Die jongste beurtkragtreurmares het Suid-­Afrikaners opnuut laat besef: Daar’s nog g’n lig aan die einde van die Eskomtonnel nie. 

Ons minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het die land op televisie verskoning gevra – en toe voorspel die kragkrisis sal eers “binne ’n jaar of twee” beredder word. 

Hy het gepaai net fase 1-beurtkrag sal indien nodig tot aan die einde van die winter toegepas word, wat beteken jou krag kan drie keer binne twee dae onderbreek word; twee uur op ’n slag.

Maar in Johannesburg is dit drie keer binne agt dae; vier uur op ’n slag. 

Gordhan het egter ook gemaan die ­publiek sal hul energieverbruik moet ­verminder.

krag,eskom,elektrisiteit
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar hoekom moet ons steeds die kerse en flitsligte byderhand hou nadat ons reeds in 2008 met beurtkrag begin stoei het, en is daar oplossings wat die sukkelende kragvoorsiener kan help?

Wind- en sonkrag – omgewings­vriendeliker as die verbranding van steenkool, en ook hernubaar – kom telkens ter sprake wanneer daar oor alternatiewe oplossings gepraat word.

Ons energie­minister, Jeff Radebe, het verlede jaar aangekondig hy het kontrakte ter waarde van R56 miljard onderteken met 27 onafhanklike kragverskaffers (OKV’s).

Saam sal dié verskaffers 2 300 MW “groen krag” aan Eskom kan lewer – en boonop glo tot 58 000 werkgeleent­hede skep.

Maar niks gebeur vinnig nie – en dis waarom die Stad Kaapstad Radebe se departement nou hof toe sleep.

Huisgenoot het kenners gevra om lig op die saak te werp. 

Waar staan ons met onafhanklike kragvoorsiening?

Onafhanklike kragvervaardigers (OKV’s) is privaat ondernemers wat krag kan vervaardig om aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk te voorsien, sê Dave Long, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kragvervaardigers.

Dit sluit in ondernemings wat krag opwek deur wind- en sonenergie.

Tans verskaf OKV’s sowat 5% van Suid-Afrika se elektrisiteitsaanvraag met behulp van wind- en sonplase, sê prof. Sampson Mamphweli, direkteur van die sentrum vir hernubare en volhoubare energiestudies. 

Solar panels on the water
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ingevolge die regering se geïntegreerdehulpbronneplan van 2010 is dié 5% veronderstel om teen die jaar 2030 tot 40% te styg om gelyk te loop met die uitfasering van verskeie verouderende steenkoolkragstasies. 

Verreweg die meeste van Eskom se krag word tans nog deur steenkoolverbranding opgewek. Maar dit veroorsaak lugbesoedeling (“vuil krag”), en steenkool is ’n beperkte en niehernu­bare hulpbron. 

Volgens Sampson word die uitfaseringsproses egter vertraag omdat die regering voete sleep met die goedkeuring van ’n gewysigde nasionale hulpbronneplan. 

Hoekom sloer dit so? 

Tientalle privaat son- en windplase het tussen 2011 en 2015 in bedryf gekom en lewer sowat 5% van die land se krag aan Eskom.

Maar sedertdien is geen nuwe “kragplase” ontwikkel nie omdat Eskom se voormalige uitvoerende hoof Brian Molefe in 2015 versuim het om nuwe koopooreenkomste met OKV’s te onderteken. 

Hartmut Winkler, fisikaprofessor aan die Universiteit van Johannesburg, beweer: “Ek glo (Molefe) se weiering is gedryf deur ’n begeerte om die florerende hernubare energiebedryf te smoor en sodoende die weg vir die kernooreenkoms met Rusland te baan.” 

Molefe is destyds daarin gesteun deur oudpres. Jacob Zuma, wat eweneens ’n Russies-geboude kernkragkompleks in Suid-Afrika voorgestaan het. 

Dit sou Suid-Afrikaanse belastingbetalers R1 biljoen gekos het, en die plan is sedertdien in sy spore gestuit.

Sampson sê die vertragings met koopooreenkomste met OKV’s het on­sekerheid veroorsaak en nuwe beleggings in die privaat energiebedryf ontmoedig. 

“Maar party van die opwekkings­fabrieke wat gesluit het, kan weer geopen word en werk aan plaaslike gemeenskappe bied,” sê Sampson.

Is hernubare energie die antwoord?

krag,eskom,krisis
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Op die lange duur, ja,” sê Hartmut. Maar dit sal OKV’s 20 jaar neem om soveel hernubare energie te lewer as wat Eskom se steenkoolkragstasies tans bied. 

Tog skep dit hoop.

“Hernubare-­energieaanlegte is vinniger om te bou as steenkool- en kernkragstasies. Gemiddeld kyk jy na vyf jaar vir ’n 2 MW-steenkoolkragstasie en twee jaar vir dieselfde vermoë in hernubare-energie-tegno­logie,” sê hy. “Kernkragstasies kan tot 10 jaar neem om te voltooi.”

Anders as steenkoolreserwes raak hernubare energiebronne soos die son en wind nie uitgeput nie en veroorsaak die opwekking daarvan nie besoedeling nie. Dit is dus “skoon” of “groen” krag. 

Die probleem is egter dat OKV’s nie vrylik by die nasionale elektrisiteits­netwerk kan “inprop” nie.

Eskom het ’n nasionale monopolie rakende die opwekking en verspreiding van krag, en dit beteken OKV’s kan net ’n bydrae tot die kragaanbod lewer indien Eskom, met wie dit reeds broekskeur gaan, ’n koop­ooreenkoms met hulle sluit. 

Dave vertel al klink dit dalk verstandig vir Eskom om in krisistye by OKV’s krag te koop, is dit nie hoe Eskom werk nie.

“OKV’s is direkte mededinging vir Eskom; hoekom sou Eskom hulle ondersteun? En as jy (as OKV) nie die krag kan verkoop nie, kan jy vanselfsprekend nie in die toerusting belê om dit te vervaardig nie.”

Hartmut stem saam en glo Suid-Afrika sal minstens nog ’n dekade van Eskom se onbetroubare, omgewingsonvriendelike steenkoolkrag afhanklik wees. 

Waar trek ons nou?

Tans is 62 werkende OKV-kragaanlegte met ’n vermoë van 2 500 MW by die nasionale netwerk ingeprop, sê Sampson.

Verlede jaar is daar oplaas nuwe koop­ooreenkomste tussen die regering en OKV’s gesluit vir ’n bykomende 2 300 MW. Maar dit sal nie voor 2021 beskikbaar wees nie. 

Boonop gebruik die deursnee- Suid-Afrikaanse huishouding sowat 1,1 MW elektrisiteit per maand – die ekstra 2 300 MW sal dus nog veels te min wees om ’n noemenswaardige bydrae te lewer.

“Dit sal net ’n klein verskil maak,” sê Hartmut. “Dit sal ons nie die huidige krisis help beredder nie.” 

Hy lig ook uit dat die produktiwiteit van son- en wind­aanlegte deur die weer en dag-en-nag-siklusse bepaal word. Sulke aanlegte lewer die helfte minder energie as ’n vergelykbare, goed werkende steenkoolkragstasie. 

Hof toe om die houvas te breek

Die Stad Kaapstad het die hooggeregshof in Pretoria versoek om ’n dringende aansoek aan te hoor – dat Kaapstad en ander munisipale owerhede toegelaat word om hul krag direk van OKV’s te koop.

Tans laat wetgewing dit nie toe nie. So verduidelik Phindile Maxiti, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir energie en klimaatsverandering. 

“Ons doen als moontlik om weg te beweeg van Eskom as enigste kragvoorsiener en wil gebruik maak van skoner en hernubare energie, asook oorgangs­bronne soos natuurlike gas,” vertel sy. 

“Hernubare-­energieaanlegte is vinniger om te bou as steenkool- en kernkragstasies. Kernkragstasies kan tot 10 jaar neem om te voltooi.”

Vir die stad om krag direk van OKV’s te koop, verg ’n wysiging van die regu­lasies oor nuwe opwekkingsvermoë ­in­gevolge die Wet op Elektrisiteits-opwekking.

Kaapstad se aanvanklike doelwit is om tot 400 MW hernubare energie van OKV’s te koop. Phindile sê Kaapstad en die land kan nie langer ekonomiese skade weens Eskom bekostig nie.

“Dis noodsaaklik om ons energiebronne te diversifiseer.”

Volgens haar sal hernubare energie op lang termyn elektrisiteitskoste vir verbruikers verlaag. 

“Die prys van krag wat deur OKV’s voorsien is, sal verskil op grond van die tegnologie en verkrygingsproses betrokke,” sê sy. “Tans gaan sowat 65% van die tarief wat die Stad Kaapstad se kliënte betaal na Eskom.”

Volgens haar sal Kaapstad “aanhou veg om Eskom se monopolie te verbreek”.

Intussen sorg mense van oor die hele land dat daar maar altyd ’n paar kerse in die kas is. 

Ekstra bronne: weforum.org, worldbank.org, theconversation.com, businesslive.co.za

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!