Gavin Watson, uitvoe­rende hoof van die diens­te­
Gavin Watson, uitvoe­rende hoof van die diens­te­maatskappy ­Bosasa, is onlangs in ’n motor­on­ge­luk buite die O.R. Tambo-lug­hawe dood. Foto verskaf

Vir sy familie en vriende was hy ’n man van integriteit wat hom in die apartheidsjare vir gelyke regte beywer het. Maar ander het hom as skynheilig beskou – iemand wat hom as ’n “goeie ou” voordoen terwyl hy omkoopgeld betaal om winsgewende staatstenders van miljarde los te slaan.

Terwyl sy aanhangers gehoop het op ’n dag wanneer die grootbaas van die dienste­maatskappy Bosasa ’n geleentheid sou kry om homself van skuld te onthef, het sy kritici daarna uitgesien dat Gavin Watson eindelik moes rekenskap gee oor sy twyfelagtige sakebedrywig­hede en die staatskaping waarby sy maatskappy betrek is.

Maar nou sal daardie dag natuurlik nooit aanbreek nie.

Die sakeman is einde verlede maand op die ouderdom van 71 dood toe die motor waarin hy gery het buite die ­O.R. Tambo- Internasionale Lughawe in Johannesburg teen ’n betonpilaar gebots het.

Die wrak. Foto: Sowetan/Veli Nhlapo
Die wrak. Foto: Sowetan/Veli Nhlapo

En in die dood, soos in die lewe, verdeel hy steeds mense in twee kampe: dié vir hom en dié teen hom.

Intussen bly die vrae oor sy motor­ongeluk spook.

Het Gavin dalk sy eie lewe geneem om sy verskyning voor adjunkhoofregter Raymond Zondo se kommissie van ondersoek na staatskaping vry te spring?

Sy fa­milie vermoed onraad. Hulle meen sy dood was ’n sluipmoord wat na ’n ongeluk laat lyk is; daarom het hulle ’n voorste kenner van ongeluksrekonstruksies, Konrad Lotter, aangestel om ondersoek in te stel.

“Enigiets is moontlik,” sê James-Brent Styan, skrywer van die nuwe boek The Bosasa Billions, waarin beweer word Gavin het die hebsug van politici skaamteloos uitgebuit.

Nadat James-Brent die skokkende getuienis van die voormalige Bosasa-bedryfshoof Angelo Agrizzi vroeër vanjaar voor die Zondo-kommissie gehoor het, het hy gedink niks kan hom meer verbaas nie – tot hy op Maandag 26 Augustus die nuus van Gavin se dood gehoor het.

Gavin het na bewering regerings­kontrakte met omko
Gavin het na bewering regerings­kontrakte met omkoopgeld verkry.

“Die tydsberekening is beslis uiters ­verdag,” sê hy.

“Ek sou sê jy kan nie die moontlikheid van misdadige betrokkenheid uitsluit nie, maar sy dood kon ook bloot ’n ongeluk gewees het. Hy was 71 en onder ­geweldige stres.”

Mense met wie James-Brent gepraat het toe hy navorsing vir sy boek gedoen het, het Gavin beskryf as ’n “streng skoolhoof wat sy maatskappy bestuur het asof dit ’n kultus was”.

Ander na aan hom hou steeds vol hy was ’n slagoffer in die sage wat hulle beweer deur Angelo en ander georkestreer is.

’n Nabye familielid, wat op voorwaarde van anonimiteit met ons praat, hou vol Gavin het vrygewigheid tot die uiterste gevoer. Afgesien van een of twee motors, twee huise in Port Elizabeth en ’n meent­huis het hy glo nie veel aardse ­besittings gehad nie.

Die sakeman het ook nie vir sy vrou, Leigh Anne, en hul drie kinders ’n fortuin nagelaat nie, sê die familiebron.

Pleks daarvan, sê die familielid, het ­Gavin geld vir weeskinders geskenk en ook ’n skenking van R1 miljoen aan die gesinstelevisienetwerk TBN gemaak.

Hy het ook glo ’n geloofskonferensie ge­­finansier en ruim donasies aan ver­skeie Christelike organisasies gemaak.

“Hy het nie eerbewyse gesoek nie,” sê die familielid.

Die familielid erken hy het die moontlikheid oorweeg dat Gavin homself om die lewe gebring het die oomblik toe hy van sy dood hoor.

“Ek het vermoed hy het dalk gedink die net span ál nouer om hom en het moeg geword daarvoor.”

Hy vermoed ook Gavin het dalk sy gesin probeer beskerm.

“Ek het gedink dit kon ’n ongeluk, selfdood of moord gewees het. Maar nou weet ek vir seker daar skuil iets meer onheilspellends daaragter; daarom sluit ons nie gemene spel uit nie.”

Gavin, ’n ANC-lid, by oudpres. Jacob Zuma. Foto ve
Gavin, ’n ANC-lid, by oudpres. Jacob Zuma. Foto verskaf

Daar was mense wat daarop uit was om Gavin te vernietig, sê die familielid.

“Sy grootste fout was dat hy mense vertrou het wat hy nie moes nie.”

’n Dag voor sy dood was ­Gavin op ’n familiebyeenkoms in Johannesburg. Daardie naweek het die Watsons by die huis van Gavin se broerskind, Jared Watson, vergader om Jared se dogter se eerste verjaardag te vier.

Jared se pa, Valence Watson, het uit Port Elizabeth gevlieg om dit by te woon.

“Natuurlik was Gavin se gesin ook daar,” vertel Valence aan Huisgenoot.

“Dit was ’n lieflike en blye dag. Dit was ’n dag soos enige ander dag in die Watson-­familie.”

Hy sê sy broer was in ’n goeie luim en “biddend”. “Hy het altyd gebid voor hy van ’n byeenkoms vertrek het.”

'n Foto uit 1987 van (van links) Ronnie, Va­lence
'n Foto uit 1987 van (van links) Ronnie, Va­lence en Gavin Watson. Foto verskaf

Valence het vroeg die Maandagoggend na Port Elizabeth teruggevlieg. Toe hy daar land, het hy sy foon aangeskakel en die tyding van Gavin se dood gekry.

Hy dink nie sy broer het sy eie lewe ­geneem nie.

“Waarom sou hy, om hemelsnaam? Hierdie aanval is kinderspeletjies ­vergeleke met wat ons in die 1970’s en ’80’s ­(as anti-apartheidsaktiviste) deurgemaak het.”

Gavin se dood het die familie geruk, sê Valence.

“Ná my ouers se dood het hy die clan – soos ons dit genoem het – gelei en natuurlik rou ons oor hom.”

Hy hou vol sy broer was nie ’n ryk man nie.

Gavin het nou wel ’n BMW X5 besit, wat R1 miljoen werd is, maar in ’n ­onderhoud met BizNews het Jared onthul sy oom het laas in Februarie vanjaar dié luukse motor bestuur.

Blykbaar het Gavin weens ’n meganiese probleem nie daarmee gery nie en ­eerder ’n vlootmotor van sy maatskappy gebruik. Dit was glo ook die motor waarmee hy in die ongeluk was.

Jared sê hy weet nie hoekom Gavin vroeg daardie Maandagoggend lughawe toe is nie.

Gebedsbyeenkoms

African Global Operations (voorheen bekend as Bosasa) verskaf sekuriteitsdienste by die lughawe, en hy was dalk op pad om van die personeellede te gaan ontmoet of ’n gebedsbyeenkoms te lei,  sê hy.

“Ek dink die werk het om sesuur begin, en soms sou hulle vooraf ’n gebedsbyeen­koms hou en ’n lofsang sing,” vertel Jared.

“Ek weet nie of hy dalk daarvoor daarheen gegaan het omdat hy toe al wakker was nie. Ons weet eintlik in dié stadium niks.”

Op ’n gedenkdiens by die Little Falls-­Christensentrum in Roodepoort het ­Gavin se oudste seun, Roth, hulde gebring aan sy pa en hom as ’n man van “onwrikbare geloof” beskryf.

Hy het vertel wanneer sy pa hom gebel het, het Gavin altyd daarop aangedring om die oproep met ’n gebed af te sluit.

“Pa het altyd ’n gawe gehad om op die verkeerde tyd te bel,” het hy bygevoeg.

“Stel jou voor jy bid hardop in die middel van ’n gang in Woolworths of in Virgin Active terwyl jy oefen.”

Sy oorlede broer het graag gimnasium toe ­gegaan, vertel Valence. Gavin was fiks en altyd aan die gang. Dit was ’n nagmerrie om by hom te probeer kers vashou, onthou hy.

Grootwordjare

Gavin, Valence en hul broers, Ronald en Daniel (“Cheeky”), het op ’n plaas naby Somerset-Oos in die Oos-Kaap groot­geword. By hul pa, Daniel John, ’n boer en lekeprediker, het hulle glo geleer alle mense is in God se oë gelyk.

Ná skool het die broers klerewinkels in Port Elizabeth en op die naburige Uitenhage geopen en by die stryd teen apartheid betrokke geraak.

Jared het Gavin onlangs gevra hoe ­hy die stres hanteer van die ondersoek na Bosasa se bedrywighede vergeleke met toe hy in die 1970’s en ’80’s ’n poli­tieke aktivis was.

James-Brent meen Gavin het homself dalk as ’n hedendaagse Robin Hood ­beskou.

“Hy het gelag en gesê: ‘Hoe vergelyk jy ’n media-aanval op my met die hele land wat vervolg is?’ ”

James-Brent meen Gavin het homself dalk as ’n hedendaagse Robin Hood ­beskou.

“Dit sou verklaar hoe hy diep godsdienstig kon bly al is groot bedrae kontant aan ’n groot netwerk invloed­ryke politici uitgedeel en ander gunste aan hulle bewys.”

Eindelik het Gavin se sondes hom ­ingehaal, sê James-Brent.

“Dieselfde netwerke wat hy deur so baie jare ontwikkel het, het eindelik ’n strop geword wat vinnig ál stywer gespan het.”

EKSTRA BRONNE: MG.CO.ZA, News24.co.za, The Bosasa Billions, biznews.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.