Elizma se ma, suster, swaer en dié se drie kinders het al vier aande by die Elizma-hulle gekuier toe die voorval plaasvind. 

Die hele huis is wakker . . . ek probeer my kinders kalmeer en weer aan die slaap kry. 02:55 vanoggend het ons Yorkie begin blaf . . . Ek het gedink dis vreemd, want dis nie iets wat sy gewoonlik doen nie . . . ek staan toe op en sluit ons kamerdeur, nie dat ek regtig gedink het iets is fout nie . . . ons bly dan in ’n sekuriteitskompleks, vertel Elizma. 

Sy sê sy kon nie weer aan die slap raak nie en omstreeks 03:25 het sy ’n gil gehoor. ’n Gil wat ek nooit weer in my lewe wil hoor nie, beskryf sy dit. 

Dis my ma se stem . . . Ek spring op . . . Maak vir Nico wakker . . . hy mag nie sonder die pistool uitgaan nie sê ek . . . Hy gaan uit by die kamerdeur . . . ek sluit weer . . . ek gryp die kinders en sit hulle in een van die kaste. Ek hoor ’n  skoot . . . En nog gille . . . Ek hoor myself hardop bid. Asseblief, Here, asseblief beskerm net almal.

Die volgende oomblik het die sangeres na haar man geroep en was verlig toe sy sy stem en dié van haar ma, suster en die kinders hoor. Toe sy die kamerdeur oopsluit, het wit gesigte geverf met skok my ontmoet. 

Hulle het langs my ma se bed gestaan . . . langs my sussie se bed gestaan . . . Hulle was in my huis . . . vreemdelinge . . . met flitsligte en lang vingers . . . het geld gevat en goed gevat waarvoor hulle nie gewerk het nie. Hulle is nou weg, maar los voetspore in die plek waar ek en my gesin moet veilig voel.

Ek kan nie . . . sal nie toelaat dat vrees in my boei nie, want die Here se hand was oor ons. Hy het ons beskerm en bewaar . . . Vat maar die aardse goed; dis nie belangrik nie. Ek kan almal vir wie ek lief is in hierdie huis vanoggend weer sê, ek is lief vir jou, ek kan hulle vashou . . . dis al wat tel, lui die inskrywing.

Aanhangers het dadelik ingespring om Elizma sterkte toe te wens. 

Die hartseerste van alles is dat omtrent elke tweede persoon met trauma moet saamleef oor die een of ander insident veroorsaak deur skelms . . . elkeen deel van een of ander statistiek, dankie, Vader, dat julle veilig is, skryf ene Doreen Beukes. 

Elizma, ek is uit my hart uit bly julle is veilig en ongedeerd . . . ons Pappa Vader se beskermende Hand was definitief oor julle en ’n mens kan nie vir Hom genoeg dankie sê daarvoor nie, skryf Leana Bornman. 

Die voorval kom net ’n week nadat Elizma ’n roerende boodskap geskryf het oor ’n bekende van haar grootworddorp, Kuruman, wat op sy kleinhoewe vermoor is. 

Danie Kat Fourie (63) se keel is afgesny en sy lyk gevind waar dit versteek is onder die bokant van ’n sleepwaentjie op sy kleinhoewe in Seoding, het die polisie in ’n verklaring gesê.

Sy 62-jarige vrou is verlede Woensdag in die vroeë oggendure in hul bakkie op ’n verlate deel van die N14 naby Mothibistad buite Kuruman gevind. Sy is wreed aangerand en volgens die polisie gemartel.

“Niemand verdien dit nie en niemand se geliefdes verdien om deur so iets te gaan nie. Die hartseer ding is dat oom Kat se storie net een van soveel is. In ons land word hierdie daagliks ook iemand anders se storie.

“Die duiwel loop rond in Suid-Afrika . . . ek voel kwaad, hartseer en magteloos. Maar vanaand sal ek maar weer op my knieë gaan en bid vir tannie Marianne . . . oom Kat se geliefdes en vir ons land,” het sy vroeër aan Huisgenoot gesê