Elizma kom uit daardie geweste. Haar ma het in Vryburg grootgeword, sê sy aan Huisgenoot. 

“Vir enige ouer is dit verskriklik. En dié is vir my 'n bietjie close to home omdat ek ook ’n ruk lank op Vryburg gebly het,” sê sy. 

Die boesemvriende Marna Engelbrecht (16) and Sharnelle Hough (17) is Saterdagoggend dood in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind. Sharnelle en Marna is volgens die polisie albei verwurg. 

Die koshuismoeder het volgens lt.kol Amanda Funani, ’n polisiewoordvoerder, die koshuis se deur oop gelaat Vrydagaand omdat ‘iemand vir die meisies sou klere bring vir hul sportbyeenkoms Saterdag’. 

Elizma sê mense moet versigtig wees om ander, soos die koshuismoeder, te oordeel. “Dis Stella! Niks gebeur ooit hier nie en ek is seker sy verwyt haarself genoeg.” 

Sharnelle se 19-jarige voormalige kêrel, Xander Bylsma, is in verband met die moorde in hegtenis geneem. Hy het reeds in die Vryburg-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning in Augustus.

“Ek dink aan en bid vir die ouers van die beskuldigde. Al die skuldgevoel en vrae; geen ouer maak 'n moordenaar groot nie,” skryf Elizma. 

"Ek dink aan en bid vir die skool en almal daarin wat lief was vir die meisies, en vir die kinders wat weer in die koshuis moet slaap. Ek dink aan en bid vir drie families wie se lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie. Dit was 'n sinlose daad wat net hartseer gebring het. Ek bid dat die Vaderhand julle almal sal dra tot Hy weet jul bene sterk genoeg is om weer alleen te staan."

Hier is die volledige inskrywing.