Dié woonbuurt is bekend vir sy spoggerige herehuise. Hier kan jy maklik meer as R100 miljoen blaas op ’n nessie van jou eie, berig Businesstech.co.za.

Dis nie die eerste keer dat Nettleton-weg as die duurste straat in die land aangewys is nie. Lighthouse Property het ook in 2016 dié einste Kaapse straat gelys as die duurste in Suid-Afrika. Toe was die gemiddelde prys vir eiendomme daar R47,55 miljoen.

Foto: Google Maps Nettletonstraat in Clifton, Kaapstad.

Lightstone Property se mees onlangse opname is in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap gedoen. Die syfers is ook gegrond op die vyf duurste strate se gemiddelde waarde in elke provinsie. 

Die voorloper vanjaar op die lys was toe weer Nettleton-weg, waar eiendom gemiddeld R27,3 miljoen werd is.

Die tweede en derde duurste straat is ook in die Wes-Kaap. Hillwood-weg in Bishopscourt (R25 miljoen) is tweede op die lys en Steenway-weg in Llandudno (R24 miljoen) beklee die derde plek.

Die vierde duurste straat in die land is Killarney-weg in Sandhurst, Sandton. Dit is ook die duurste straat in Gauteng.

Dié provinsie se topvyf duurste strate is almal in Sandhurst geleë. Dis ook die enigste provinsie waar al die duurste strate in een stad geleë is.

So lyk die syfers vir dié peperduur strate in Suid-Afrika.

  • Die duurste gemiddelde straatwaardes in Kaapstad in die Wes-Kaap.

1. Nettleton, Clifton (R27,3 miljoen)
2. Hillwood, Bishopscourt (R25,0 miljoen)
3. Steenway, Lladudno (R24,9 miljoen)
4. Torquay, Bishopscourt (R24,2 miljoen)
5. Glen Beach, Kampsbaai (R22,8 miljoen)

  • Die duurste gemiddelde straatwaardes in Sandton in Gauteng.

1. Killarney, Sandhurst (R24,6 miljoen)
2. Coronation, Sandhurst (R24,3 miljoen) 
3. Stewart, Sandhurst (R23,6 miljoen)
4. Trafalgar, Sandhurst (R23,1 miljoen)
5. Jutland, Sandhurst (R20,7 miljoen)

  • Die duurste gemiddelde straatwaardes vir Kwazulu-Natal.

1. Hunningdon Wood, Mount Edgecombe in Phoenix (R11,4 miljoen)
2. Palm, Zimbali in Ballito (R10,8 miljoen)
3. Eastbourne, Morningside in Durban (R10,7 miljoen)
4. Milkwood, Zimbali in Balito (10,6 miljoen)
5. Hickory, Hawaan Forest Estate in Durban (R9,6 miljoen)