’n Onlangse studie deur die nie-winsgewende organisasie Counter Extremism Project wat in Amerika gebaseer is, het bevind talle lede van die Islamitiese Staat (Isis) is met mekaar in verbinding gebring deur ’n Facebook-algoritme wat mense met soortgelyke belangstellings aan mekaar voorstel om vriende te raak.

Facebook, wat die afgelope ruk dikwels weens al die verkeerde redes in die nuus is, word weer eens oor die kole gehaal omdat die studie bewys dat die sosialemedia-platform moontlik terrorisme aanhelp.

Die Counter Extremism Project verduidelik minder as die helfte van die 1 000 profiele wat vir Isis-aktiwiteite bestudeer is, is ná ’n tydperk van ses maande van die platform af verwyder, berig Metro

Die skrywers van die studie sê ná hulle elkeen een persoon bevriend het wat aan Isis verbind is, is hulle oorval met voorstelle van ander volgelinge van die terreurgroep, skryf Metro verder.

Robert Postings, een van die skrywers van die verslag, het aan The Telegraph gesê: “Facebook, wat soveel moontlik mense met mekaar wil verbind, het onopsetlik ’n stelsel geskep wat terroriste en ekstremiste help om bymekaar uit te kom.”

Volgens Daily Mail het ’n woordvoerder van Facebook volgehou dat daar geen plek vir terroriste op Facebook is nie. “Ons werk aggressief om te verseker dat daar nie terroriste of terreurgroepe is wat ons webwerf gebruik nie. Ons verwyder ook alle inhoud wat terrorisme aanmoedig of ondersteun.”

Die woordvoerder het verder beklemtoon dat hul benadering tot die probleem werk, maar dat daar steeds geen maklike manier is om die probleem heeltemal hok te slaan nie.

Isis was sedert 2014 in meer as 100 terreuraanvalle wêreldwyd betrokke, berig CNN. Hieronder val onder meer ’n skietaanval in 2016 by ’n nagklub in Florida, Amerika, wat 49  lewens geëis het.