Ruan het Vrydag 6 Maart by sy neef, Morné Myburgh, in Parys in die Vrystaat gekuier toe die ongeluk gebeur het.

“Ruan en sy nefie het by ’n plaaslike kroeg gekuier en om middernag Breëstraat oorgesteek,” vertel sy broer, Ronnie. “Die grys Corsa of Bantam bakkie het toe vir Ruan getref. Die motoris het gestop om te sien wat gebeur het en toe weggejaag.”

Ruan is na ’n Bloemfonteinse hospitaal geneem, maar hy is 'n dag ná die ongeluk oorlede.

“Hoe los jy iemand net so aan sy lot oor? Die persoon moet vasgetrek word.”

Ruan
Ruan Voges is Vrydag in ’n tref-en-trap ongeluk dood. Foto: verskaf

Volgens Ronnie het daar al 'n paar ooggetuies na vore gekom en wag hulle op nog inligting.

“Daar was glo kringtelevisie in die straat en die beeldmateriaal is ook aan die polisie verskaf.”

Ruan se gesin bied ’n beloning aan enigiemand wat inligting het wat kan lei tot die inhegtenisneming van die bestuurder.

Mense wat inligting het is gevra om Rodney te skakel by 072-613-9925. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.