Sy’t kort ná die voorval ’n emosionele inskrywing op Facebook geplaas.

Sy het aan Huisgenoot.com gesê hul Yorkie, Dia, het drieuur Woensdagoggend begin blaf.

“Die kinders het by my en Nico geslaap, want my ma, my sussie en haar man en drie kinders het in die gastekamers geslaap. Ek het sonder om te veel daaroor te dink ons kamerdeur gaan sluit,” vertel sy. 

Dis dié aksie wat moontlik die diewe verhoed het om in hul kamer in te kom sê sy. 

“Hulle het my sussie, haar baba en man se deur van buite gesluit, maar by my ma ingeloop. Twee van my sussie se kinders het saam met my ma in die kamer geslaap,” sê sy. 

Haar ma het wakker geskrik en twee mans met maskers langs haar bed gesien. Hulle het haar handsak en selfoon gegryp voor sy begin gil het.

Daarna het hulle ook dié kamerdeur van buite gesluit. 

“Ai, hulle het al my ma se spaargeldjies vir die vakansie gesteel. Al die geld waarmee sy geskenke in die stad wou kom koop,” vertel Elizma.  

Elizma se man, Nico, het sy pistol gegryp en twee waarskuwingskote afgevuur, waarna die diewe gevlug het. Dit is nie bekend of hulle gewapen was nie. “In daardie tyd het ek my kinders (wat drie jaar oud en 20 maande oud is) in die kas toegemaak. Toe ek daai skote hoor, dink ek dis een van my geliefdes wat gewond is,” sê sy. 

“Die twee kinders wat by my ma was, het vreeslik groot geskrik. Hulle is agt en drie jaar oud. Ek sal nooit my ma se gille uit my kop uit kry nie.” 

Elizma se dogtertjie, Eli-zé (3), wou egter steeds Woensdag skool toe. “Die juffrou het my gebel en gesê sy’s vreeslik huilerig. Nie sy of haar nefie, wat agt is, wil nou alleen badkamer toe gaan nie,” vertel sy. 

“Ons sal die kinders dophou en kyk of hulle traumaberading gaan nodig hê. Ons is so dankbaar ons is oukei.” 

Die polisie het volgens Elizma byna 12 uur ná die voorval by die huis opgedaag om ’n saak te open en bewyse te versamel.

“Ons het ook net ná die voorval 10111 gebel, maar hulle het gesê hul stelsel is af en hulle kan nie help nie,” sê sy.

Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het versoek dat die Therons ’n klagte indien rakende die inbelsentruminsident. “Stelsels wat af is, is nie ’n rede om nie te help nie,” sê hy.

Hy het Huisgenoot.com na die Gautengse woordvoerder verwys. Dié woordvoerder, asook die Brooklyn-polisiekantoorwoordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.