“Ons is baie hoopvol. Ek het weer my seuntjie terug,” sê Danelle, Daniel se ma. 

Op 5 September was Danelle besig om ontbyt vir Daniel en sy boetie, Aden (4), te maak toe Paul iewers heen wou ry. 

Daniel het skielik buite sig verdwyn en Paul het Daniel raakgery toe hy die kar uitgetrek het. 

Die ouerpaar is met Daniel na die Ermelo Mediclinic, en hy is later oorgeplaas na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria waar hy aan ’n ventilator gekoppel is. 

Hy het vog op die longe gehad en sy sleutelbeen en heup gebreek. 

Sy ouers is hoopvol dat Daniel binnekort weer sy ou self sal wees. Foto: Verskaf
Sy ouers is hoopvol dat Daniel binnekort weer sy ou self sal wees. Foto: Verskaf

Volgens Danelle wil dokters vandag (Dinsdag) hom van die ventilator afhaal. 

“Sy longe het baie verbeter, en hy huil elke keer wanneer ek vir hom gaan kuier.” 

Daniel het Sondag sy tweede verjaardag in die hospitaal gevier. 

“Ons almal was daar en het vir hom gesing. Sy boetie het ook die kans gekry om hom te sien.” 

Danelle sê hulle is nog nie seker wanneer Daniel ontslaan gaan word nie. 

“Noudat sy longe sterker is en hy moontlik van die ventilator afgehaal gaan word, wil dokters hom weer ondersoek en bepaal of hulle vir die breuke moet opereer.” 

Danelle en Paul is positief, en hulle sê sonder almal se ondersteuning sou hulle nie deur hierdie moeilike tyd gekom het nie. 

“Almal se gebede het ons deur dit gedra. Ons waardeer almal se ondersteuning. Ons glo ons seuntjie sal weer sy ou self wees.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe