Op die Namibiese kopermyndorp Tsumeb met sy statige ou geboue uit die Duitse koloniale era kuier ’n familie gesellig saam. Dan skril ’n selfoon elders in die huis. Die 55-jarige Johnny Abbott staan op van sy jongste dogter, Elzane, se etenstafel om te antwoord, want die luitoon is syne.

Dis ’n vriendin van sy oudste dogter, Elna-Marie (29). En wat sy hom vertel, laat hom yskoud word.

“Iets groots is fout,” sê sy. “Ella het pas vir ons ’n skokkende boodskap gestuur . . .”

Toe lees hy met sy eie oë die woorde van sy dogter op die skermpie: Pappa, wees sterk asseblief . . . Ek’s jammer, maar ek’s moeg gesukkel in my lewe. Johnny wil eers glo dis ’n siek grap. Hy probeer sy oudste bel.

Maar Ella, soos die familie haar noem, se foon is afgeskakel. En gou is die Abbotts rasend van bekommernis. “Dit was die laaste keer dat ons van haar gehoor het,” sê Elzane (28) aan Huisgenoot oor daardie teksboodskap omstreeks 19:00 op Woensdag 28 Maart.

“ ’n Mens maak nie sin van so ’n boodskap nie. Jy het duisend vrae; jy’s doodbekommerd.”

Ella en haar sangeresniggie, Elizma Theron, was groot maats.

Die familie het Ella as vermis aangemeld en die Namibiese polisie het landwyd ’n soektog na haar begin. Meer as twee dae lank het die familie gebid om nuus dat sy veilig is. Ook hier in Suid-Afrika het die bekende sangeres Elizma Theron haar kommer in die sosiale media gedeel, want Ella is haar niggie.

Dit was vroeg die Vrydagoggend toe die verskriklike nuus kom: Ella is dood langs ’n treinspoor in Windhoek aangetref. Sy is deur treinwiele onthoof . . . Eers is gegis dat iemand haar dalk elders vermoor het en dit na selfdood wou laat lyk deur haar lyk op die treinspoor te plaas, maar die polisie het gou bevestig dat dit selfdood en nie moord was nie.

Die tragiese dood van die mooi jong sjef het skokgolwe deur die vreedsame land met sy verruklike bos- en woestynlandskappe gestuur. Op Tsumeb was die Abbotts verpletter; hier in Suid-Afrika was baie mense eweneens deur die tragedie ontroer. Aanhangers van Elizma het hul meegevoel aan die sangeres en die Abbotts betoon.

“Ons is stukkend; dit voel steeds nie of dit waar kan wees nie. Dis die wreedheid daarvan wat ons jaag,” sê Elzane nou vanuit Tsumeb.

Die familie worstel met talle pynlike vrae oor Ella se selfdood – en oor openbare bewerings dat sy by ’n gay liefdesdriehoek betrokke was.

Die polisie het glo op Ella se selfoon dreigboodskappe van ’n ander vrou ontdek. In dié boodskappe word Ella glo daarvan beskuldig dat sy die stuurder se minnares afrokkel. Die Abbotts meen die gerugte en bewerings is onsin.

’n Vrolike foto van Ella (links), haar pa, Johnny Abbott, en jonger suster, Elzane.

“Dat my sus bande met ’n groep gay vroue gehad het, is waar,” sê Elzane. “Maar ’n seksuele verhouding? Dis loutere bog.”

Eers is vermoed dat Ella ontvoer en vermoor is. Maar op 3 April, byna ’n week ná haar dood, het Namibiese owerhede gesê als dui op selfdood. Stuk-stuk het die polisie uitgepluis hoe Ella se laaste ure ontvou het.

Die Donderdagmiddag – nadat sy die vorige aand haar afskeidsboodskap gestuur het – laat sy haar motor in die ondergrondse parkeerterrein van die Merensky Towers-gebou in Windhoek.

Daarna ry sy 2 km ver in ’n minibustaxi tot by die treinspoor in ’n nywerheidsgebied. Daar, volgens die polisie, neem die gebore Walvisbaaier en jare lange depressielyer ’n hand vol epilepsiepille om haarself te verdoof teen wat kom.

Dan gaan lê sy op haar rug langs die spoor met haar kop op die blink metaalstaaf. In die nadoodse ondersoek is bevind die trein het omstreeks 20:30 oor haar gery. In die donker het niemand iets gesien nie.

Eers die volgende oggend, omstreeks 08:00, het die kondukteur van ’n trein haar onthoofde liggaam sien lê.

In haar motor is sewe afskeidsbriewe gekry – een van hulle aan Elzane, wat ’n uittreksel daaruit eksklusief met Huisgenoot gedeel het:

'Dankie vir dat ek jou as ’n susi kon gehad het. Dankie dat jy my toetse vir my geskryf het . . . Jy is sulke amazing mensi met so mooi hart. Kyk mooi na jouself en jou kinders – en vertel hulle elke dag van my asseblief. Lief julle.' 

‘Pappa, wees sterk asseblief . . . Ek’s jammer, maar ek’s moeg gesukkel in my lewe’.
Elzane (links) saam met ma Liesel, ouma Baby van Wyk en Ella.

“Die seer lê nog vlak,” sê Elzane.

“Hoekom het sy haar so wreed om die lewe gebring? Hoekom het sy nie met een van ons gepraat nie? En hoekom duik die bewerings van ’n gay liefdesdriehoek nou op?

“Ons kon nie glo dat sy dit aan haarself en haar familie sou doen nie. Pa Johnny en ma Liesel kry verskriklik swaar. Af en toe verdwyn een van hulle in ’n kamer om stilletjies te gaan huil. Dis hartverskeurend.”

Depressie is by Ella gediagnoseer kort nadat sy in 2014 op ’n vriendin afgekom het wat pas haar eie lewe geneem het. Verlede jaar het Ella haarself om die lewe probeer bring deur pille te drink. Elzane het betyds op haar afgekom, maar die jong sjef was drie dae in ’n koma.

“Dis wat ons knak: Dit was so ’n wonderwerk dat sy die eerste poging oorleef het . . . Om haar nou op so ’n wyse te moet verloor.”

Verlede September het Ella van Tsumeb na Windhoek verhuis om vir ’n hotelgroep te werk. Daar het sy met ’n groep gay vroue bevriend geraak, vertel Elzane – in die besonder met een vrou wat in ’n verhouding was.

“My sussie was eensaam en het by haar gekuier, geskenkies aangedra. Ons vermoed hierdie vrou het gevoelens vir haar ontwikkel, maar Ella wou net vriendskap hê,” beweer Elzane. Dis waar die stories oor ’n liefdesdriehoek vandaan kom, meen sy.

“Ella en die derde vrou het woorde gehad; ek weet hulle het kort-kort vasgesit.” Maar die familie verwerp praatjies oor ’n seksuele verhouding tussen Ella en haar vriendin.

“Ek en Ella het oor alles en meer gepraat,” sê Elzane. “Dit sou ons nie minder lief gemaak het vir haar as sy gay was nie. Maar sy het nooit ’n woord oor so iets gerep nie.

“Dis veral vir my pa verskriklik erg. Want nou moet hy vrede maak met haar sinlose dood en terselfdertyd wonder of sy dogter werklik so iets van hom geheim gehou het.”

Elna-Marie Abbot
Elna-Marie Abbot (29).

Sy het die Woensdagaand van Ella se verdwyning die derde vrou genader, sê Elzane. Toe stuur die vrou ’n boodskap terug: Dit het niks met my te doen nie. Ek hoop nie sy het iets aan haarself gedoen nie. Daarna het die vrou na bewering haar nommer verander.

“Ek glo nie ’n oomblik daar was iets romanties nie,” sê Elzane.

“En al was daar, is dit tragies dat haar persoonlike lewe so uitgeblaker word – dele daarvan wat sy nie eens met haar familie wou deel nie.”

Dit was Ella se neef Joe van Zyl wat volgens die Namibiese koerant Informanté gesê het die bewerings oor ’n gay verhouding was g’n verrassing nie.

“Ons was bly vir haar, want sy kon nie ophou praat oor haar nuwe meisie nie. Min het ons geweet dat haar nuwe vriendin reeds in ’n verhouding met ’n ander vrou is,” word hy daarin aangehaal.

Maar teenoor Huisgenoot krabbel hy terug: “Ek het dalk my eie vermoedens en afleidings gehad, maar Ella het nooit teenoor my gebieg nie en ek het ook nooit hierdie bewerings teenoor die koerant gemaak nie.”

’n Gedenkdiens is op 11 April in Windhoek gehou.

“Wanneer sy veras is en ons hierdie gebrokenheid agter ons kan sit, gaan ons op Ella se versoek haar as by Lambertsbaai strooi. Maar nie nou nie. Ons is nog nie gereed nie,” sê Elzane.

“Ek weet nie of ons ooit gereed sal wees om finaal afskeid te neem nie. Of ek ooit die grusame beeld van haar lewelose liggaam sal vergeet nie . . . Maar ons bid en klou vas aan die hoop dat dinge beter sal word.”

Die vrou wat Ella na bewering gedreig het, het nie op Huisgenoot se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Foto's: Facebook, Verskaf