Mense vra my dikwels hoe ek sulke suksesvolle kinders grootgemaak het. Ek sê vir hulle ek het dit gedoen deur hulle hul eie belangstellings te laat nastreef.

Ek’s lief vir my kinders, en ek is baie trots op alles wat hulle bereik het.

My oudste seun, Elon, vervaardig elektriese motors om die omgewing te red en lanseer vuurpyle.

My middelkind, Kimbal, het plaas-tot-tafel-restaurante geopen en leer kinders dwarsoor Amerika om vrugteboorde en groentetuine aan te lê.

 Kimbal besit ’n restaurant, The Kitchen, en leer
Kimbal besit ’n restaurant, The Kitchen, en leer kinders dwarsoor Amerika hoe om tuine aan te plant.

My jongste, Tosca, bestuur haar eie vermaakmaatskappy, vervaardig romanse-flieks gegrond op blitsverkoperboeke en behartig boonop die regie daarvan.

Elkeen het van kleins af hul belang­stellings getoon.

Dus het ons hom ook “Genius Boy” genoem – ons kon hom enigiets vra. Onthou, dit was voor die dae van die internet

Toe Elon nog ’n jong kind was, het ek opgemerk hy lees alles. Ek was ook ’n leser, maar ek het ’n storie vergeet die oomblik dat ek daarmee klaar was.

Maar Elon het alles onthou wat hy gelees het. Hy het altyd inligting opgeslurp. Ons het hom “die ensiklopedie” genoem, want hy het die Encyclopaedia Britannica en Collier’s Encyclopaedia gelees en alles onthou.

Dus het ons hom ook “Genius Boy” genoem – ons kon hom enigiets vra. Onthou, dit was voor die dae van die internet. Ek skat ons sou hom nou “The Internet” genoem het.

Op 12 jaar oud het hy sy eerste rekenaar gekry. Dit was in 1983, en rekenaars was toe nog baie, baie nuut. Hy het dit leer gebruik en ’n rekenaarprogram, Blastar, geskryf, wat ’n speletjie was.

Ek het dit aan ’n paar universiteit­studente gewys wat in my modelskool was.
Daardie ouens was rekenaarweten­skapstudente in hul tweede of derde jaar, en hulle was baie beïndruk met die kortpaaie wat hy vir kodering gebruik het.

Ek het vir hom gesê hy moet dit aan ’n re­kenaartydskrif voorlê.

Hy het Blastar vir PC Magazine gestuur, en hulle het hom R500 betaal. Ek dink nie hulle het geweet hoe jonk hy was nie – sy program is gepubliseer toe hy 13 was. Maar selfs toe het ek nie besef wat hy eendag alles sal doen nie.

Elon is die stigter van onder meer die vuurpylmaat
Elon is die stigter van onder meer die vuurpylmaatskappy SpaceX. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy broer, Kimbal, het op sy beurt altyd van kos gehou. Op 12 het hy vir die gesin begin kook. Hy wou kos eet wat heerlik smaak, en as hy self daarvoor moes sorg, was hy bereid om dit te doen.

Ek het vir hulle gesonde kos gegee, maar dit was eenvoudig: toebroodjies met grondboontjiebotter, ertjies en wortels.

Hy het graag saam met my kruidenierswinkel toe gegaan. Ek onthou ek het saam met hom na ’n plaasmarkie toe gegaan, en hy het ’n groen soetrissie opgetel en daaraan geruik.

En ek het gesê: “Waar kom jy vandaan?” Kook was vir my glad geen vreugde nie. Ek het vir hulle gesonde kos gegee, maar dit was eenvoudig: toebroodjies met grondboontjiebotter, ertjies en wortels.

Kimbal het allerhande nuwe groentes gaan haal wat ons nog nooit voorheen gesien het nie en daarmee gekook. Hy sou vars vis kry wat daardie dag gevang is en dit saam met tamaties, suurlemoene en uie op die rooster gaarmaak.

Hy was ’n natuurlike kok. Alles wat hy berei het, was heerlik en veel beter as my saai kos.

Toe ons na Toronto, Kanada, toe trek, het hy vir Elon gnocchi saam met
’n ­alfredosous en krap leer maak sodat hy sy meisies daarmee kon beïndruk.

Dit was vir my verblydend toe Kimbal onlangs vir my sê hy voel ek was altyd baie ondersteunend, maak nie saak wat hy besluit het om te doen nie.

‘Ek het stowe en yskaste blink geskrop’

Hy het ’n hele paar keer van loopbaan verander. Hy het in ’n sakerigting studeer, ’n internet-­entrepreneur geword en toe kookkuns aan die French Culinary Institute in New York studeer.

Ek het elfuur saans, aan die einde van sy skof, saam met hom in die eetsaal by sy skool aandete geëet.

Toe hy na Boulder, in die Amerikaanse staat Colorado, verhuis en met ’n restaurant genaamd The Kitchen begin, het ek die stowe en yskaste blink geskrop.

Kimbal het al baie beleef. Ná ’n watersportongeluk het ’n gebreekte nek hom baie tyd gegee om te besin oor wat hy regtig met sy lewe wil doen.

Restaurante was sy passie. Toe maak hy plaas-tot-tafel-restaurante in Amerika oop en begin met ’n liefdadigheids­organisasie, Big Green, wat kinders in mindergegoede skole leer tuinmaak.

Hy het ook ’n maatskappy, Square Roots, gestig om jong entrepreneurs te leer hoe om stedelike boere te word deur tuine in herwinde skeepshouers op parkeer­terreine te verbou.

Toe Tosca 12 en in gr. 7 was, het haar dramaonderwyseres besluit sy wil nie meer die dramaklub bestuur nie – toe neem my dogter oor.

Tosca bedryf haar eie fliekmaatskappy, Passionflix
Tosca bedryf haar eie fliekmaatskappy, Passionflix.


Tosca het van kleins af in teater, dans, die uitvoerende kunste en musiek belanggestel en sy was altyd dol oor rolprente.

In Johannesburg het ons Vrydagaande saam op die rusbank deurgebring terwyl ons romantiese flieks kyk en roomys eet. (Toe het ek nog nie so gelet op wat ek eet soos noudat ek ’n model is nie.)

Nou maak dit natuurlik vir my sin dat sy ’n regisseur is wat haar eie rolprente vir haar maatskappy, Passionflix, maak. En as ’n trotse ma is ek altyd in my noppies om my vir haar premières uit te vat en by haar op die rooitapyt aan te sluit.

Ek sou nie Tesla of SpaceX of The Kitchen of Big Green of Passionflix kon voorspel het nie. Maar nou sien ek dat wat Elon met tegnologie bereik, Kimbal in die wêreld van kos bou en Tosca met rolprente doen, is alles in een ding gewortel: hul voorliefdes as kinders.

Toe Elon gebore is, was ek 23 – die gemiddelde ouderdom vir ’n ma in 1971.

Dit het met drie dae van vals kraam begin – dit beteken sametrekkings wat heeldag lank aanhou en saans verdwyn. Die geboorte was moeilik, want hy het ’n groot kop gehad, en hy was ’n groot babaseun van 3,8 kg. Ek wou ’n natuurlike geboorte sonder verdowingsmiddels hê.

Maar toe hy opdaag, was al die on­draaglike pyn vergete. Ek was so gelukkig. Hy was ’n klein engel. Ek kon nie glo iets is so mooi nie. Hy het langs my gelê, en ek het net na hom gestaar.

Toe ek ophou borsvoed, het ek feitlik dadelik met Kimbal swanger geraak. Met sy geboorte was ek 24.

Hy was ’n lang, skraal outjie en het effens meer as sy ouboet geweeg. Tog was sy geboorte makliker.

Op 25 het ek aan Tosca die lewe geskenk. Dit was ’n groot verrassing en ’n absolute vreugde om ’n dogter te hê.

Ek het my twee jonger kinders onder my arms gedra terwyl my eersteling langs my gestap het. Hulle was ’n handvol, ’n wonderlike handvol.

Teen 31 was ek ’n enkelma (nadat sy van haar man, Errol Musk, geskei is) en my prioriteit was om my kinders te ver­sorg.

Ek het uit Pretoria na Durban toe getrek, in ’n slaapkamer van ons huis met ’n voedingspraktyk begin en deeltyds modelwerk gedoen. Toe my kinders jonk was, moes hulle soms met hul boeke in die voorste ry sit terwyl ek op die loopplank was.

Van jongs af het hulle my met my voedingsonderneming gehelp.

Tosca sou in my kantoor instap en briewe aan dokters op ’n woordverwerker tik. Sy het die dokter se naam en adres, die basiese aanhef en slot asook die pasiënt se naam in­gevoeg, en ek het dan hul konsultasie en moontlike uitkomste ingevul.

Dis glad nie verbasend dat Elon die woordverwerker se funksies baie goed aan my kon verduidelik nie, en ook Kimbal was altyd hulpvaardig.

Toe ons na Bloemfontein verhuis, het ek Tosca in die werk gesteek by die
model-en-voorkomsskool wat ek daar bestuur het.

Sy het studente leer loop, loopplankvertonings gechoreografeer en etiketklasse bestuur. Sy het my vir al my vertonings geklee al was sy toe net omtrent agt. Wat kan ek sê? Ek het hulp nodig gehad.

Ek het my kinders grootgemaak soos my ouers ons grootgemaak het: om onafhanklik, vriendelik, eerlik, bedagsaam en beleefd te wees, hard te werk en weldade te verrig.

Maye se ­ouers, Wyn en ­Joshua, het in 1952 dwarso
Maye se ­ouers, Wyn en ­Joshua, het in 1952 dwarsoor die wê­reld gevlieg in dié vliegtuig.

Ek het hulle nie soos babas behandel of met hulle geraas nie. Ek het nie gekyk of hulle hul huiswerk gedoen het nie; dit was hul verantwoordelikheid.

Toe hulle ouer word, het hulle voort­gegaan om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te aanvaar. Tosca het haar eie hoërskool gekies. Hulle het almal by die universiteit van hul keuse aansoek gedoen en self hul aansoeke vir beurse en studentelenings ingevul.

Kinders hoef nie teen die werklikheid van verantwoordelikheid beskerm te word nie. My kinders het daarby baat ­gevind, want hulle het gesien dat ek hard werk net sodat ons ’n dak oor ons kop en kos in ons maag kan hê en tweedehandse klere kan koop.

Maar omdat my werk my besig gehou het, het hulle die vryheid gehad om soms kattekwaad aan te vang, en ek is seker ek het steeds nog nie eens die helfte van die stories gehoor nie.

Dis nie dat ek hulle nie gedissiplineer het nie. Ek het hulle gestraf wanneer hulle stout was. Dan mag hulle nie TV gekyk het nie, of hulle is na hul kamer gestuur.

In 1976 as ’n jong ma in Pretoria. Maye vertel al
In 1976 as ’n jong ma in Pretoria. Maye vertel al was dit nie aldag maklik om drie kinders onder ses jaar oud groot te maak nie, was hulle “?’n wonderlike handvol”.

Maar nou vertel hulle my hulle het dan deur die huis teruggesluip en hul gunstelingprogramme op die ou VHS opgeneem sodat hulle nie The A-Team of MacGyver sou misloop nie.

Ek was in my kantoor en het dit nie agtergekom nie. Ek skat dis nog ’n voordeel daarvan om ’n werkende ma te hê.

Die lewe is onvoorspelbaar en vol verrassings. Soms moet jy net ’n kans waag en ’n groot verandering maak. Ek was 41, my onderneming het goed gevaar in Johannesburg en ons het ’n lekker huis gehad. Eindelik het ek veilig gevoel.

Maar Elon wou Kanada toe trek, want hy het gevoel Noord-Amerika was die regte plek om sy rekenaarbelangstellings na te streef. Hy het my gevra om aansoek te doen om my burgerskap terug te kry sodat hy en sy sibbes almal daar kon woon en werk.

Dit het lank geneem om alles agter­mekaar te kry. Drie weke nadat die paspoorte in 1989 eindelik by ons aangekom het, was Elon op pad Kanada toe. Hy was 17 jaar oud.

Ek het hom met adresse en $2 000 (toe sowat R5 000) se reisigerstjeks gestuur. Ek het aan my familie in Kanada geskryf om hulle van sy koms te laat weet, al het hy natuurlik voor die briewe by hulle aangekom. In daardie tyd het briewe ses weke geneem om daar uit te kom.

Hy het in Montreal geland en my oom gebel, maar daar was geen antwoord nie. Hy het ’n kollekteeroproep na my ge­maak en gevra: “Wat doen ek nou?”

Ek het gesê hy moet ’n YMCA soek. Toe reis hy na Toronto om ’n ander oom op te spoor, wat ook nie daar was nie. Toe haal hy ’n bus na Saskatchewan om my neefs op te spoor. Hy het net op hul drumpel opgedaag en gesê: “Hallo, ek is Maye se seun.”

Dit is waar hy 18 geword het.

Tosca was toe byna 15 en het vir my gesê: “Dalk moet ons by Elon aansluit. Gaan kyk wat hy doen.”

Ek was glad nie lus om te trek nie, maar toe sy dreig om sonder my te gaan, het ek ingestem om Kanada toe te reis.

Twee dieetkundiges het ingestem om my praktyk oor te neem terwyl ek weg is. Hulle het in my huis gebly om na Tosca te kyk.

In Kanada het ek en Elon, wat toe aan die Queen’s-universiteit in Ontario studeer het, na geleenthede vir my gesoek. Die Universiteit van Toronto het laat weet hulle is bereid om my as ’n navorsings­beampte in diens te neem; en as personeellid kon my kinders gratis daar studeer.

Toronto was ook die middelpunt vir modelwerk in Kanada. Ek was in my vroeë 40’s en daarom onseker oor watter ontvangs ek sou kry. Maar elke agent­skap wat ek genader het, het gesê, ja, hulle kan ’n ouer model gebruik.

Toe ek drie weke later na Johannesburg terugkeer, ontdek ek Tosca het reeds op eie houtjie kopers vir my huis, meubels en motor gekry. Ek moes net die dokumente onderteken.

Ons het die land ’n paar weke later verlaat. Die plan was dat Kimbal met hoër­skool sou klaarmaak en dan by ons aansluit.


Ons het met net R4 500 in Kanada aangekom, maar dit was genoeg om ’n gemeubileerde eenslaapkamerwoonstel te huur. Ek en Tosca het op die bed in die slaapkamer geslaap en Elon op die rusbank in die leefvertrek.

Ons het in Desember daar aangekom, waarin dit bitter koud in Toronto is.

Boonop het my tas met al my klere en graadsertifikate op die vlug daarheen weggeraak. Tot ek eindelik met my bagasie herenig is, moes ek Elon se klere en Tosca se skoene dra.

Dit was moeilik om van voor af te begin, maar ons het dit laat werk. My deeltydse werk as navorser by die universiteit het die huur vir ons woonstel gedek. Ek het dadelik begin modelwerk doen, en dit het al die ander uitgawes gedek.

‘My seun is baie goed met rekenaars’

Kort nadat ons in Toronto aangekom het, het Elon ook werk gesoek. By ’n vergadering vir dieetkundiges het ek opgemerk dat my seun werk soek. Een van die dieetkundiges se man het by Microsoft gewerk.

“My seun is baie goed met rekenaars,” het ek vir haar gesê. Elke ma sê sulke dinge. In dié geval was hulle baie verbaas toe hulle ontdek hoe reg ek was.

Maar Elon was so gedrewe dat hy nooit daarmee tevrede sou wees om vir iemand anders te werk nie. Teen 1995 het hy na Silicon Valley in Amerika verhuis en sy broer het later by hom aangesluit.

Hul eerste onderneming was Zip2, wat padkaarte en deur-tot-deur-aanwysings gebied het, en hulle het met die wêreld se groot koerante saamgewerk om dit aanlyn te verskaf.

Dit was splinternuwe idees, en ek het gedink dit was goeies wat die lewe sal verbeter. Ek wou als in my vermoë doen om hulle te ondersteun.

Ek het elke ses weke by hulle gaan kuier terwyl hulle hul sakeplan begin uitvoer het. Ek het vir hulle kos, klere en meubels gekoop en hul drukuitgawes gedek. Hulle kon nie ’n kredietkaart in Amerika kry nie en het my Kanadese kredietkaart gebruik.

Hulle was amper platsak en het kon­tant nodig gehad om voort te gaan. Ge-
lukkig het ek R26 000 in die bank gehad. Ek het dit vir hulle gegee, want ek het geglo in wat hulle doen.

Die aand voor hulle ’n vergadering met waagkapitaliste moes hê, het ek en Kimbal na ’n drukkery gegaan om hul voorleggings in kleur uit te druk. Ek het daarvoor betaal, want dit was ’n dollar per bladsy, en dit was baie duur.

Die volgende oggend was ons almal uitgeput, want nie een van ons het geslaap nie. Natuurlik was Elon piekfyn, want hy slaap nooit – destyds het hy altyd laat wakker gebly om te programmeer.

Hul harde werk het eindelik vrugte afgewerp. Daardie oggend het hulle twee waagkapitaliste ontmoet wat vir hulle hul eerste aanbod gemaak het. Ons was oorstelp van vreugde. Daardie aand het ons dit gaan vier.

Ons het by ’n fantastiese restaurant gaan eet, en ons het almal gedaan en smerig gelyk. Toe die rekening kom, het ek dit betaal en gesê: “Dit is die laaste keer dat julle my kredietkaart sal sien.”

En dit was ook.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit A Woman Makes a Plan deur Maye Musk, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers, R199. Teen dié prys beskikbaar by Takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, FACEBOOK/KIMBAL MUSK, FACEBOOK/TOSCA MUSK, VERSKAF