Vyf senutergende minute lank het die dood hulle in die oë gestaar terwyl die vliegtuig met 157 mense aan boord onbeheerbaar op en af in die lug gewip en die vlieënier gespook het om ’n ramp af te weer. 

Maar vergeefs . . . die Boeing 737 MAX 8 van Ethiopian Airlines het neergestort nes dieselfde model vliegtuig verlede Oktober in die see naby Indonesië. 

Nou staan 'n vloot vliegtuie gestrand uit vrees dat nog ’n tragedie kan afspeel.

Skreiende ooreenkomste

vliegramp,boeing 737
Die jongste vliegramp en die Lion Air-vliegtuig wat naby Indonesië neergestort het, toon kommerwekkende ooreenkomste. Foto: Gallo Images/ Getty Images
  • Albei Boeing 737 MAX 8-vliegtuie was nuut – Lion Air s’n is net ’n paar maande lank gebruik en die vliegtuig van Ethiopian Air­lines is in November verlede jaar afgelewer.
  • Albei vlieëniers het kort ná die opstyging probleme aangemeld. 
  • Albei vliegtuie het voortdurend van hoogte verwissel toe hulle ná opstyging klim.
  • Die vlieëniers het skynbaar met die outomatiese vlugbeheerstelsels gesukkel wat moet keer dat die vliegtuig 'n staakpunt bereik en val. Vermoedelik het dié teenstakingstelsel die vliegtuie se neuse ondertoe gerem, hoewel die enjins nie gestaak het nie.

Die vlugopnemer

Vlug ET302 se vlugopnemer is enkele dae ná die ongeluk opgespoor en Frankryk toe gestuur vir ontleding. 

Lugvaartkenners waarsku dit kan jare neem voor die oorsaak van die ongeluk bepaal word, maar voorlopige bevindings dui op sterk ooreenkomste tussen die twee rampe.

Vloot se vlerke geknip

Boeing het ná druk van lugvaartreguleerders al sy 737 MAX-vliegtuie onttrek.

Rusland, China, Japan en Tunisië was van die eerste lande wat ’n verbod daarop ingestel het, en Suid-­Afrika se Comair, wat een van dié vliegtuie besit, het kort daarna gevolg. 

Ook Amerika het aangekondig al 70 sy 737 MAX 8’s word uit diens gehaal tot minstens Mei. 

Die twee MAX 8-vliegongelukke bewys ’n nuwe vliegtuig waarborg nie jou veiligheid nie. 

Dis die eerste keer sedert twee rampe met McDonnell Douglas DC-10-vliegtuie in die 1970’s dat ’n nuwe vliegtuigmodel so kort ná mekaar by twee rampe betrokke is.

Te min, te laat

vliegtuig,ramp
Die Boeing 737 MAX-vliegtuig. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ná die Lion Air-vliegongeluk het Boeing aangekondig hulle werk aan verbeterde sagteware vir die 737 MAX 8 om “ ’n veilige vliegtuig nog veiliger te maak”. 

Dit sal teen April gereed wees – ’n maand ná die Ethiopian Airlines-vliegramp.

Gevaarligte flikker

vliegtuig,ramp
Kapt. Yared Getachew, die vlieënier van vlug ET302. Foto: Twitter

Voor die Lion Air-vliegongeluk het vlieëniers al gekla dat die neus van die 737 MAX 8 tydens opstyging soms skielik ondertoe rem en dat hul opleiding vir die stuuroutomaat-­stelsel onvoldoende is.

Daarby het hulle die teenstakingstelsel as verwarrend ervaar en die handleiding as “krimineel onvoldoende”.

“Die abnormaalste ding is die spoed,” het John Cox, ’n lugvaartveiligheidskonsultant en voormalige 737-vlieënier, gesê.

“Die vliegtuig versnel heelwat vinniger as wat dit behoort te doen.”

Ses dae ná die Ethiopiese vliegongeluk is vlugopsporingsdata uitgereik wat wys hoe die vliegtuig tydens opstyging swaai, afplat en ondertoe duik – ’n soortgelyke patroon as voor die Lion Air-ongeluk.

Hoe veilig is dit om te vlieg? 

Vliegongelukke is genoeg om reisigers die skrik op die lyf te jaag, maar vliegtuie bly die veiligste vervoermiddel. 

Jou kans om in ’n dodelike vliegongeluk te beland word op een uit 83 miljoen geraam. 

Volgens Flightradar24, wat intyds met vlugte tred hou, is daar op enige gegewe oomblik tussen 8 000 en 20 000 vliegtuie in die lug, afhangend van die tyd van die dag en jaar.

Verlede jaar het 500 mense wêreldwyd in ongelukke met passasiers-  vliegtuie ge­sterf teenoor die 767 mense wat net in die feestyd in Suid-Afrika in padongelukke dood is. 

Om met ’n motor of trok te ry is 100 keer en met ’n motorfiets 3 000 keer so dodelik as om te vlieg.

familie,hartseer,rou
Familielede van die slagoffers van die vliegongeluk rou tydens die besoek van die toneel. Foto: Gallo Images/ Getty Images


Tydlyn van 'n tragedie

Sondag 10 Maart 2019

07:38: Ethiopian Airlines se vlug 302 vertrek met 149 passasiers en agt bemannings­lede op ’n vlug van net twee uur van die Bole- Internasionale Lughawe in Addis Abeba, Ethiopië, na Nairobi, Kenia.

7:41: Kapt. Yared Getachew (29), ’n vlieënier met vliegervaring van 8 000 uur, vra toestemming dat die vliegtuig mag terugdraai toe dit tot ’n abnormale spoed versnel. “Breek, breek, versoek om terug te keer,” sê hy aan twee lugverkeerbeamptes wat spook om twee ander vlugte te laat uitwyk. Lug­verkeerbeheerders sien hoe die vliegtuig op en af ruk – ’n teken van ’n gevaarlike fout.

07:42: Beamptes gee die vliegtuig toestemming om na die aanloopbaan terug te keer. Die Boeing vlieg skuins na regs, maar bly ál hoër klim en bereik vinnig ’n hoogte van 2 620 m en ’n snelheid van 705 km/h.

07:43: Alle kontak word verbreek toe die vliegtuig die militêre lugruim binnegaan. 

07:44: Vlug 302 stort in ’n veld neer naby Bishoftu, sowat 60 km van Addis Abeba, en spat uitmekaar toe dit die grond tref. ’n Ooggetuie vertel dit “het twee keer getol voor dit die grond getref en ontplof het”. ’n Ander sê die vliegtuig het “bloot uit die lug geval”. 

Skoene, bagasie, handsakke en geskeurde instap­kaarte wat oor die grond gestrooi lê, getuig van lewens wat tragies kortgeknip is. 


Statistieke

157: Die getal sterftes op Ethiopian Airlines se vlug ET302.

35: Soveel lande het burgers in dié ramp verloor.

32: Soveel Keniane het gesterf; dié land het die grootste dodetal.

21: Die getal werknemers van die Verenigde Nasies onder die slagoffers. Talle van hulle was noodlenigingswerkers.

189: Die getal sterftes in die Indonesiese ramp in Oktober 2018 in dieselfde model vliegtuig.

371: Soveel Boeing 737 MAX- vliegtuie was in gebruik tydens die Ethiopiese ramp.

5 000+: Soveel bestellings is wêreldwyd vir Boeing 737 MAX-vliegtuie geplaas, wat dit die vinnigste verkoper in die geskiedenis van lugreise maak.

12%: Die Boeing se aandeleprys het met soveel gedaal ná die Ethiopiese ramp. Dié krisis het die lugvaartvervaardiger miljarde dollars op die aandelemark gekos.


Bronne: ewn.co.za, nytimes.com, thesun.co.uk, guardian.co.uk, theverge.com, bbc.co.uk, cnn.com, reuters.com, dailymail.co.uk, graphicnews.com, flightradar24.com, boeing.com, apnews.com