Voor hom op die tafel lê die paar handgeskrewe blaaie uit ’n skooloefenboek – die aantekeninge wat hy oor sy aanneemkind se lewe gemaak het. Hier waar hy in die wegneemrestaurant in Delft, Kaapstad, sit, raak Hein Leonard skielik stil.

Hy laat sy kop sak.

’n Oomblik sonder woorde ondanks al die woorde wat hy in die skoolboek geskryf het. Minder as ’n week gelede was sy aanneemkind nog ’n blakend gesonde, lewenslustige eerstejaar-Matie wat die studentelewe en haar studie vir ’n B.Sc.-graad in mikrobiologie terdeë geniet het.

Maar toe, vroegoggend op Sondag 26 Mei, kry Hein en sy vrou, Charmaine, die tyding: Die 19-jarige Taylië Jaap het twee verdiepings uit die venster van die Serruria-koshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) geval.

Nou lê Taylië met ernstige beserings in die Tygerberghospitaal in Kaapstad nadat sy so hard op haar kop geval het dat die dokters eers gevrees het sy kan breindood wees.

Taylië het deur dié venster van ­Maties se Serruria-­koshuis geval. Foto: Edrea Du Toit/Rapport

Sy herken darem weer haar “uncle Heini” en “Atta”, soos sy haar aanneemouers noem, en haar ouboet, Rual Jaap, maar teen druktyd was die omvang van die akademiese uitblinker se breinbeserings nog onseker.

“Vir haar het dit net oor studeer gegaan,” vertel Charmaine oor die jong vrou wat so diep in haar hart ingekruip het. “Sy reken die outjies sal maar ’n bietjie moet wag as hulle haar wil hê.”

Vir Taylië se geliefdes is die besonderhede van die gebeure steeds ’n raaisel. Vrae oor wat presies met hul lieflingkind in die oënskynlike veiligheid van ’n universiteitskoshuis gebeur het, bly deur hul gedagtes maal.

Was dit ’n fratsongeluk? Of was gemene spel betrokke? En hoekom moes dit met hul Lala – hul bynaam vir Taylië – gebeur, ’n pragmens wat in haar jong lewe al soveel uitdagings die hoof moes bied?

“Ons kon nog by niemand die regte inligting kry nie,” sê Hein. By die polisie en die US hoor hulle bloot die saak word ondersoek.

Vir hom en Charmaine is dit vreemd dat ’n hangertjie wat Taylië altyd om haar nek gedra het en waarmee sy selfs saans geslaap het op die vloer van die betrokke koshuiskamer – nie haar eie kamer nie – aangetref is.

Sy sou ook moeilik deur die klein skuifvensters van die kamer kon spring; sy sou daardeur moes kruip. Van een ding is hulle seker: Hul Taylië het nooit selfdoodneigings gehad nie. Dit het volgens alle aanduidings goed gegaan met haar by Maties.

“Sy het ’n groot vriendekring daar en het nogal van haar medestudente aangemoedig,” vertel Hein, ’n geriewebestuurder by ’n Kaapstadse winkelsentrum. “Ons het nie één keer iets negatiefs van haar gehoor nie,” beaam Charmaine. “Sy was baie gelukkig daar.”

‘Ons het elke sent bymekaargemaak om haar die beste matriekbal te gee’

Die herinnerings aan hoe hy verlede jaar ou vraestelle vir Taylië uitgedruk het sodat sy vroegtydig vir haar matriekeindeksamen kon begin voorberei, laat Hein se keel skielik toetrek.

Hy knyp lank sy wenkbroue tussen duim en wysvinger vas voor hy met rooi oë weer opkyk en ’n nattigheid wegvee.

“ ‘Sal uncle dit asseblief vir my doen; dis baie drukwerk?’ het sy nog gevra.” Charmaine sit ’n vertroostende hand op sy skouer.

By hulle om die tafel is Rual en dié se skoonma, Charmaine Maarman, wat die afgelope paar jaar ook ’n moederfiguur vir Taylië was. “Ons het elke sent bymekaargemaak om haar die beste ervaring moontlik met haar matriekbal te gee,” vertel Hein verder.

En sy het toe daardie aand so mooi gelyk, mymer hy terwyl sy vrou na een van talle foto’s op die tafel wys: hul pragtige meisiekind, kompleet soos ’n prinses in ’n ligpienk uitrusting.

Die lewe het Taylië soms stief behandel voor sy matriek aan die Sekondêre Skool Schoonspruit op Malmesbury met vlieënde vaandels geslaag het, sê hulle.

Haar ma, Alicia Jaap, wat alleen vir Taylië en Rual gesorg het, het vir ’n bakkery op Lambertsbaai gewerk. “Sy het die beste koeke gebak; almal was mal daaroor,” vertel Hein, oorspronklik ook van dié dorp aan die Kaapse Weskus.

Klein Taylië het reeds daar aan die Laerskool P.W. de Bruin goed presteer, en toe haar ma in 2010 na Delft in Kaapstad verhuis, so ook aan die Laerskool The Hague.

’n Jaar later het haar ma ná ’n wrede aanranding ’n ernstige beroerte gehad, wat haar aan haar regterkant verlam gelaat en haar van haar spraak beroof het. “Nadat Alicia uit die hospitaal ontslaan is, het sy by ons kom aansterk,” sê Hein.

“Lala het intussen dapper by The Hague aangegaan en van 2014 by die Hoër Tegniese Skool Delft akademies presteer. Sy het ook in netbal uitgeblink en haar ma se liefde vir toneelspel geërf.”

matriekafskeid,student,rok
Taylië in haar matriekafskeid-uitrusting. Foto: Facebook/ Taylië Chamondré Jaap

Alicia se gesondheid het verder verswak en in 2016 is sy in haar slaap dood. Daarna het Hein en Charmaine Taylië wetlik aangeneem. Die dood van hul ma was vir Rual en Taylië ’n groot slag, maar “sy het dit oorkom en net harder gewerk”, hervat Hein.

Op aanbeveling van haar onderwysers is sy vir die laaste twee jaar van haar skoolloopbaan na Schoonspruit, waar sy ’n groter vakkeuse gehad het. Daar het sy in wiskunde, tale en drama uitgeblink en boonop hoofmeisie geword.

“Sy’s ’n gebore leier,” sê Hein trots.

Sy het matriek met twee onderskeidings geslaag. Omdat sy so veelsydig is, het sy oor haar studierigting gewik en geweeg, maar besluit ’n B.Sc. in mikrobiologie maak vir haar die meeste sin wat ’n loopbaan betref. Toe sy die goeie nuus kry dat sy aan die US aanvaar is, was sy oorstelp van vreugde.

“Ek het vir haar gesê: ‘Mammie moes nou hier gewees het; sy sou ook baie trots gewees het,’ ” onthou Rual.

“Dit het my diep geraak dat ’n kind wat deur soveel drama in haar lewe is bo uitgekom het,” voeg Charmaine Maarman by.

“Sy hou altyd die blink kant bo. En sy kan ’n mens laat lag, hoor!”

In die laaste naweek dat sy by die huis in Delft was, het Taylië vir Moedersdag haar aanneemma met ’n Pyrex-oondbak en ’n paar bedsokkies bederf. Maar vir dié was dit ’n nog groter geskenk toe Taylië vir haar sê: “ ‘Atta, jy is nie net my Atta nie; al die jare is jy my mammie ook,’ ” vertel Charmaine Leonard, diep aangedaan.

Teen omstreeks vyfuur die Sondagoggend van Taylië se raaiselagtige ongeluk het Hein die skoknuus met ’n ompad gehoor, want daar was eers verwarring by die koshuis oor wie die naasbestaandes is wat hulle in kennis moet stel.

Nadat sy sowat 7 m ver uit die venster tot op ’n baksteenplaveisel geval het, is sy eers na die Stellenbosch-hospitaal gehaas voor sy – steeds bewusteloos – na Tygerberg oorgeplaas is.

Die eerste beeld van sy suster daar in die hospitaal is in Rual se gedagtes afgeëts. “Oral was bloed, aan die verbande aan haar kop en haar kussing. Sy’t pype in haar mond gehad. Haar arm was verbind, maar ons kon sien dit was gebreek.”

Taylië se Atta wou flou word toe sy haar so sien; Rual moes haar orent hou. Die dokter het dit sagkens aan hulle probeer oordra dat sy moontlik breindood verklaar sou moes word as sy nie binne drie uur reageer nie.

Dis deur genade van Bo dat sy op dieselfde dag self begin asemhaal en effens beweeg het, glo hulle. Die Dinsdag kon Hein haar al op sy stem sien reageer met ’n oogknip of effense kopknik.

’n Dag of wat later was Charmaine Maarman by haar bed toe sy haar eerste woorde sê: “Ek wil jellie en custard en juice hê . . .”

Teen druktyd het sy steeds binneaarse voeding gekry, maar daar was tekens dat sy op die herstelpad is. “Sy ken jou en kan jou op jou naam noem. Sy’s net ’n bietjie deurmekaar,” sê Rual.

Hein, Charmaine en Rual Jaap, Taylië se ouboet, sukkel nog om dié vreeslike terugslag vir hul “Lala” te verwerk, maar is ook vol hoop oor haar herstelpad. Foto: Jacques Stander
Foto: Jacques Stander

Sy’t selfs vyf dae ná die ongeluk saggies saamgesing toe hy vir haar ’n Chris Brown-gunsteling op ’n tablet speel.

Haar dokter by Tygerberg het kort voor druktyd aan Hein gesê daar is in daardie stadium “geen bloeding op haar brein nie; hulle probeer die werwels in haar rug in posisie terugdruk, maar daar is geen verlamming nie”.

Haar verwronge regtergewrig is intussen geopereer om dit met plate en skroewe te heg. “Oor moontlike breinbeserings kon hulle toe nog nie sê nie, maar die swelling het goed gesak,” sê Hein.

En terwyl die onsekerheid en vrae oor die ongeluk steeds aan hulle vreet, bly Lala se mense hoop sy sal volkome herstel. Want ondanks al die swaarkry het sy so hard gewerk om haar toekomsdrome te verwesenlik – dié lieflingkind wat hulle al so trots gemaak het.

  • Martin Viljoen, die mediabestuurder van die Universiteit Stellenbosch, sê by navraag hul sentrum vir studentegemeenskappe is in gereelde kontak met Taylië se familie. Taylië se koshuisvriende ontvang ook deurlopende ondersteuning van die universiteit. Intussen sê kapt. FC van Wyk, ’n woordvoerder van die polisie, aan Huisgenoot: “Ons Stellenbosse speurders ondersoek nog die omstandighede waarin die student haar beserings opgedoen het.” Dus kon daar teen druktyd “geen verdere inligting oor verwikkelinge in die saak verskaf word nie”.