Dis ’n warm middag en hier in Strandfontein op die Kaapse Vlakte drom nuuskieriges om ’n groot geel boormasjien saam.

“Julle staan waar die water nou-nou gaan val,” waarsku ’n lid van die boorspan. So asof enigiemand wat in die dorre skaduwee van Dag Zero leef oor ’n onverwagte stortbad sou kla . . .

Die boormasjien dreun eentonig. Dan hoor jy dit: die geruis van grondwater wat in die boorgat opskiet. Oomblikke later maak die water ’n pluimstert bo die boortoring.

Die toeskouers juig, want dié water uit die Kaapse Vlakte-akwifer is ’n simbool van hoop vir die dorre Kaap. Kort tevore was ons op die terrein waar werk aan die tydelike Strandfontein-ontsoutingsaanleg ook reeds begin het.

Teen Maart sal dié aanleg hopelik daagliks 2 miljoen L vars water aan die Kaapse metrogebied lewer, en teen einde Mei 7 miljoen L/dag. Elke druppel help, maar ontsouting en afvalwaterherwinning sal op kort termyn nie genoeg wees om die waterkrisis die hoof te bied nie.

In onlangse studies is bevind grondwater het baie groter potensiaal; dus is akwifers die nuwe gonswoord. Die mikpunt is dat dit eindelik 20% van die Moederstad se water sal voorsien, sê die Stad Kaapstad.

’n Akwifer, of waterdraer, is ’n ondergrondse formasie van onder meer deurdringbare klip, sandsteen of sand wat groot hoeveelhede grondwater kan bevat.

Dié syferwater bestaan uit byvoorbeeld reënwater of gesmelte sneeu en ys wat ondergronds versamel of vloei. Terwyl Kaapstad omtrent al sy drinkwater uit damme kry, kan groot akwifers beduidend tot watervoorsiening bydra.

Op die Strandfontein-onttrekkingsterrein van die Kaapse Vlakte-akwifer is Adriaan van Niekerk, boortoesighouer van die firma EDRS, hoogs tevrede met die 50 L/sek. wat die produksiegat tans lewer.

Die boortoesighouer Adriaan van Niekerk was heel beïndruk met die Strandfontein-resultate. Foto: Corrie Hansen

Maak ’n mens die sommetjies, beteken dit sowat 4,3 miljoen L/dag, mits dié gat standhoudend sal wees, waaroor daar nog nie sekerheid is nie.

Die Strandfontein-gat is net een van verskeie boorgate wat beoog word bo die Kaapse Vlakte-akwifer. Dan is daar die Tafelberggroep- en Atlantis-akwifer.

Maar gee die Strandfontein-resultate ’n mens hoop, is dit nie die einde van die Kaap se probleme nie. Al die stad se korttermynaanvullingsprojekte tesame (grondwater, ontsouting en afvalwater-herwinning) sal nie genoeg wees om Dag Zero af te weer nie, sê Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir watersake.

Volgens Xanthea is die korttermyndoelwit om Dag Zero, van wanneer Kapenaars sal moet toustaan vir hul 25 L water per dag, so lank moontlik uit te stel – hopelik tot diep in die winterreënseisoen.

Volgens haar mik die stad daarna om met aanvullingsprojekte teen Mei “minstens 120 miljoen L/dag ekstra drinkwater te lewer. Dit sal die druk op damme verlig, maar ons moet steeds water bespaar.”

As almal saamwerk, sê sy, kan Dag Zero dalk net verhoed word. Kaapstad het ná raad van onder meer die Wêreldbank sy korttermynstrategie verskuif van ontsouting na optimale akwiferbenutting.

“Ons spits baie van ons pogings op akwifers toe omdat ons daar maksimum produksie in ’n kort tydperk kan kry,” sê Xanthea.

Die Stad dra grootliks die koste van die grondwaterprojekte. Presiese syfers is nog nie beskikbaar nie, maar weens die waterkrisis het hy sy kapitaalbegroting van R5,9 biljoen in 2017 tot R7 biljoen verhoog.

Dit was veral vir korttermyn-wateraanvullingsprojekte. Die stadsraad moes geld hertoewys om hiervoor voorsiening te maak. Op langer termyn wil hy “permanente wateraanvulling” deur eksterne lenings finansier.

Adriaan lig ons in oor die proses op die Strandfontein-boorterrein: “Ons het eers oral hier rond kleiner gate geboor om te bepaal of daar genoeg water is en waar presies gate gesink moes word,” sê hy.

Die gat waaruit die water nou so lekker bruis, is 50 m diep, “maar dié masjien kan ’n gat van 30 cm wyd tot op 1,4 km boor. Hy’s effens groter as jou algemene model en kan baie meer water trek.”

Jannie Weitz, hidrogeoloog, het Huisgenoot ­vertel watter fyn beplanning en bestuur grondwaterprojekte verg. Foto: Corrie Hansen

Jannie Weitz, hidrogeoloog van Umvoto Africa, is self ingenome met die vroeë resultate hier in Strandfontein. “Ons het eers ’n rits eksplorasiegate geboor, maar nou ook met produksiegate soos dié begin,” vertel Jannie.

“Lug word eers daarin gepomp om die puin van die boorwerk uit te spoel. Volgende doen ons pomptoetse om te sien hoe die gat teen verskillende pomptempo’s reageer. Ons pomp byvoorbeeld 72 uur aaneen om te kyk wat die grondwater doen. Dit gaan oor volhoubaarheid.”

Die water word getoets vir byvoorbeeld bakterieë, ystervlakke, suur en alkali. Xanthea verduidelik die water sal dan gesuiwer word om dit drinkbaar te maak, waarna dit in die Kaapse waterspreidingsnetwerk gepomp sal word.

Waar water naby opgaardamme uit akwifers onttrek word, sal dit na ’n dam gepomp kan word en van daar na die netwerk. Maar weens die stad se totale verbruik voor die krisis (1,1 biljoen L/dag begin 2016) en inwoners se stryd om die besparingsmikpunt van 500 miljoen L/dag te haal (onlangs verlaag tot 450 miljoen), moet nog baie geboor word.

Kaapstad se grondwaterplan is gegrond op 20 jaar se navorsing en beplanning, sê Jean-Marie de Waal, ’n woordvoerder van die stadsraad. “Dis eintlik lankal in die pyplyn.”

Weens die onvoorsiene driejarige droogte is wateraanvullingsplanne “nou net vorentoe geskuif”.

Hier is die drie akwifers wat ontgin word:

DIE KAAPSE VLAKTE-AKWIFER

Dié akwifer beslaan sowat 400 km2, van Valsbaai in die suide tot die Tygerbergheuwels in die noordooste en Milnerton in die noordweste. Plek-plek is die grondwater so naby aan die oppervlak, dit skep vleilande.

En in Philippi se groenteboerderygebied gebruik kleinboere lankal vlak boorgate. Elders op die Vlakte lê die grondwater weer tot ’n kilometer diep.

Sonder opgaardamme in die omgewing sal die Vlakte-grondwater in pype na die naaste waterverwerkingsaanleg gevoer word. Benewens Strandfontein is Philippi, Wesbank, Bishop Lavis en Khayelitsha ook as onttrekkingsterreine vir die Kaapse Vlakte-akwifer geoormerk.

Die Vlakte-akwifer sal ’n groot rol in die metro se wateraanvullingstrategie speel. Op kort termyn sal boorgate van Junie vanjaar af nog 25 miljoen L/dag aan die metrogebied lewer, sê Xanthea.

Die stad wil binne twee jaar minstens 80 miljoen L/dag uit die akwifer onttrek. Die volhoubaarheid van die Kaapse Vlakte-akwifer is belangrik vir Kaapstad se langtermynwatersekerheid.

Terwyl water vir daaglikse gebruik daaruit onttrek word, sal dié akwifer ook “herlaai” word. Hiervoor sal gesuiwerde reënafvoerwater en verwerkte afvalwater na geskepte vleilande gevoer word.

Dit syfer dan af na die akwifer en dra so by tot die natuurlike ondergrondse water. Die waterkenner dr. Anthony Turton het aan Huisgenoot vertel dié herlaaiing word lank reeds met vrug in waterarm lande soos Israel ingespan.

TAFELBERGGROEP-AKWIFER (TBG)

Die naam is verwarrend: Eintlik strek dié akwifer van die Suid-Skiereiland tot by die Hottentots-Hollandberge en verder. Biljoene kiloliters water lê na raming onder die Wes-Kaapse berge.

Kaapstad het die TBG-akwifer 16 jaar gelede begin navors en eksplorasiegate is reeds in 2009 geboor. Navorsers waarsku die sensitiewe TBG-stelsel moet besonder versigtig benader word om omgewingskade te voorkom.

Tans word gate in die Helderbergkom geboor, wat beteken die grondwater kan na die Steenbras- en Theewaterskloof-dam gepomp word. Die 10 miljoen L/dag uit die eerste fase van die TBG-ontwikkelingsprojek vanjaar sal na die Steenbrasdam gaan.

Die ontwikkeling van die TBG sal nog jare voortduur, maar die produksie kan binne twee jaar tot 40-60 miljoen L/dag verhoog word.

ATLANTIS-SILWERSTROOM- AKWIFER

Dié akwifer aan die Weskus het reeds twee putvelde wat einde verlede jaar al sowat 9 miljoen L/dag gelewer het. Ingevolge Kaapstad se korttermynplan behoort die volume teen Junie vanjaar tot 25 miljoen L/dag te styg.

Die langtermynoogmerk is dat Atlantis se inwoners danksy verbeterde putvelde mettertyd net grondwaterbronne sal gebruik en glad nie meer van damwater afhanklik sal wees nie.

Ekstra bronne: Stad Kaapstad, Wêreld-natuurfonds, dws.gov.za; Foto's: Corrie Hansen, verskaf