Die hartseer werklikheid van plaasmoorde het Woensdagoggend ook aan die hart van een van ons land se geliefde sangeresse geraak.

Elizma Theron het in ’n Facebook-inskrywing gesê dit is vir haar baie hartseer om te deel dat ’n bekende van haar grootworddorp, Kuruman, wreed op sy kleinhoewe vermoor is.  

Danie (Kat) Fourie (63) se keel is afgesny en sy lyk gevind waar dit versteek is onder die bokant van ’n sleepwaentjie op sy kleinhoewe in Seoding, het die polisie in ’n verklaring gesê.

Sy 62-jarige vrou is Woensdag in die vroeë oggendure in hulle bakkie op ’n verlate deel van die N14 naby Mothibistad gevind buite Kuruman. Sy is wreed aangerand en volgens die polisie gemartel. 

“Hulle het haar hande vasgemaak en haar erg geskop en geslaan. Ons weet nog nie veel nie. Die tannie is in die hospitaal, maar is nog bewusteloos; so ons weet nie wat gevat is of hoeveel verdagtes ons soek nie. Ons is egter vasbeslote om hulle vas te trek. Ons bid dit gebeur vandag nog,” het kapt. Sergio Kock van die polisie gesê. 

"Vandag is 'n hartseer dag vir die hele Kuruman-gemeenskap en vir ons almal wat die voorreg gehad het om hierdie groot siel te ken,” skryf Elizma.  Ek vra ook al my Facebook-vriende moet vir tannie Marianna se spoedige herstel bid en vir almal wat lief was vir oom Kat.”