Volgens die familie se woordvoerder, Nicolize van der Walt, wil die familie die polisieondersoek so gou moontlik afgehandel hê.

Nicolize sê aan Huisgenoot Francois se vrou van meer as 40 jaar, Herzola, was in die hoofslaapkamer van die pastorie toe sy skote hoor. “Sy het onmiddellik opgetree en die nooddienste en polisie ontbied met die hulp van bure,” sê sy.

Francois en Rupert is albei op die toneel dood verklaar. “Die familie is baie hartseer en daar is uiteraard baie vrae, maar hulle hou vas aan hul geloof en wil die nalatenskap van hul geliefdes eer,” sê Nicolize. 

Francois en Herzola het vanjaar hul 41ste huweliksherdenking gevier.

In ’n verklaring vra die familie die publiek om nie afleidings te maak nie.

“Konsentreer asseblief op die mooi nalatenskap van ds. Van Heerden… die familie probeer tot hul sinne kom.”

Francois word oorleef deur sy vrou, Herzola, en sy jongste seun, Carl. Rupert het ’n 20 maande oue seuntjie.

“Die seun was sy oupa se oogappel. Naas hom was ds. Francois se grootste vreugde om muurbal te speel en tyd saam sy gesin deur te bring,” sê Nicolize. 

“Rupert het in Johannesburg gewerk en het oor naweke by sy ouerhuis deurgebring. Hy was lief vir die natuur, tuinmaak, aksiesport, was joviaal, gek na mense en het ’n baie klein hart gehad,” lees die verklaring. 

Vriende en gemeentelede is geskok deur die nuus. 

Liezel Daniell, wat op Stilfontein grootgeword het, sê: “My brein weier om te glo dat hy so iets sou doen. Hy was die rustigheid self. So sag en baie geliefd. Hy was ons dominee toe ek grootgeword het en het my getrou.

Ans Kotzé ken die gesin goed. “Ek was vir meer as 30 jaar ’n lid van die gemeente voor ek weggetrek het. Francois is die edelste man wat ek geken het,” sê sy snikkend. Sy vertel sy het klein "Rupie" opgepas toe hy 'n kind was. “Die mooiste kind. Ek het die familie lanklaas gesien.” 

Irene Vosloo Blom is al vir byna 30 jaar met die gesin bevriend.  “François was inderdaad ’n rots in sy gesin,  vriendekring en die hele gemeenskap. Vir Rupert het ons liefgehad soos ons eie,” sê sy. 

Dr. Andries Kritizinger is reeds 44 jaar vriende met Francois hy beskryf hom as “’n man uit een stuk, ’n man met integriteit, ’n reus.” 

Ds. Francois van Heerden was 'n geliefde figuur in Stilfontein.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê hulle vermoed dat Francois sy seun geskiet het en toe homself, maar die motief agter die voorval is onbekend. “Ons kan nog nie amptelik die name van die oorledenes bekendmaak nie, want hul lyke is nog nie uitgeken nie,” sê sy. 

’n Gesamentlike gedenkdiens vir Francois en Rupert word eerskomende Saterdag om 11:00 by die NG Kerk-sentraal in Stilfontein gehou.