Die skare in die stampvol stadion brul toe die speler in Groen-en-Goud met sy linkervoet teen ’n haas onmoontlike hoek aftrap om die laaste verdediger te pypkan voor hy met die bal oor die doellyn val.

Sy spanmaats storm nader om hom geluk te wens, en in hul hokkie op die paviljoen klop die afrigtingspan mekaar op die rug. Maar langs die kantlyn hou ’n fyn, aantreklike donkerkopvrou die driedrukker intens dop.

En toe hy nie dadelik opspring nie, weet sy: Dis weer daardie ou kuitspierbesering wat neuk. Werk wag vir haar kundige, sterk hande.

Of die Springbokke met hul terugkeer van die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan die gesogte Webb Ellis-trofee sal saambring huis toe, weet ons nog nie, maar een ding is seker: Die Bokke sal weer baie stampe en stote op die veld moet verduur.

En of dit nou een van die kragreuse of die vlugvoetige buksies is, beserings kan die spelers en die span onverwags kniehalter. Maar selfs beseerde Bokke is in goeie hande – letterlik.

Want saam met hulle op die vlug Japan toe was die Kaapse fisioterapeut Rene Naylor, en met 117 professionele rugbywedstryde agter die blad is sy een van die groep se mees ervare “spelers”. Ja, sy ken elke speler op die veld se achilleshiel wat fisieke welvaart betref.

En sy moes al voorheen woeker om dinge op koers te probeer hou tydens ’n Wêreldbekertoernooi. Rene het die belangrike taak gehad om die voormalige Bokkaptein Jean de Villiers se knaende kniebesering te bestuur sodat hy in die 2015-toernooi die span kon lei.

Ons moet mooi kyk om Rene tussen die Bokke raak te sien toe Huisgenoot kort voor die span se vertrek na Japan by die groep inloer op ’n mediadag by MultiChoice se kantoor in Johannesburg.

Toe die spelers uitstap, verdwerg hulle haar behoorlik. Sy pas dan maklik onder die Bokslot Eben Etzebeth se armholte.

“Dis my derde Wêreldbeker, en ek is baie opgewonde,” sê die vrou wat in haar 10 jaar as Bokterapeut vernuwing in die kondisionering van spelers en rehabilitasie van beserings gebring het.

Wat Rene se bydrae as een van drie spanterapeute nog merkwaardiger maak, is dat sy ook twee eie ondernemings in Kaapstad bedryf en die enkelma van ’n sesjarige seuntjie is – en dit terwyl sy tot ses maande per jaar saam met ons nasionale rugbyspan om die aardbol reis.

“Dit is net altyd moeilik om my seuntjie, Cullin, by die huis te los,” erken sy.

Lank was daar nie tyd vir ’n romantiese verhouding in haar lewe nie.

“Mans verstaan nie as ’n mens so baie van die huis af weg is nie. En hulle verstaan soms ook nie dat fisioterapie, veral rugbyfisioterapie, my passie is nie.”

Maar nadat sy in 2009 geskei is ná ’n huwelik van agt jaar en daarna lank enkellopend was, het sy onlangs weer liefde gevind.

“Dis nog fresh,” is al wat sy wil sê. “Ons het mekaar in Mei ontmoet.”

‘Hulle het dalk eers gedink: “Wat doen dié vrou?” Toe luister hulle’

Dis vir haar moontlik om haar drome na te jaag danksy haar goeie steunnetwerk wat na klein Cullin omsien wanneer sy saam met die Bokke reis.

Sy ag haarself baie gelukkig. “Al wat nog kort, is die Webb Ellis-trofee,” sê sy. “Kom, jy’s laat,” spot die Bokheelagter Willie le Roux in die verbystap. Daardie trofee moet gaan haal word . . .

Rene,springbokke
Hier is Rene saam met die losskakel ­Handré Pollard (middel) en die beseerde losvoorspeler Warren Whiteley tydens ’n toets vroeër vanjaar. Foto: Steve Haag/Gallo Images

Toe sy 10 jaar gelede by die Bokkamp aangesluit het om die spelers se lywe aan die gang te hou, het die ouer geslag fisioterapeute vir haar gelag, vertel Rene. Die geharde rugbymanne gaan nie haar byderwetse metodes koop nie, het hulle voorspel.

“Hulle sou sê jy gaan nooit vir Bakkies Botha kry om core-oefeninge te doen nie. Maar ek is baie ernstig oor my werk. Ek dink dit was dalk eers vir die ouens snaaks, want hulle het gedink: ‘Wat doen hierdie vrou?’ Maar hulle het geluister,” vertel Rene, wat ’n meestersgraad in fisioterapie aan die Universiteit van Kaapstad behaal het.

Al die ure saam met die hardebaarde het haar nie minder vroulik gemaak nie.

“Julle, ek het vellies aan. Moet ek nie ander skoene gaan aantrek nie?” vra sy en verdwyn gou. Twintig minute later kom sy terug in ’n swart rokkie pleks van die span se amptelike gholfhemp.

“Al my klere is gekreukel; dis die beste wat ek kon doen,” vertel sy.

Die tyd in Japan gaan vir haar uitdagender wees as ooit. As die span goed vaar en die eindstryd haal, sal sy 10 weke saam met hulle daar wees.

Voorheen was sy nooit langer as twee weke aaneenlopend weg van haar kind nie. Cullin sal by haar ouers, Mercia en Patrick Naylor, in Kaapstad woon.

Sy beplan daaglikse FaceTime-oproepe met hom.

“Ek dink ek mis hom meer as wat hy my mis. Hy sal sommer sê: ‘Ma, I’m busy now. Please phone back later.’ Ek was die een wat tranerig geraak het toe ek hom nou in Kaapstad moes groet.”

Klein Cullin is self ’n gesoute toerlid. Hy was net agt weke oud toe hy in 2013 sy ma – en die Springbokke – na Argentinië vergesel het.

“Dit was moeilik, maar ook so lekker om hom by my te hê,” sê sy.

Hy het sy eerste lewensjaar saam met haar en die Bokke getoer, en sy het hom geborsvoed. Toe hy twee jaar oud word, het sy besluit om die rugby vir eers te los.

“Dit was ’n moeilike stadium; ek het gesukkel om die rolle van ma en beroepsvrou te merge. Toe besluit ek om twee jaar lank ’n gewone ma te wees.”

Sy het huis gekoop en haar aandag verdeel tussen Cullin en die twee fisiopraktyke – een in Mitchells Plain en een in die Kaapse middestad. Maar ná twee jaar hiervan het sy “die Bokke te veel gemis” en weer lid van die groep geword. Cullin dink deesdae haar werk is cool.

“Hy weet wat ek doen en hoe dit werk.” Wanneer sy die Bokke vergesel, is sy tot saans negeuur vir die spelers beskikbaar. “Veral as ons ’n besering nurse.”

Rene en Beast
Rene spesialiseer in die voorkoming van beserings. Hier strek sy die stut Tendai (Beast) Mtawarira se been. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy en die twee ander fisio’s maak seker dat elke speler drie masserings per week kry. Daar is ook geskeduleerde fisioterapiesessies. Een van Rene se innoverings oor die jare was toetse om potensiële beserings voortydig te identifiseer.

“Ons evalueer elke speler om te bepaal watter beserings hulle moontlik sal opdoen. Dit beteken ons weet vooraf of iemand ’n hoë risiko het om ’n knie te beseer of ’n hammy te trek. Dan gee ons hulle oefeninge om dit te probeer voorkom,” verduidelik sy.

“Elke speler aanvaar verantwoordelikheid vir sy eie liggaam, rehabilitasie en voorkoming van beserings. Dis die goeie ding van so ’n jong span – hulle is almal body conscious. Drie jaar gelede moes ons nog polisieman speel met die ouens.”

In haar werk leer sy die spelers goed ken.

“Jy sien later wanneer hulle af voel of moeg is. En jy weet dié speler wil hê jy moet met sy linkerenkel begin tydens fisio’s en dié een by sy nek. Baie van hulle hou van daardie roetine, so jy hou daarby.”

Haar genesingstaak is nie net fisiek nie. Sy praat die spelers ook moed in wanneer hulle weens ’n besering sukkel om positief te bly.

“Jy leer maar wanneer om stil te bly en wanneer om te sê: ‘Wag nou, kyk hoe ver het ons al gekom; eers kon jy nie dit of dat doen nie . . . ’ ”

Ervaar sy ooit seksisme in die rugbywêreld? Sy huiwer ’n oomblik.

“Soms sal iemand seksistiese aanmerkings maak soos: ‘You are mothering them’. Maar ek doen net my werk. En binne die spanomgewing is dit baie professioneel. Veral die spelers. I know they’ve got my back.” En sy hulle s’n.

“Wanneer ek soms op die veld hardloop met water, sal ’n afrigter in my oor skree: ‘Sê vir hom as hy weer so swak tackle, haal ek hom van die veld af.’ Dan sê ’n mens maar liewer net: ‘Hou moed en hou aan.’ ”

En die Bokke se kans om in Japan te seëvier in haar derde Wêreldbeker-toernooi?

“Ek hoop dis third time lucky. Ek het ’n goeie gevoel. Dis die beste wat ’n span nog gejel het. Ek dink ons kan regtig die beker huis toe bring.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.