Ruaché het net meer as ’n blikkie koeldrank met haar geboorte op 26 weke geweeg. Sy is destyds vroeg gebore, maar volgens haar ma, Mari, was sy so groot soos ’n 19 weke oue baba omdat daar ’n bloedklont in haar naelstring was tydens swangerskap en Ruaché ophou groei het. 

Sy het baie gesondheidsuitdagings gehad sedert haar geboorte.

Haar derms het geperforeer en moes tydens ’n operasie weer geheg word. Haar derms is toe buite haar lyfie in ’n sakkie gesit.

Ruaché het toe begin bottel drink en kon van die suurstof af kom, maar sy het verlede week by die dood omgedraai. 

Foto: Verskaf
Mari sê hulle is positief oor haar en Ruaché se gesondheid.
Foto: Verskaf
Mari en Johan Botha kuier elke dag by klein Ruaché. Hulle kon haar onlangs vir die eerste keer vashou.

“Sy het vir ’n operasie gegaan om ’n verstopping in haar derms te verwyder en haar derms weer binne haar lyfie te sit. Als het só goed gelyk, maar ’n dag of so later toe begin sy asemnood kry,” het Mari aan Huisgenoot gesê. 

Haar ouers, Mari en Johan, was bitter bekommerd en het mense om gebede gesmeek, want Ruaché se linkerlong het plat geval. 

Foto: Verskaf
Mari en Johan Botha kuier elke dag by klein Ruaché. Hulle kon haar onlangs vir die eerste keer vashou.
Foto: Verskaf
Haar ouers kon haar darem al vashou ná geboorte.

“Sy is steeds op ’n asemhalingsmasjien. Shame, sy het ook hierdie groot sny oor haar magie ná die operasies. Sy kon darem weer die afgelope paar dae voeding begin kry. Voor dit was dit net binneaarse voeding. Sy kry elke twee ure 15ml melk deur ’n pypie, maar ons hoop sodra sy weer self kan asemhaal, dat sy sommer vinnig weer bottel drink,” sê Mari. 

Foto: Verskaf
Die mees onlangse foto's van Ruaché. Sy is nou weer aan 'n asemhalingsmasjien gekoppel.
Foto: Verskaf
Die mees onlangse foto's van Ruaché. Sy is nou weer aan 'n asemhalingsmasjien gekoppel.

“God het ons tot hier gebring. Hy sal ons nie nou drop nie.”

Mari het self ook by die dood omgedraai net ná Ruaché se geboorte. Sy moet ’n nieroorplanting ontvang ná haar niere te erg beskadig is tydens haar swangerskap. Sy kry tans drie keer ’n week dialise wat tot vyf ure op ’n slag duur. Sy en Johan ry steeds elke dag deur van Kempton Park af om vir Ruaché te kuier. 

Net voor Ruaché se terugslag, het sy net minder as 2 kg geweeg.

“Ons kan haar nie nou weeg nie weens al die pype en drade, maar ek hoop sy tel nou weer gewig op vandat sy weer melkies kry. Ons hoop maar steeds ons kry ’n klein geskenkie vir Kersfees – dat sy saam met ons by die huis kan vier, maar die dokter het ons reeds gereed gemaak dat sy steeds suurstof gaan benodig. Haar longe gaan lank vat om te herstel.”