig ons omdat ons kakebene te klein is vir al die tande waarmee ons toegerus is, en ons het bekkens wat te nou is om kinders te baar sonder uiterste pyn. Ons is baie vatbaar vir rugpyn. Ons organe kan hulself nie herstel nie.

Daar’s ’n tropiese vis wat nuwe hartweefsel kan gr
Daar’s ’n tropiese vis wat nuwe hartweefsel kan groei wanneer hy hartskade opdoen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar’s ’n tropiese vis wat nuwe hartweefsel kan groei wanneer hy hartskade opdoen. As jóú hart skade opdoen, is dit tot daarnatoe.

Byna alle diere vervaardig hul eie vitamien C, maar ons kan nie. Ons voer elke deel van die proses uit, behalwe – onverklaarbaar genoeg – die laaste stap: die vervaardiging van ’n enkele ensiem.

Die wonder van die menslike lewe is nie dat ons party brooshede het nie, maar dat ons nie daarmee oorlaai is nie.

Moenie vergeet jou gene kom van voor­ouers wat meestal nie eens mense was nie. Sommige van hulle was visse. Ander was klein en wollerig en het onder die grond gewoon.

Hulle is die wesens van wie jy jou liggaamsplan geërf het. Jy is die produk van 3 miljard jaar se evolus­io­nêre verstellings.

Ons sou almal baie beter daaraan toe gewees het as ons net van voor af kon begin en vir onsself ’n liggaam kon ontwerp wat vir ons spesifieke behoeftes as Homo sapiens gebou is – om regop te loop sonder om ons knieë en rûe te verniel, om kos in te sluk sonder die verhoogde risiko vir verstikking, om babas uit te pomp asof hulle van ’n vervoerband af kom.

Maar ons is nie daarvoor gebou nie.

Ons het ons reis deur die geskiedenis as eensellige blertse begin wat in warm, vlak seewater gedryf het. Sedertdien was alles ’n lang en interessante ongeluk – maar dit was ook fabelagtig.

Fassinerende feite
  • Terwyl jy stilsit en niksdoen, werk jou brein binne 30 sekondes deur meer inligting as wat die Hubble-ruimteteleskoop in 30 jaar verwerk.
  • Die menslike brein hou na raming sowat 200 eksagrepe inligting – dit is, volgens Nature Neuroscience, gelykstaande aan “die hele digitale inhoud van die hedendaagse wêreld”.
  • Jou brein het net sowat 1 600 kJ energie per dag nodig – omtrent soveel soos wat jy in ’n ontbytmuffin kry.
  • Ons skei sowat 30 000 L speeksel in ’n leeftyd af (omtrent soveel as die water in 200 diep baddens).
  • By ’n man neem die gemiddelde reis van kos van sy mond tot by sy anus 55 uur. Vir ’n vrou neem dit gewoonlik sowat 72 uur.
  • Niesdruppels kan 8 m ver reis en hang 10 mi­nute in die lug voor dit op oppervlakke daar naby neerdaal, het ’n span van die Massachusetts-instituut van Tegnologie ontdek.
  • Ons skud elke jaar sowat ’n halwe kilogram vel af.
  • Jy kan maklik 10-12 L sweet in ’n enkele dag afskei as jy in warm toestande stap.
’n Uittreksel uit The Body: a Guide for Occupants
’n Uittreksel uit The Body: a Guide for Occupants deur Bill Bryson

’n Uittreksel uit The Body: a Guide for Occupants deur Bill Bryson, uitgegee deur DoubleDay, ’n druknaam van Penguin Random House. Beskikbaar by boekwinkels landwyd teen ’n aanbevole kleinhandelprys van R369.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.