Stuur iemand soms vir jou ’n WhatsApp of e-pos met ’n emoji wat jy nog nooit gesien het nie? Dalk krap jy kop en wonder wat dié aardige prentjie van iets so uiteenlopend as ’n heksie, ’n bol wol of ’n orangoetang dan nou kan beteken.

Dan is daar iemand wat jou kan help. Sy naam is Jeremy en hy woon op ’n boot in Engeland.

Die wêreld se voorste emoji-kenner, Jeremy Burge, vaar deesdae voltyds op sy boothuis, Dottie M, op Engeland se riviere en kanale terwyl hy die res van die wêreld oor emoji’s ingelig hou. 

Jeremy noem homself ’n CEO, maar dit staan nie vir Chief Executive Officer nie. Nee, hy is ’n Chief Emoji Officer. 

Van internetbeheerliggame tot TV-netwerke nooi hom
Van internetbeheerliggame tot TV-netwerke nooi hom om sy kennis met hulle te deel. Foto: YouTube/The Morning Show

Dié CEO het g’n korporatiewe hoofkwartier van beton en glas nie, en bitter min werknemers. Hy was self verbaas dat hy danksy sy werk met emoji’s ’n miljoenêr geword het.

Jeremy is die stigter van Emojipedia, die voorste aanlyn naslaantuiste oor die alomteenwoordige prentjietaal – die “Wikipedia vir emoji’s”, soos Jeremy dit self al genoem het. Hy het Emojipedia in 2013 gestig en die jaar daarna ook Wêreld-emojidag geskep. 

Jeremy gesels met radiostasies op Wêreld-emojidag,
Jeremy gesels met radiostasies op Wêreld-emojidag, waarvan hy ook die skepper is. Foto: Instagram/@JeremyBurge

Teen verlede jaar het Emojipedia 33 miljoen bladkyke maandeliks getrek – wat boonop tydens die aanvanklike streng inperkings van die covid-pandemie tot 50 miljoen opgeskiet het.

Maar al maak emoji’s hom ryk, lewe hy nie in ’n groot paleis nie. Die Australiër en sy lewensmaat het hul huis verruil vir ’n boothuis, 16 m lank, maar skaars so wyd soos ’n moltreinwa, om Engeland se waternetwerk te navigeer. 

Jeremy en sy lewensmaat woon en werk op 'n boothui
Jeremy en sy lewensmaat woon en werk op 'n boothuis, en bevaar graag die Engelse waterweë tussen sy Emojipedia-take deur. Hulle het so al byvoorbeeld heelpad van Londen na Bristol gereis. Foto: Instagram/@JeremyBurge

Maar alles het eers by ’n oliebol begin.

In 2013 het Jeremy, destyds ’n webkonsultant, ’n prentjie van dié soethappie tussen die emoji-opsies op sy foon gewaar. Hy het gewonder hoe lank dit al bestaan het. Hy kon glad nie ’n antwoord deur Google of Wikipedia vind nie. En so het sy woordeboek vir emoji’s die lig gesien. Emojipedia het die wêreldwye web se omvattendste emoji-gids geword.

Jeremy het al aan slate.com vertel: “Ek het gereken daar’s derhonderde van dié goedjies; hoekom doen niemand niks daaraan om dit vir mense te verduidelik nie? Ek kon nie so ’n geleentheid laat verbygaan nie.”

Hy het op 14 Julie 2013 – sy verjaardag – die domein emojipedia.org gekoop en ’n webtuiste opgebou wat elke emoji katalogiseer en aandui wanneer nuwes verskyn.

Daar kan jy sien watter emoji’s deur Apple, Google, Microsoft en dies meer aanvaar is, en hoe byvoorbeeld ’n rooi hartjie anders op WhatsApp as op Skype of ’n ander platform lyk. 

Sy soveelste podsending oor emoji’s van die Dottie
Sy soveelste podsending oor emoji’s van die Dottie M se dek af. Hy deel ook graag sy bootavonture op TikTok. Foto: Instagram/@JeremyBurge

Hy het gou ook ’n sleutellid geword van die Unicode-konsortium se emoji-subkomitee, ’n internasionale organisasie wat digitale teks wêreldwyd standaardiseer. Die Unicode-standaard sê watter 144 000 karakters oor 150 skryfstelsels heen digitaal erken word.

In September vanjaar gaan hulle Emoji 14.0 uitreik, wat 37 nuwe emoji’s sal insluit. 

Wanneer die konsortium jaarliks oor nuwe emoji’s vir die Unicode-standaard besluit, is Jeremy een van die eerste mense wat hulle raadpleeg. 

Emojipedia was volgens Jeremy tot vroeg in 2014 ’n “taamlik beskeie projek”. Maar daardie jaar het die webtuiste skielik ’n geweldige verkeerstoename beleef toe Jeremy ’n lys gepubliseer het van nuwe emoji-kandidate waaroor Unicode in daardie stadium besin het. 

“Iemand het die lys op my webtuiste gevind, en toe het almal skielik gesê: ‘Hokaai . . . ons kan weet watter nuwe emoji’s gaan uitkom?’ Dit het gelyk asof elke nuuswebtuiste wêreldwyd ’n skakel na Emojipedia geplaas het. Dis toe dat ek dit ’n bietjie ernstiger begin opneem het.”

Jeremy meen mense was lank onbewus daarvan dat emoji’s op ’n gekoördineerde, demokratiese, deursigtige manier ontwerp en uitgereik word.

Die Unicode-konsortium, met lede soos Apple en Microsoft asook onafhanklike emoji-ghoeroes soos hy, aanvaar voorstelle vir nuwe emoji’s uit die wêreldgemeenskap, en keur dit goed op grond van kriteria soos hoe gereeld mense dit sal gebruik en hoe wyd dit verstaan sal word.

“Ongeag wat sommiges sê, het emoji’s tekskommunikasie verryk,” sê Jeremy. “Wanneer jy vir iemand ’n teksboodskap stuur, is dit moeilik om die emosie, gemoedstemming of gevoel agter jou teks vas te vang. Waar jy eens dalk ’n uitroepteken sou plaas, kan jy danksy emoji’s nie net ’n glimlag nie maar omtrent alles oordra.”

Jeremy het nooit kon dink hy sou eendag ’n inkomste met ses nulle verdien as die wêreldkenner oor alles van katte met hartjies vir oë tot ’n glimlaggende hopie poef nie. Sy lewensmaat herinner hom graag aan die ironie dat sy, ’n verpleegster, lewens red vir ’n beskeie salaris, terwyl hy skatryk raak deur oor prentjies op die internet te skryf.

“Dis ’n waansinnige werk, maar dis pret.”

Jeremy is ook die skepper van Wêreld-emojidag. Hy het 17 Julie in 2014 tot dié dag verklaar deur bloot die datum te kies wat in Apple se kalender-emoji verskyn (dié was ’n verwysing na die datum waarop Apple die iCal-kalendersagteware vir Mac in 2002 bekendgestel het). 

Die dag is al deur onder andere Kim Kardashian met die bekendstelling van Kimoji-reukwaters gevier, deur die Empire State-gebou wat in “emoji-geel” belig is, deur Pepsi wat spesiale prentjies op koeldrankblikkies en -bottels laat druk het, en in 2017 selfs deur die New Yorkse aandelebeurs toe Jeremy genooi is om op 17 Julie die sluitingsklok daar saam met stemakteurs van die animasiefliek The Emoj Movie te lui.

Hy en sy Emojipedia-span van twee of drie het op die pas afgelope Emojidag dan ook weer die wenners van hul jaarlikse World Emoji Awards bekend gemaak. Vanjaar se emoji wat die gees van 2021 die beste vasvang, die inspuiting-emoji (’n verwysing na inentings), “Heart on Fire” was die gewildste nuweling, en “Loudly Crying Face” het die leeftydprys gekry.

“Melting Face” het die prys gekry vir die nuwe emoji waarna die deelnemers aan Emojipedia se peiling die meeste uitsien onder die nuwe emoji’s wat waarskynlik teen September in Emoji 14.0 sal debuteer. 

Van die wenners van 2021 se World Emoji Awards.
Van die wenners van 2021 se World Emoji Awards.

Toe Emojipedia se verkeer laasjaar te midde van covid opskiet, het besoekers se soektogte veral op dinge soos ’n gesig met ’n masker en ’n mikrobe gefokus.

Jeremy-hulle moet ook daagliks ’n magdom vrae hanteer. Van die vrae wat die gereeldste opduik, is waarom die poef-emoji oë het, en waarom daar nie ’n rooikop-emoji is nie. Op sy aanbeveling het Unicode wel ’n rooikop-emoji aanvaar.

Jeremy Burge in ’n T-hemp met ’n emoji waaroor hy
Jeremy Burge in ’n T-hemp met ’n emoji waaroor hy al baie vrae ontvang het. Facebook/Jeremy Burge

Die kameelperd was geruime tyd een van die mees gesogte emoji’s. “Om die een of ander rede is mense mal oor die kameelperd.”

Twitter/Emojipedia
Twitter/Emojipedia

En Jeremy se eie gunstelinge?

Hy het baie van die palmboom-emoji gehou.

“Dit het net sonnig gevoel as ’n mens jou teksboodskappe daarmee besprinkel het. ‘Goeiemore’ is oukei, maar sit ’n paar palmbome daarby en alles voel baie tropies.”

Maar nadat Apple hul palmboom ietwat verander het, het dié emoji vir hom sy trefkrag verloor. Deesdae is die “Ta-da Hands” en reënboog van sy groot gunstelinge. G’n wonder nie, hy’t duidelik ’n pot goud aan die einde van die emoji-reënboog gevind.

BRONNE: EMOJIPEDIA.ORG, JEREMYBURGE.ME, WORLDEMOJIAWARDS.COM, HOME.UNICODE.ORG, SLATE.COM, NEWYORKER.COM, SMH.COM.AU, BBC, INSTAGRAM, FACEBOOK, TWITTER
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe