Shaun Cloete wat op 30 Januarie om 15:00 (omstreeks 10:00 Suid-Afrikaanse tyd) in Thailand in ’n grumotorfietsongeluk betrokke was, het ’n ernstige infeksie opgedoen tydens ’n onlangse operasie en het ’n hartaanval gekry.

Shaun Cloete (29) Foto: Facebook

Volgens sy oom, Richard Tasker, het hy ook ernstige longontsteking opgedoen. 

“Ons is nie seker of hy dit gaan maak nie,” sê ’n emosionele Richard. “Ons is almal verpletterd. Ons het gister nog gedink hy raak beter, toe kry ons dié nuus vanoggend. Alle aanduidings wys dat ons hom moontlik gaan verloor, maar ons hou vas aan ons geloof in God.”

Shaun word tans in die Srinagarind-hospitaal in die Khon Kaen-provinsie behandel.

Hy het sy skedel gekraak, het bloeding op die brein en sy nekwerwels is gekraak. Sy neus is gebreek, asook sy gewrig en sy ribbes. 

Mediese personeel in Thailand behandel Shaun na di
Mediese personeel in Thailand behandel Shaun ná die motorfietsongeluk. Foto: Verskaf

Shaun was die afgelope twee jaar ’n onderwyser in Thailand. Weens die taalversperring tussen die twee lande en die gebrek aan ’n behoorlike vertaler, is dit moeilik vir Shaun se geliefdes om te bepaal wat presies gebeur het. 

Sover hulle kon vasstel, was geen ander voertuig by die ongeluk betrokke nie. 

Richard sê Shaun se ma, Erika, is “stukkend”.

“Toe ek met haar praat, kon ek skaars ’n gesprek met haar hê, so baie het sy gehuil. Ek het probeer om sterk te wees vir haar part, maar het later self geknak.”

Shaun Cloete gee klas in Thailand. Foto: Facebook

Weens die covid-19-pandemie en die streng reisregulasies in Thailand, sal Erika en geen ander familielid na die land kan reis om na Shaun te gaan nie. 

“Erika wil haar seun so graag sien, maar wanneer sy in die land kom, sal sy eers vir twee weke in kwarantyn moet deurbring. Wanneer sy daarna tussen die provinsies moet reis, sal sy nog twee weke in kwarantyn moet wees. 

“Dit is 28 dae in ’n hotel en die onkoste daaraan verbonde is nie die moeite werd nie. Ons moet eerder daardie geld vir Shaun se hospitaalrekeninge gebruik.”

Shaun is sedert die ongeluk bewusteloos in die Srinakarintra-hospitaal.

Shaun se mediese onkoste word by die dag hoër, wat die familie onder nog druk plaas. 

Die familie het reeds ’n rekening van oor die R85 000 gekry. Richard kon daarin slaag om R10 000 in te samel deur die Facebook-blad Shaun Cloete Accident Fund, maar hul teiken van R150 000 is nog baie ver.

“Ons hande is heeltemal afgekap om Shaun te help. Ons voel so moedeloos, ons kan hom nie sien nie en ons kan onmoontlik vir alles betaal.

“Alles in nou in God se hande."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe