Haar geliefde Oom Kat se lewe is deur boosheid gesteel.

So het ’n hartseer Elizma Theron aan Huisgenoot gesê in reaksie oor die selfdood van die man wat oor die moord van Danie (Kat) Fourie (63) in hegtenis geneem is.

“Hy het 'n keuse gemaak om sy lewe te eindig. Oom Kat het nie ’n keuse gehad nie . . . sy lewe is gesteel deur hierdie man se boosheid.”

Die sangeres sê sy het gemengde gevoelens oor die feit dat die gereg nou nooit sy verloop sal neem nie, maar erken sy is tog verlig oor die wete dat hy nie dalk oor 'n paar maande uit die tronk gaan kom en nog lewens sal steel nie.

Die 31-jarige man wat Danie na bewering vermoor het is Donderdagoggend dood in sy sel aangetref. Hy het homself gehang. 

Kaptein Sergio Kock van die Noord-Kaapse polisie sê hulle het die verdagte opgespoor met die hulp van inligting wat gemeenskapslede aan die polisie deurgegee het. “Ons het hom in die veld langs die M14 naby Kuruman gekry. Ons het die oorledene se rewolwer op hom gevind.”

Elizma het die hartseer nuus oor die inwoner van haar grootwoord-dorp, Kuruman, Woensdagoggend op Facebook gedeel.  “Vandag is ’n hartseer dag vir die hele Kuruman gemeenskap en vir ons almal wat die voorreg gehad het om hierdie groot siel te ken."

Danie se keel is afgesny en sy liggaam is Woensdagoggend onder die bokant van ’n sleepwa op sy kleinhoewe in Seoding, Kuruman gevind. Sy vrou Marianna (62) is in ’n verlate  Isuzu Bakki op die N14 naby Mothibistad gekry. Sy is erg aangerand en haar hande was vasgebind. 

Elizma se die polisie se vinnige reaskie bring nie troos nie, maar hulle is dankbaar dat die man aangekeer is. “Dit moes in die eerste plek nooit gebeur het nie.”

Sy vermoed die feit dat Marianna vir die polisie kon sê dat dit die nuwe tuinwerker was wat Danie drie weke tevore aangestel het het hulle ook gehelp om hom vas te trek.

Sy verneem dat Marianne tans in die Kimberley hospitaal behandel word en dat haar drie dogters by haar is om haar te ondersteun. “Oom Kat was 'n ongelooflike mens en was baie geliefd onder die Kuruman-gemeenskap. My hart is stukkend om te weet dat hy op so 'n wyse moes gaan. 

“Niemand verdien dit nie en niemand se geliefdes verdien om deur so iets te gaan nie. Die hartseer ding is dat Oom Kat se storie maar net een van soveel is. In ons land word hierdie daagliks ook iemand anders se storie.

"Die duiwel loop rond in Suid-Afrika . . . ek voel kwaad, hartseer en magteloos. Maar vanaand sal ek maar weer op my knieë gaan en bid vir Tannie Marianne . . . Oom Kat se geliefdes en vir ons land.”