“Dit gaan baie beter met haar. Haar reaksies is goed en sy maak haar oë oop en kyk rond. Sy is ’n klein vegtertjie,” sê Athol, Isabella se oupa. 

Isabella se ma het Maandagoggend vir haar die fyngemaalde neute gegee om te eet.

Die baba het skynbaar geval en aan die neute gestik. 

Haar ouers, Monica en Joshua, het met haar hospitaal toe gejaag nadat hulle mond-tot-mond-asemhaling op haar toegepas het.

Sy is by die hospitaal aan ’n ventilator gekoppel. 

Isabella moes dringend by ’n pediatriese eenheid uitkom, maar die gesin het nie ’n mediese fonds nie en ’n lugambulans sou nagenoeg R80 000 kos om haar na ’n hospitaal met die regte geriewe te stuur. 

Klein Isabella is in 'n kritieke toestand nadat sy
Isabella is in 'n hospitaal in Johannesburg nadat sy aan neute verstik het. Foto: Facebook

“Ons was ongelooflik gefrustreerd en emosioneel. Ons wou net die regte hulp vir haar kry.” 

Binne ’n paar ure het vriende, familie en barmhartige Samaritane saamgekom en geld vir Isabella ingesamel. 

Teen gisteraand het die familie reeds R100 000 ingesamel en kon hulle Isabella gisteraand na die Garden City-hospitaal oorplaas. 

“Dokters het haar gisteraand geopereer en die oorblywende neute uit haar longe verwyder. Sy is tans in ’n stabiele toestand en ontvang antibiotika.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir almal se bydraes en glo dat Isabella sal herstel.”