Hulle klink na ’n klompie skadelose rekenaarbleeksiele. Op hul webtuiste verkondig hulle trots “data is die dryfveer vir alles wat ons doen”. Dit klink nogal vervelig; dalk dié dat die bleeksiele by ’n Britse konsultasiefirma, Cambridge Analytica, jare lank ongesiens en ongestoord met hul konkelwerk kon voortgaan.

Terwyl hulle onder die radar gevlieg het, het hulle op miljoene Facebook-gebruikers gespioeneer. Die inligting wat hulle ingewin het, het hulle gebruik om advertensies en nuusberigte – baie daarvan vals – so te formuleer dat dit die ontvangers daarvan sou beïnvloed om op ’n bepaalde manier in ’n verkiesing te stem.

Hul onwettige bedrywighede het vermoedelik die uitkoms van twee belangrike verkiesings, albei in 2016, beïnvloed: die Britse referendum oor Brexit (Brittanje se besluit om uit die Europese Unie te tree), en die Amerikaanse presidentsverkiesing waarin Donald Trump teen alle verwagting in geseëvier het.

Die strik waarin niksvermoedende Facebook-gebruikers getrap het, was ’n skynbaar onskuldige aanlyn persoonlikheidstoets. Hulle kon dit gratis voltooi, maar dit het daartoe gelei dat Analytica se IT-ghoeroes toegang tot hul Facebook-rekeninge en dié van hul vriende gekry het, altesaam sowat 50 miljoen rekeninge.

“Ons het Facebook uitgebuit om miljoene mense se profiele te ‘oes’,” het ’n oudwerknemer van Analytica, Christopher Wylie, nou onthul.

Die inligting wat die kuberspioene ingesamel het, het hulle op die “innerlike demone” gemik van die ontvangers van hul boodskappe, bieg hy.

Dit was ’n reuse-vertrouensbreuk en ek is baie jammer dit het gebeur.
Die Facebook-stigter Mark Zuckerberg

Die hele debakel het Facebook se aandeelprys laat tuimel: Dit het R590 biljoen se markwaarde verloor. Intussen wend ontstoke Facebook-gebruikers hulle tot Twitter om gal te braak onder die hutsfrase #DeleteFacebook. Miljoene Amerikaanse kiesers tot wie se Facebook-profiel Cambridge Analytica toegang gekry het, kom nou voor ’n ongemaklike vraag te staan: Het hulle uit eie, vrye keuse vir Trump gestem of is hulle gemanipuleer – byna soos marionette in die hande van ’n onsigbare poppemeester wat hul toutjies van agter die skerms getrek het?

WAT IS CAMBRIDGE ANALYTICA?

Dié privaat konsultasiefirma bied navorsingsdienste aan korporatiewe en politieke kliënte. Op hul webtuiste maak hulle daarop aanspraak dat hulle al in meer as 100 verkiesingsveldtogte op vyf vastelande gehelp het deur data te gebruik “om die gehoor se gedrag te verander”.

Maar Christopher bestempel hul bedrywighede as niks anders nie as “sielkundige oorlogvoering”.

HOE SMOKKEL HULLE MET KIESERS SE KOP?

Analytica het die data wat hulle van Facebook-gebruikers ingewin het aanvanklik in die Amerikaanse voorverkiesing gebruik om Ted Cruz se veldtog te steun om die Republikeinse Party se kandidaat in die wedloop na die Withuis te word. Maar toe die senator van Texas uit die bus val, het hulle hul gewig agter die Trump-veldtog ingegooi.

Alexander Nix, hul uitvoerende hoof wat intussen geskors is, het in ’n Britse parlementêre ondersoek plegtig verklaar die maatskappy het geen toegang tot Facebook-data gehad nie. Christopher sê dis ’n leuen.

“Ons het geweet vir watter soort boodskappe ’n mens ontvanklik is en waar jy hulle sou ontvang. Ook hoeveel keer ons jou daaraan moes blootstel om jou denkwyse oor iets te verander. Dit is uit en uit ’n propagandamasjien.”

Analytica het amptelik hul rol in die Amerikaanse verkiesings as onbelangrik afgemaak, maar Alexander en sy kollegas het ’n ander deuntjie gesing in onderhoude met die Britse televisienetwerk Channel 4. Die verslaggewers het hulle voorgedoen as skatryk sakelui wat verkiesings in Sri Lanka wou beïnvloed om Analytica se manne aan die praat te kry.

Voor die TV-kameras spog hulle toe dat hulle met hul digitale pogings Trump se oorwinning beklink het. Alexander het verduidelik hulle het valse aktivistegroepe geskep om boodskappe op Facebook te plaas wat op spesifieke gebruikers gemik was. Hy het ook toegegee talle van hierdie boodskappe was leuens waarmee hulle mense wou oortuig om nie vir die Demokratiese Party se kandidaat, Hillary Clinton, te stem nie.

“Dit klink vreeslik, maar sulke (boodskappe) hoef nie noodwendig waar te wees nie; solank dit net geglo word,” het Alexander gesê in ’n onderhoud wat in Maart uitgesaai is. Hy het bygevoeg Analytica is bereid om geraamtes in ’n politieke teenstander se kas te soek of foonsnolle uit Oekraïne as lokaas te gebruik om ’n politikus in ’n seksskandaal te laat beland.

FACEBOOK SE REAKSIE

Die sosiale netwerk wou eers nie kommentaar lewer nie, maar toe ál meer verdoemende getuienis opduik, het die stigter Mark Zuckerberg sy stilswye verbreek. “Dit was ’n reuse-vertrouensbreuk en ek is baie jammer dit het gebeur,” het hy in ’n onderhoud met CNN gesê.

Facebook het sedert 2014 die hoeveelheid data beperk wat aan derde partye beskikbaar gestel word, het Mark probeer wal gooi. Hy het beloof die maatskappy sal ondersoek instel na apps wat toegang tot “groot hoeveelhede inligting” gehad het voor Facebook in 2014 sy nuwe maatreëls ingestel het.

Hy het ook onderneem hulle sal gebruikers inlig wie se data “misbruik” is – ook dié wat Analytica in hul visier gekry het. Maar vir talle is dit mosterd ná die maal. Mark is nou voor die Amerikaanse kongres gedaag, waar hy in ’n verhoor nog kwelvrae sal moet beantwoord. 

ONTMOET DIE BLEEKSIELE

Alexander Nix (42), geskorste uitvoerende hoof

Alexander Nix, uitvoerende hoof van Cambridge Analytica.

Hy het Cambridge Analytica in 2014 gestig en maak daarop aanspraak dat hy al aan 260 politieke veldtogte wêreldwyd gewerk het. Alexander het ’n gladde mond, en met sy kenmerkende hoëklas- Britse aksent kon hy mense ompraat om feitlik enigiets te doen, sê Christopher oor dié oudleerder van Eton, waar prinse William en Harry ook op skool was.

Steve Bannon (61), voormalige adjunkvoorsitter van Cambridge Analytica

Steve Bannon was voorheen die omstrede hoofredakteur van die regse Amerikaanse webtuiste Breitbart asook later Trump se hoofstrateeg.

Dié omstrede hoofredakteur van die regse Amerikaanse webtuiste Breitbart is in 2014 genooi om by Cambridge Analytica aan te sluit om hulle in Amerika vastrapplek te help kry. Hy het op die ou end Trump se regterhand geword en was ná die verkiesing die president se hoofstrateeg – tot hulle verlede jaar ’n uitval gehad het. Daarna het Steve na Breitbart teruggekeer.

Robert Mercer (71), belegger

Die belegger Robert Mercer het die geld geskenk om Analytica op die been te bring.

Dié kenner van kunsmatige intelligensie en een van die rykste mense in Amerika gebruik sy fortuin om konserwatiewe doelwitte te bevorder. Steve het hom luidens berigte oorreed om sowat R175 miljoen te skenk om Analytica op die been te help bring.

Christopher Wylie (28), ’n dataontleder

Dié Kanadees beskryf homself as “gay, liberaal en ’n veganis”. Hy was 24 en besig om in Londen te studeer vir ’n doktorsgraad oor die voorspelling van modeneigings toe hy by Analytica begin werk.

Christopher Wylie, ’n oudwerknemer van Cambridge Analytica.

Hy het die plan bedink om inligting van Facebook-profiele in te samel en dit tydens verkiesingsveldtogte te gebruik.

“Ons het Facebook gekraak,” sê Christopher, wat in 2014 by Analytica weg is. Na afloop van die Amerikaanse verkiesing was hy geskok oor die monster wat hy help skep het en het besluit om die fluitjie te blaas.

Aleksandr Kogan (33), dataprofessor

As dosent in sielkunde en kenner van sosialemediapsigometrie aan die gerespekteerde Universiteit van Cambridge het hy by Facebook toestemming gekry om data oor Facebook-profiele in te samel met behulp van apps wat hy ontwikkel het. Dit sou net vir navorsingsdoeleindes wees, het hy hulle verseker.

Met sy app, thisismydigitallife, het hy Facebook-gebruikers die kans gebied om ’n persoonlikheidstoets af te lê; meer as 270 000 het dit aangegryp.

Aleksandr Kogan, ’n dosent in sielkunde en kenner van sosialemediapsigometrie aan die Universiteit van Cambridge

Dit was gratis, maar in ruil daarvoor moes hulle toestemming gee dat die app toegang tot hul en hul vriende se Facebook-profiel kry. Die toegang wat Aleksandr daardeur tot 50 miljoen mense se profiele gekry het, het hy aan Analytica verkoop.

Aleksandr, wat in Moldawië (nou Moldowa) in die destydse USSR gebore is, hou vol hy het niks verkeerds gedoen nie.

“Ons het gedink ons doen iets doodnormaals.”

Bronne: Guardian.co.uk, Telegraph.co.uk, CNBC.com; Foto's: Gallo Images/Getty images, Gallo Images/Reuters, CNN