Op die verhoog is sy ’n sangeres wat met selfvertroue haar hart uitsing en op die kassie het sy al gewys sy’s ’n aktrise wat onder haar karakter se vel kan inklim.

Maar toe haar dogter onlangs in ’n perdrykompetisie van haar perd se rug afval, was Amor Vittone net ’n doodgewone enkelma; ’n bekommerde een.

Die skok sit nog in haar bruin oë en sy begin huil toe sy van die vorige dag se ongeluk vertel.

Haar en die oorlede Springbokrugbyspeler Joost van der Westhuizen se dogter, Kylie (12), was op haar perd, My Pony Z, se rug toe dié tydens ’n sprong oor ’n versperring struikel, bollemakiesie slaan en op die grond neerval.

Twintig spanningsvolle sekondes lank het Kylie roerloos bly lê. “Toe ek by haar kom, het sy gesê: ‘I want my mommy,’ ” vertel Amor van die oomblikke by ’n interskole-perdrykompetisie in Kyalami, Midrand.

“Ek het toe net gebid: Asseblief, liewe Here, gee dat my kind net hiervan opstaan.”

Ook vir Kylie se geliefde perd wat ’n oop wond aan een been gehad het, het sy gebid. Haar dogter het harsingskudding opgedoen, maar was verder ongedeerd.

Tog het die skok en kommer sy tol van Amor (46) geëis.

Ek het al ’n huis gebou met al die klippe wat na my gegooi is

Daarvan getuig die donker kringe onder haar oë. Dit was immers net een van die uitdagings wat sy die laaste tyd moes trotseer. “Ek gaan deur so baie,” sê sy met trane wat in haar oë opwel.

Ten spyte van ’n druk program het sy tot ’n onderhoud ingestem – sy het die oggend nog ’n sokkerwedstryd bygewoon – want sy benadruk sy wil hê mense moet weet wie die ware Amor is: ’n enkelma wie se lewe nie so glansryk is soos wat dit dalk soms lyk nie.

’n Ma wat verskeur word tussen die eise van haar loopbaan en haar kinders wat haar nodig het, soos die Saterdagaand ná Kylie se ongeluk toe Amor op die Thabazimbi-fees in Limpopo moes optree.

Sy het ’n radio-onderhoud vir daardie middag met ’n gemeenskapsradiostasie op Thabazimbi op die nippertjie gekanselleer om langer by Kylie te kon bly. Maar met haar optrede daardie aand moes sy deurdruk, want sy is reeds vooraf daarvoor betaal.

En deesdae moet sy hard werk om alleen die pot aan die kook te hou. Amor vertel sy het haar werketiek by haar ouers geleer. Haar pa, Dario Vittone (77), het vir haar gesê om haar verhooggesig op te sit en te gaan optree, sê Amor.

Hy en haar ma, Delyse (69), het die aand by Kylie en haar ouer broer, Jordan (14), gebly.

’n Selfie van Jordan, Kylie en hul ma. Foto: Instagram

“Toe moet ek die liedjie Voluit Lewe sing en eintlik wil ek net by my kind wees. Maar ek het daardie aand vir my kind opgetree. Een mens kan net soveel vat,” voeg sy afgemat by, want die afgelope paar jaar van haar lewe was nie aldag maklik nie.

Tog sê sy: “Ek het al ’n huis gebou met al die klippe wat na my gegooi is. Ek is sterk hier binne.”

Stap ’n mens Amor se stylvolle dubbelverdiepinghuis op ’n veiligheidslandgoed in Dainfern, Johannesburg, binne, is dit net sokkertokse, sportsakke en skoolboeke waar jy kyk.

Duidelik word twee sportiewe tieners in die huis groot. Met ’n pa soos die Boklegende Joost, wat in Februarie verlede jaar ná ’n lang stryd teen motorneuronsiekte gesterf het, kan dit nie anders nie.

Kylie is ’n knap ruiter en Jordan blink uit in sokker.

Hy speel vir die o.14-Gautengse distriksokkerspan. “Hy wil eendag doelwagter vir Liverpool speel,” sê Amor.

Jordan. Doing what he loves best!!!

A post shared by Amor Vittone (@amor.vittone) on

Al is sy trots op haar kinders se prestasies, bring dit mee dat sy tussen Jordan se sokkertoernooie, Kylie se perdrykompetisies en die verpligtings van haar eie loopbaan moet bontstaan.

This will make you smile @farnhamridingschool

A post shared by Amor Vittone (@amor.vittone) on

Sommige oggende wanneer sy tussen haar kinders se skole rondjaag om hulle betyds af te laai, is sy in ’n sweetpak of nog in haar nagklere. Dan steek sy haar gesig agter ’n sonbril weg.

Op sulke dae kla Jordan: “Mamma, dra asseblief grimering en hoë hakke wanneer jy my by die skool kom haal.”

Amor het onlangs haar goue lokke vir ’n sagte kaneelbruin verruil en haar seun hou daarvan.

“Ek wou na ’n natuurliker voorkoms en my Italiaanse herkoms terugkeer. Soos hulle sê: A change is as good as a holiday,” skerts sy.

’n Vakansie het sy broodnodig. Nie net dreig die eise van ’n werkende enkelma se lewe om haar onder te kry nie, maar sy het slapelose nagte oor uitgawes soos ’n nuwe kogleêre toestel vir Jordan.

Haar gehoorgestremde seun het as 10-jarige sy eerste kogleêre inplanting gekry. Die nuwe toestel met herlaaibare batterye kos meer as R100 000. Dit het ook ’n natuurliker klank en sal sy gehoor verskerp.

Sy wag nog om te hoor wat haar bybetaling vir die toestel sal wees. Joost se boedel is steeds nie afgehandel nie omdat ’n regstryd oor die geldigheid van sy testament woed.

In ’n hofsaak wat binnekort in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word, doen sy ouer broer, Pieter, en Ferdi Hartzenberg, Joost se eertydse prokureur, aansoek dat Joost se testament van 2015 geldig verklaar word, al kon hy dit weens die siekte nie self onderteken nie.

Daarin bemaak hy alles aan sy kinders. Maar Amor voer aan Joost se testament van 2009 met haar as die enigste erfgenaam is die geldige testament.

Albei kante voer aan hulle tree in die beste belang van die kinders op. In Julie het die hooggeregshof in Bloemfontein in haar guns beslis toe haar aansoek slaag om Joost se broers, Pieter en Gustav, en ook ’n hegte vriend van hom, Gavin Varejes van SA Rugby Legends, as trustees van sy J9-trust te onthef en ’n onafhanklike prokureur in hul plek aan te stel.

Maandeliks word geld uit die trust aan Kylie en Jordan betaal. Maar toe verneem Amor die drie trustees gaan teen dié beslissing appelleer.

Sy het dieselfde dag ’n angsaanval gehad.

Sy het die kinders by die skool gaan haal toe sy skielik sleg voel. Toe sy by die huis kom, het sy naar geword. Dis nie net haar liggaam wat swaarkry nie, vertel sy.

Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek raak depressief,” erken sy. “Ek is so uitgemergel; elke dag wag ek vir nog ’n bom om te ontplof.”

In die moeilike tye staan ’n klein kring haar by.

“My ouers is ongelooflik en altyd daar vir ons. My prokureur is ook altyd net ’n foonoproep ver.”

Hy is Sean Hefferman van Hefferman Prokureurs. Met al die gebeure van die afgelope 18 maande het sy nog nie eens tyd gehad om oor Joost te rou nie, sê Amor.

Sy het wel vir hom ’n liedjie, Ek Mis Jou, geskryf en dit vir haar nuwe album, Ek Bly Net ’n Ma, opgeneem. Amor het die meeste van die snitte op die album self geskryf; dit weerspieël haar lewensverhaal.

Sy het self die album laat opneem en versprei dit ook self. Vir haar loopbaan het sy steeds groot drome, soos om ’n eie dansskool te open. Sy is later vanjaar in Dans in Jou Taal, ’n nuwe danskompetisie vir dansskole, op kykNET te sien.

Daarna sal sy haar Ek Is Net ’n Ma-toer landwyd begin. En dalk sal sy vorentoe weer ’n draai in 7de Laan maak as Zelda, die suster van Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter).

Koester sy dalk heimlik ’n liefdesdroom? Sy skud haar kop. In dié stadium stel sy nie in ’n verhouding belang nie.

Dan bieg sy: “Tog verlang ’n mens na iemand wat na jou kan luister. Daardie mens wat ná ’n lang dag net vir jou ’n koppie tee kan maak.”