Die regse data-firma Cambridge Analytica het persoonlike inligting by maatskappye met apps op Facebook gekoop. Dit is apps wat nie net toegang het tot al die inligting van die mense wat dit gebruik nie, maar ook al hul vriende. 

Dié firma het dan die inligting gebruik om advertensies te skep wat kiesers se politieke oortuigings kan beïnvloed, het The Guardian berig

Ná vier dae van stilswye het Mark eindelik verskoning gevra vir dié reuse-privaatheidskending en beloof om ondersoek in te stel.   

Kort ná die onthullings het die hutsmerk #DeleteFacebook in die sosiale media begin draai. 

Hoe gemaak as jy Facebook wil uitvee of net minder sigbaar wil wees? En hoe voorkom jy dat Facebook jou oral op die web volg?

Hier beantwoord ons jou vrae. 

Verwyder jou van Facebook

Om jou Facebook-profiel uit te vee, is nie te moeilik nie. 

Jy gaan na Settings, dan General en dan Manage account. Hier kry jy die opsie om dit tydelik te deaktiveer. 

Laai so jou inligting af en deaktiveer jou Facebook-profiel.

Indien jy dit permanent wil uitvee  –  volg hierdie kortpad

Facebook beveel ook aan dat jy eers al jou inligting aflaai voor jy dit permanent uitvee. 

Verhoog jou privaatheid

Gaan na Settings en kies Privacy. Hier kan jy self besluit hoe sigbaar jy en jou aktiwiteite op Facebook is. 

Jy het ook die opsie om jouself minder sigbaar op die internet te maak deur te stel dat jou Facebook-profiel nie opkom wanneer mense jou naam in ’n soekenjin opsoek nie. 

Hier kan jy jou privaatstellings verander.

Gaan ’n stap verder

Facebook volg jou oral op die internet, selfs wanneer jy nie ingeteken is nie, omdat jy toegang gee aan derdeparty-apps en Facebook toelaat om jou met adverteerders te verbind. 

Het jy al ooit op Facebook ingeteken en dan sien jy oral advertensies vir ’n bergfiets nadat jy die vorige dag op Gumtree na een gekyk het? Net so. 

Maar jy kan dit verander deur na Settings te gaan en dan Apps te kies. Hier kan jy die toegang verwyder wat jy aan apps gegee het om jou te volg en met jou inligting om te gaan. Let wel, jy sal toegang verloor tot enige apps waarvoor jy Facebook gebruik om aan te meld. 

Só kan jy die toegang afsny wat jy aan derde party-apps gegee het.

Indien jy dié stelling wil verander, maak eers seker dat jy ook met jou e-posadres kan aanmeld.

Klik daarna op Ads

Hier kan jy keer dat Facebook jou met adverteerders verbind op grond van die inligting op jou profiel en waarop jy klik. 

Hier kan jy kies watter inligting van jou Facebook met adverteerders deel.

Let wel, selfs al verwyder jy jou van Facebook, sal heelwat van jou inligting steeds ’n paar maande lank beskikbaar wees en boodskappe wat jy aan vriende gestuur het, sal steeds in hul inmandjie voortleef. 

Die derdeparty-apps vir wie jy toegang gegee het tot jou inligting is ook onder geen verpligting om daarvan ontslae te raak nie. Hulle kan dit steeds gebruik en verkoop maande en selfs jare nadat jy van Facebook verdwyn het.