Dit laat ons om die beurt lag en huil – dié dieper duisternis van beurtkrag wat nou deel van ons lewe is.

Eskom kan ons nog jare laat “eisj” voor sy kragvoorsieningsprobleme opgelos is, waarsku kenners. 

Met die winter wat kom, is die vooruitsig van tot vier uur per dag sonder krag beslis g’n grap nie. Daarby het die onlangse sikloon in Mosambiek kragtoevoer na Suid-Afrika vanaf die Cahora Bassa-hidrokragaanleg aanvanklik erg belemmer.

“Die skade aan die transmissielyn kan maande verg om te herstel,” bevestig ’n Eskomwoordvoerder aan Huisgenoot.

Dit kom nadat sewe Eskom-opwekkingseenhede ook in Februarie beskadig is. Hy voeg by dat beurtkrag onvoorspelbaar kan wees weens byvoorbeeld kragstasies wat tydelik onklaar raak (weens byvoorbeeld brande of ander tegniese probleme, of nat steenkool), maar dat Eskom beurtkrag probeer bestuur “sodat die impak op die land so lig moontlik is”.

Maar hoe werk “geskeduleerde” beurtkrag? Wat beteken fases 1, 2, 3 en 4? Hoe raak beurtkrag jou selfoondiens? En hoe het ander lande hul kragprobleme oorkom?  

DIE PAD VORENTOE: RAAK GEWOOND AAN DIE ONGERIEF

Beurtkrag kan die volgende vyf jaar die “nuwe normaal” wees, sê die energiekenner Ted Blom van Mining and Energy Advisors. En al het Eskom in nuwe lang- termynsteenkoolooreenkomste belê, moet Suid-Afrikaners gereed wees vir beurtkrag enige tyd van die jaar.

“Dit kan in die winter of somer gebeur indien die warmwatertenks by die kragstasies nie voldoende werk nie,” sê Ted.

“Tot daar bykomende steenkool- of kragopwekvermoë vir die netwerk is, kan ons feitlik daagliks ’n mate van beurtkrag verwag, veral in spitstye soos sewe- tot negeuur in die oggend en weer van vier- tot negeuur saans.”

As die situasie verder verswak – soos weens swak instandhouding van infrastruktuur of onvoorsiene tegniese probleme – kan daar ook beurtkrag buite die gewone spitstye wees.

HOE SEER KRY ONS EKONOMIE?

Francois Stofberg, ’n ekonoom van Efficient Group, sê dis onbekend hoeveel geld verlore gaan tydens beurtkrag, maar ekonomiese groei vertraag beslis. Francois sê sakeondernemings en groot maatskappye het in 2008 begin voorsiening maak vir beurtkrag omdat hulle besef het kragvoorsiening in Suid-Afrika is gebrekkig.

“Daar is min maatskappye wat nie kragopwekkers het nie, maar ek dink kleinhandelaars wat nie kragopwekking kan bekostig nie, kry seer.”

Buitelandse beleggers word afgeskrik weens beurtkrag en die implikasies daarvan. Thea Fourie, senior ekonoom by IHS Markit, vertel mynmaatskappye, wat sowat 30% van die land se krag verbruik, het swaar gekry tydens onlangse beurtkrag.

“Dit het ’n groot impak op hul produksie en het selfs veiligheidsrisko’s tot gevolg gehad,” sê Thea.

Beurtkrag het ’n groot impak op mense in die kleinhandel.

“Mense is nie geneig om inkopies te gaan doen as die krag af is nie,” sê Thea.

Sy meen wel Suid-Afrikaners was die afgelope ruk beter voorbereid op die beurtkrag omdat baie winkels en restaurante al voorsiening gemaak het vir die tye dat die krag afgaan.

WAT DOEN BEURTKRAG AAN JOU SELFOONDIENS?

Tydens beurtkrag bly ’n selfoontoring werk solank sy noodbattery of afsonderlike brandstof-aangedrewe kragopwekker loop. Raak dit ook uitgeput, kan selfoongebruikers in die gebied wat deur daardie toring gedek word, se sein tydelik onderbreek word.

’n Toring se brandstofkragopwekker kan bloot hervul word nes joune tuis, maar batterye (wat vier tot agt uur hou) het tyd nodig om te herlaai sodra die Eskomkragtoevoer herstel word.

As jou naaste selfoontoring met die sterkste sein (jou “primêre sel”) gedurende beurtkrag ophou werk, kan jy outomaties verbind word aan die toring met die naasbeste sein.

Die sein sal egter swakker wees omdat jy verder van dié tweede toring af is. As sowel die primêre as sekondêre selle (torings) sonder krag is, ontvang die betrokke kliënte geen sein nie.

Gereelde beurtkrag vergroot dus die druk op netwerkoperateurs.

As dit ’n paar dae aaneen voorkom, het toringbatterye ook nie genoeg tyd om te herlaai nie. Dus word meer dekkingsgebiede gelyktydig geraak.

Benewens beurtkrag se onmiddellike impak op operateurs se bedryfskoste verkort gereelde kragonderbrekings mettertyd die leeftyd van selfoontorings se herlaaibare batterye.

Beurtkrag 101

Beurtkrag word tydelik toegepas tydens noodtoestande – soos wanneer kragstasies onklaar raak en Eskom nie genoeg krag kan opwek nie.

Ingenieurs en tegnici monitor kragstasies en die nasionale kraglewerings-netwerk op ’n groot skerm in Eskom se Germistonse beheersentrum.

Wanneer te min krag opgewek word om die nasionale netwerk te voorsien, is beurtkrag die “laaste uitweg”. Ingenieurs besluit watter dele van die leweringsnetwerk om af te skakel om te keer dat die hele netwerk ineenstort.

Eskom onderbreek gewoonlik kraglewering vir twee uur, maar in dele van Johannesburg kan dit vier uur duur weens die Johannesburgse Metroraad se eie beurtkragskedule (omdat sekere substasies in Johannesburg met die hand afgeskakel moet word).

Nog 30 minute word bygetel vir die “oorgang” – wanneer een deel van die netwerk af- en ’n volgende aangeskakel word. Dit word geleidelik gedoen om skade aan netwerk-infrastruktuur te verhoed.

Dus: As jou plaaslike beurtkragsessie volgens die skedule om 08:00 begin, moet Eskom al die toevoer in jou kragsone teen 08:30 afgeskakel hê. En as jou sessie teen 10:00 eindig, moet Eskom jou toevoer teen 10:30 weer aangeskakel hê.

Fase 1 Die doelwit van fase 1-beurtkrag is om 1 000 MW krag nasionaal te bespaar. Dis genoeg om ’n halfmiljoen huishoudelike waterketels ’n uur lank gelyk te laat kook.

Fase 1-beurtkrag beteken jou krag gaan drie keer binne vier dae onderbreek word; twee uur op ’n slag. Maar as jy onderhewig is aan die Johannesburgse Metroraad se City Power-rooster, gaan jou krag drie keer binne agt dae onderbreek word, elke keer vir vier uur.

Fase 2

Tydens fase 2-beurtkrag is die besparingsteiken 2 000 MW en word die tydperk van jou kragonderbreking verdubbel.

Dus sal jou toevoer ses keer binne vier dae vir twee uur afgesit word. Maar die toevoer van Johannesburg-inwoners op die City Power-rooster word ses keer binne agt dae onderbreek; vier uur op ’n slag.

Fase 3

Die besparingsdoelwit verhoog tot 3 000 MW.

Jou krag word nege keer binne vier dae vir twee uur afgesny. Vir Johannesburgers is dit nege keer binne agt dae; vier uur op ’n slag.

Fase 4

Die spaardoelwit: 4 000 MW.

Nou word jou krag 12 keer oor vier dae vir twee uur onderbreek. Vir Johannesburgers is dit vier uur 12 keer oor agt dae.

Wat het ander lande gedoen?

Die Filippyne:

Die staatsbeheerde elektrisiteitsvoorsiener was in die 2000’s min of meer in dieselfde bootjie as Eskom – ook weens baie skuld. Ingrypende optrede het oplaas die monopolistiese elektristeitsbedryf daar hervorm en ’n mededingende kragopwekkingsmark is geskep.

Privaat maatskappye is betrek by die bedryf van die transmissienetwerk, asook die verspreiding en verkoop van elektrisiteit aan verbruikers. Opwekkingsbates soos kragstasies is aanvanklik opgeveil aan privaat maatskappye en die inkomste is gebruik vir skuldafbetaling.

Daar is ook besluit die vestiging van ’n betaalkultuur onder alle kragverbruikers – van nywerhede en staatsinstellings tot alle huishoudelike verbruikers – is noodsaaklik. ’n Korporasie is byvoorbeeld geskep wat binne twee weke nadat rekeninge uitgestuur is betalings sou invorder en seker maak verskaffers word betaal.

Brasilië: 

Die land is grootliks afhanklik van hidrokrag, en groot droogte aan die begin van die vorige dekade het dus tot ’n reuse- kragopwekkingskrisis gelei.

Om aanvraag te bestuur, het die regering eers, pleks van beurtkrag, sogenaamde kragkwotas verkies. ’n Sekere hoeveelheid krag is aan verbruikers toegeken gegrond op hul historiese gebruikspatrone.

Diegene wat heelwat minder as hul kwota gebruik het, is beloon. Dié wat dit oorskry het, is gepenaliseer.

So is algehele verbruik met 20% verminder. Amper 30% van die land se opwekkingsbates is nou in privaat besit en heelwat nuwe krag word deur wind of biomassa (plante) opgewek.

Die land ervaar steeds kragonderbrekings, maar waarnemers meen hulle is op die regte pad.

Kenia:

Hier het die eerste privaat kragopwekkingsondernemings al teen die jaar 2000 elektrisiteit aan die Keniaanse mark begin voorsien. In 2006 het die regering ’n derde van die staatsbeheerde Kenya Electricity Company verkoop. 

EKSTRA BRONNE: LOADSHEDDING.ESKOM.CO.ZA, WWW.TIMESLIVE.CO.ZA, NETWERK24.COM, VODACOM, WEFORUM.ORG, WORLDBANK.ORG, THECONVERSATION.COM, BUSINESSLIVE.CO.ZA